Ondersoek na die SABC raad – die jongste


‘n Parlementêre ad hoc-komitee stel tans ondersoek in na die bevoegdheid van die SAUK raad
Die komitee het getuienis aangehoor oor die stand van sake.

Hier is die jongste inligting oor die verloop van die tweede sessie van die verhoor

13 Januarie 2017

08:00 Intussen sal die parlementêre ad hoc-komitee wat die SAUK ondersoek sy sitting vanoggend hervat. Die voormalige SAUK raadsvoorsitters Ben Ngubane en Ellen Tshabalala sal getuig. Albei is deur voormalige raadslede en bestuurshoofde betrek by die agteruitgang van die rade waarvan hulle voorsitters was. Ngubane sal na verwagting om halftien vanoggend begin getuig, en Tshabalala sal daarna aan die beurt wees. Hulle sal die laaste getuies wees om voor die komitee te verskyn.

09:00 Die parlementêre ad hoc-komitee wat die bevoegdheid van die voormalige SAUK-raad ondersoek, het verduidelik hoekom geen verdere getuies voor die komitee sal verskyn nie. Die voormalige SAUK raadsvoorsitters, Ben Ngubane and Ellen Tshabalala sal vandag die laaste getuies wees. Die voorsitter van die ad hoc-komitee, Vincent Smith, sê mense wat nog wil bydra, het tot 24 Januarie om skriftelike voorleggings te doen. Die SAUK se parlementêre redakteur, Vuyani Green, en die voormalige bestuurshoof van die openbare uitsaaier, Jimi Matthews is genooi om skriftelike voorleggings te doen.

10:00 Die voormalige voorsitter van die SAUK-raad, Ben Ngubane getuig tans voor parlementêre ad hoc-komitee oor die SAUK. Ngubane en nog ‘n voormalige raadsvoorsitter, Ellen Tshabalala is die laaste getuies wat voor die komitee sal verskyn. Die voorsitter van die komitee, Vincent Smith, het vroeër gesê mense wat nog tot die ondersoek wil bydra, het tot 24 Januarie om skriftelike voorleggings te doen.

11:00 Die voormalige SAUK-raadsvoorsitter, Ben Ngubane het die parlementêre ad hoc-komitee oor die bevoegdheid van die SAUK-raad gekritiseer omdat hulle toegelaat het dat mense aantygings oor hom maak sonder dat hy teenwoordig was om homself te verdedig. Hy sê hy sal stappe oorweeg indien daar bevindings teen hom gemaak word. Ngubane is die tweede laaste getuie wat voor die komitee getuig. Hy moet reageer op verskeie bewerings teen hom deur voormalige raadslede en die voormalige waarnemende bestuurshoof, Phil Molefe. Ngubane het ook gesê dat die komitee hom te min tyd gegee het om voor te berei.

 

Die komitee is onder voorsitterskap van Vincent Smith (foto links)
(Herhalings van nuusberigte soos wat dit op RSG se nuusprogram verskyn het, is uitgehaal om die lees van hierdie artikel te vergemaklik. Die berigte sluit nie inligting oor alle getuienis in nie, en is dus nie heeltemal volledig nie, maar gee saam met die videogrepe ‘n aanuiding van die hoogtepunte van die verhoor.)

Hier is die SAUK-verslae oor hoe die verhoor dag-tot-dag verloop het van 12 Desember tot 15 Desember.

12 Desember 2016

Die komitee het groot kommer uitgespreek omdat die SAUK se raad en uitvoerende bestuur gefaal het en selfs geweier het om sekere dokumente wat die raad aangevra het, te verskaf. Lees meer.

7.00 Sewe getuies sal na verwagting vandag hul saak stel tydens die sitting van die parlementêre ad hoc-komitee wat ondersoek doen na die bevoegdheid van die SAUK-raad. Die getuies sluit vier van die sogenaamde SAUK-8-joernaliste in. Vandag se verrigtinge val saam met die Hooggeregshof in Kaapstad se uitspraak in die DA se aansoek om Hlaudi Motsoneng se aanstelling as groephoof van korporatiewe aangeleenthede as irrasioneel en ongeldig te verklaar. Die uitvoerende regisseur van SAFM, Krivani Pillay; die parlementêre verslaggewer, Lukhanyo Calata, die vryskutjoernalis, Vuyo Mvoko en die ekonomiese redakteur van die SAUK, Thandeka Qhubule, sal namens al agt joernaliste getuig.
Die voorsitter van die ad hoc-komitee, Vincent Smith sê die komiteelede wil weet hoe die SAUK-8 geskors, afgedank en daarna weer aangestel is. Die eerste drie getuies wat vanoggend sal getuig, is die voormalige SAUK-bestuurders vir arbeidsverhoudinge, menslike hulpbronne en tegnologie.

8.00 Vorige berig netso herhaal.

9.00 Drie voormalige bestuurders van menslike hulpbronne, arbeidsverhoudinge en tegnologie getuig vanoggend oor of die SAUK voldoen het aan sy beleid vir arbeid en menslike hulpbronne. Die ad hoc-komitee wat die SAUK Raad ondersoek, sit vandag sy werksaamhede voort. Die hoofbestuurder van arbeidsverhoudinge, Madiwe Nkosi (foto regs), die voormalige groep uitvoerende hoof van menslike hulpbronne, Jabulani Mabaso, en voormalige groep uitvoerende hoof van tegnologie, Sipho Masinga, sal eerste getuig. Die sogenaamde SAUK-8 sal vanmiddag getuig oor hul skorsing, waarna hulle afgedank en weer aangestel is.

11.00 Die SAUK wil Donderdag getuienis voor die Parlementêre ad hoc-komitee lewer en die getuies wat reeds getuig het, onder kruisondervraging neem.  Dit is deur die voorsitter van die komitee, Vincent Smith bekend gemaak toe hy die ondersoek vanoggend geopen het. `n Brief van die SAUK se prokureurs, Ncube Incorporation sê dit is in belang van regverdigheid en onpartydigheid. Smith sê die SAUK wil al die getuies behalwe die Openbare Beskermer, OKOSA en die ouditeur-generaal onder kruisondervraging neem. (Die versoek is gerig deur onder andere James Aguma (foto links bo), waarnemende CEO van die SAUK.) Volgens Smith is daar egter reëls wat bepaal hoe die Nasionale Vergadering die werking en beheer van sy interne funksies beheer.
Smith sê voorts die uitstap van die voorsitter van die SAUK-raad, Mbulaheni Maguvhe en ander amptenare dui op minagtig van die Parlement. Hy sê die komitee behou die reg om te bepaal hoe die ondersoek hanteer word.

12.00 Vorige berig deels herhaal.

13.00: Berig oor SAUK se versoek oor ondervraging herhaal.

18.00

  • Die ad hoc-komitee wat die SAUK ondersoek het vandag gehoor hoe New Age Media, wat deur die Gupta-familie besit word, van plan was om die SAUK oor te neem. Die voormalige groep uitvoerende hoof van tegnologie, Sipho Masinga, het getuig dat die Gupta’s ‘n voorstel aan Hlaudi Motsoeneng (foto links) gemaak het om SAUK Nuus oor te neem. Masinga moes vrae van advokaat Ntuthuzelo Vanara (foto regs) beantwoord.

  • Die ekonomiese redakteur van die SAUK, Thandeka Qgubule, het intussen aan die ad hoc-komitee wat die SAUK ondersoek, gesê verslaggewers was gefrustreerd oor die besluit om nie gewelddadige betogings te dek in aanloop tot die plaaslikeregeringsverkiesing. Qgubule is een van vier SAUK-verslaggewers wat namens die SAUK-8 getuig. Sy sê tydens die betogings in die Pretoria het sy by die nuushoof gepleit om verslaggewers toe te laat om hul werk te doen. Mense wou weet of hulle hul kinders moet skool toe stuur en watter roete om werk toe te ry, maar die verslaggewers is nie toegelaat om oor die betogings verslag te doen nie.

  • `n ANC-lid van die Parlementêre ad hoc-komitee wat die SAUK-raad ondersoek, Patrick Chauke (foto regs) het vroeër gesê die Minister van Staatsveiligheid, David Mahlobo mag dalk versoek word om voor die komitee te kom getuig oor die intelligensieagentskap se betrokkendheid by die SAUK. Die voormalige bestuurder vir arbeidsverhoudinge, Madiwe Nkosi het aan die komitee gesê dat die agentskap geskorste bestuurslede by die openbare uitsaaier ondersoek het. Chauke sê dit is `n ernstige kwessie as staatsveiligheid by arbeidsverhoudinge betrokke raak. Hy dink die minister behoort dit te verduidelik.

19.00

  • Die uitvoerende regisseur van aktualiteit by SAFM, Krivani Pillay, het voor die parlementêre ad hoc-komitee getuig dat Hlaudi Motsoeneng en die voormalige waarnemende nuushoof, Jimi Matthews (foto links), aan joernaliste gesê het om hulle by die redaksionele besluite te hou of te bedank. Pillay is een van vier getuies wat namens die SAUK-8 getuig. Pillay het vertel hoe RSG se uitvoerende regisseur van aktualiteit, Foeta Kriege, Motsoeneng gevra het om te bewys dat gewelddadige betogings tot die vernietiging van eiendom lei. Pillay beskryf hoe Motsoeneng op Kriege se kommentaar reageer het, ondersteun deur Matthews.

  • Die voormalige groep uitvoerende hoof van tegnologie, Sipho Masinga (foto regs), het voor die ad hoc-komitee wat die SAUK ondersoek getuig dat New Age Media, wat deur die Guptas besit word, die SAUK wou oorneem. Masinga sê die Gupta’s het aan Hlaudi Motsoeneng voorgestel om SAUK Nuus oor te neem. Masinga moes vrae van Ntuthuzelo Vanara beantwoord.


  • Verslag oor Thandeka Qhubule herhaal.

21.00

  • Die uitvoerende regisseur van SAFM, Krivani Pillay (foto regs), het die Parlement meegedeel dat plaaslike musikante die stryd vir plaaslike inhoud met die SAUK-8 se stryd om redaksionele onafhanklikheid verwar. Pillay is een van die vier joernaliste wat in die parlementêre ondersoek na die sake van die SAUK getuig. Sy sê terwyl hulle teenkanting vir redaksionele onafhanklikheid ontvou, het die musikante ‘n perskonferensie gehou. Pillay sê die musikante sê hulle sal hul lewens vir Hlaudi Motsoeneng gee en het die SAUK-8 daarvan beskuldig dat hulle teen transformasie is.

  • Pillay het vroeër getuig dat Hlaudi Motsoeneng en die voormalige waarnemende nuushoof, Jimi Matthews, aan joernaliste gesê het om hulle by die redaksionele besluite te hou of te bedank.

  • Intussen het Thandeka Qgubule, die ekonomiese redakteur van die SAUK, ook die minister van kommunikasie, Faith Muthambi, die skuld gegee vir die probleme by die SAUK. Sy sê in teenstelling met die vereistes van die Uitsaaiwet wat ministeriële inmenging beperk, meng die minister al meer in by die werksaamhede van die SAUK. Dit is verder bevestig met die vervanging van die akte van oprigting en statuut.

23.00 Berig oor Krivani Pillay oor musikante herhaal.

13 Desember 2016

5.00

  •  Berig oor Krivani Pillay oor musikante herhaal.

  • Pillay sê deur nie die onafhanklikheid van die openbare uitsaaier te verdedig nie, sal dit verreikende gevolge inhou en beteken dat miljoene Suid-Afrikaners van belangrike nuus ontneem word. Sy sê die SAUK-8 het gekies om daarvoor op te staan, want hulle voel dat die nuuskantoor verdeeld en wanhopig is en gekritiseer word deur mense aan wie hulle moet verantwoording doen. Pillay sê indien niemand ‘n standpunt inneem nie, sal mense in magsposisies al meer inmeng totdat daar niks oor bly nie.

6.00

  • Berig oor Krivani Pillay oor musikante herhaal.

  • Berig oor Krivani Pillay oor musikante, deel 2, herhaal.

7.00 Die voorsitter van die SAUK-raad, Mbulaheni Maguvhe, moet vandag voor die ad hoc-komitee verskyn wat die SAUK se sake en die raad se bevoegdheid ondersoek. Die SAUK se sekretaris, Theresa Geldenhuys, die voormalige raadslid Bongani Khumalo en die voormalige hoof van aankope, Madoda Shushu, sal ook na verwagting getuig. Shushu het aanvanklik versoek om in camera te getuig, maar die komitee het die versoek geweier. Maguvhe is gedagvaar om voor die komitee te verskyn, nadat hy vroeër by die verrigtinge uitgestap het. Hy moet vieruur vanmiddag getuig.

8.00

  • Vorige berig herhaal.

  • ‘n Voormalige inhoudsredakteur van die SAUK, Vuyo Mvoko, het gisteraand voor die parlementêre ad hoc-komitee getuig dat die SAUK toegelaat het dat sy hulpbronne gebruik word om die TV-kanaal ANN7 te bou wat in regstreekse mededinging met die openbare uitsaaier is. ANN7 is deur die Gupta-maatskappy, TNA Media, van stapel gestuur. Mvoko was een van vier joernaliste wat gister getuig het voor die komitee wat ondersoek doen na die SAUK-raad se bevoegdheid. Volgens Mvoko het SAUK programme soos Morning Live die koste gedra vir die uitsending van TNA se ontbyt-inligtingsessies. Hy sê uit die inkomste verdien uit borgskappe vir tafels by dié ontbyte, het die SAUK nie ‘n sent gekry nie, maar die miljoene rand is aan TNA betaal.

9.00

Intussen sal die voorsitter van die SAUK-raad, Mbulaheni Maguvhe, vanmiddag voor die ad hoc-komitee verskyn. Hy moet om vieruur getuig. Nog getuies vandag is die SAUK se sekretaris, Theresa Geldenhuys, die voormalige raadslid Bongani Khumalo en die voormalige hoof van aankope, Madoda Shushu. Shushu het aanvanklik versoek om in camera te getuig, maar die komitee het die versoek geweier.

11.00 Die voormalige SAUK-raadslid, Professor Bongani Khumalo (foto regs) sê sy uitgebreide ervaring wat hy by ander instansies opgedoen het, het hom ongemaklik gemaak met die situasie by die openbare uitsaaier. Khumalo was vanoggend die eerste getuie voor die Parlementêre ad hoc-komitee wat die SAUK-raad ondersoek. Hy was ‘n raadslid vanaf Oktober 2013 tot Januarie 2015 en voorsitter van die Menslike Hulpbronne-komitee. Hy het verwys na die tydperk onder die bestuurshoof, Lulama Mokhobo (foto links bo) en die voorsitterskap van Ellen Tshabalala (foto links). Khumalo sê die gespanne situasie tussen die raad en die SAUK se uitvoerende bestuur was opmerklik. Hy sê daar was ook ‘n gebrek aan dissipline aan albei kante.

12.00 Getuienis is opnuut vanoggend deur die parlementêre ad hoc-komitee aangehoor dat spanning en verdeeldheid in die SAUK-raad en die uitvoerende gesag die bestuur in die korporasie lamgelê het. ‘n Voormalige SAUK raadslid, Bongani Khumalo het aan die komitee gesê dié verdeeldheid in die raad is die rede waarom aanbevelings van die Openbare Beskermer teen Hlaudi Motsoeneng nooit geïmplementeer is nie. Khumalo sê hy was ongemaklik met die situasie by die SAUK.

13.00 Getuies voor die parlement se ad hoc-komitee oor die SAUK het vanoggend verder lig gewerp op die omvang van die beweerde ongerymdhede en wanbestuur binne die openbare uitsaaier. ‘n Voormalige raadslid, Bongani Khumalo het onder meer gesê die Raad was verdeeld oor die inwerkingstelling van die Openbare Beskermer se bevindings oor Hlaudi Motsoeneng. Hy sê sommige raadslede wou dadelik die aanbevelings in werking stel, terwyl ander daarteen gekant was. Khumalo het ook gesê die voormalige bestuurshoof, Lulama Mokhobo se gesag is ondermyn deur Motsoeneng en dat die mag in Motsoeneng gesetel was. Khumalo sê Motsoeneng het hom aan geen prosedures gesteur nie en dat hy die ondersteuning van die destydse raadsvoorsitter, Ellen Tshabalala geniet het. Die tweede getuie van die dag is die voormalige hoof van aankope, Madoda Shushu.

14.00 Vorige twee berigte deels herhaal.

15.00: Die voormalige hoof van Aankope by die SAUK, Madoda Shushu het aan die parlement se ad hoc-komitee oor die SAUK gesê die vereiste prosesse is nie gevolg by die bou van ‘n ateljee ter waarde van 43 miljoen rand nie. Hy sê dit was een van die onregmatige kontrakte wat hy gedwing was om te onderteken. Shushu sê die kontrak is sonder sy medewete gesluit. Hy sê hy het die ongerymdhede uitgewys en gesê hy sal nie die kontrak teken wanneer hy dit ontvang nie. Shushu het onlangs bedank nadat hy vir tien maande geskors was. Die maatskappysekrataris, Theresa Geldenhuys getuig tans.

16.00

  • Die SAUK se maatskappysekretaris, Theresa Geldenhuys (foto links) het om verskoning gevra vir haar deelname aan die uitstappery verlede week toe die SAUK-afvaardiging die parlementêre komitee se sitting verlaat het. Sy sê egter sy staan steeds by die voorsitter en enigste oorblywende raadslid, Mbulaheni Maguvhe omdat sy grondwetlike regte geskend is. Maguvhe het in die sitting geëis dat die voorleggings van onder meer die Ouditeur-Generaal en die Openbare Beskermer in braille aan hom verskaf word. Geldenhuys sê intussen die verslag van die Openbare Beskermer het tweespalt in die SAUK-raad veroorsaak.

  • Maguvhe het vroeër by die Parlement aangekom en sal na verwagting binnekort voor die ad hoc-komitee verskyn wat sy bevoegdheid ondersoek. Parlementslede het die speaker in die Nasionale Vergadering versoek om te beveel dat `n dagvaardiging vir Maguvhe uitgereik word nadat hy verlede week uit die ondersoek gestap het. Mughave was uitdagend nadat sy aansoek teen die parlementêre ondersoek in die hooggeregshof misluk het. Sy verskyning volg na vyf dae van getuienis oor die beweerde ongerymdhede en wanbestuur by die openbare uitsaaier.

17.00

  • Vorige berig oor Theresa Geldenhuys herhaal.

  • Vorige berig oor Maguvhe herhaal.

18.00 Die SAUK se groepbestuurder vir menslike hulpbronne, Mohlolo Lephaka moes tydens die sitting van die Parlementêre ad hoc-komitee sy verwysing na die komitee as `n boendoehof (sien video hieronder), terugtrek.

Die voorsitter van die komitee, Vincent Smith het geëis dat Lephaka sy stelling herroep. Smith het aanvanklik die openbare uitsaaier se maatskappysekretaris, Theresa Geldenhys gevra of sy een van die mense in die SAUK-afvaardiging was wat na die ondersoek as `n boendoehof verwys het. Die verwysing is glo gemaak nadat die SAUK-afvaardiging verlede week uit die ondersoek gestap het. Lephaka is deur Smith beveel om sy verwysing onvoorwaardelik terug te trek.
Hlaudi Motsoeneng se uitlatings op die uitloop-mediakonferensie:

19.00

  • Die voorsitter van die SAUK-raad, Mbulaheni Maguvhe het aan die Parlementêre ad hoc-komitee gesê dat hy besluit het om regsverteenwoordigers te gebruik omdat hy die enigste oorblywende lid van die raad is en daarop geregtig is. Lede van die komitee het indringende vrae aan Maguvhe gestel hoekom prokureurs aangewys is om hom en die openbare uitsaaier te verteenwoordig, terwyl die raad nie `n kworum gehad het om so `n besluit te neem nie. Hy is gepeper met vrae oor wie werklik die besluit geneem het. Maguvhe het ontken dat dit hy was.

  • Berig oor Lephaka se terugtrekking herhaal.

    21.00 Die voorsitter van die SAUK-raad, Mbulaheni Maguvhe het aan die Parlementêre ad hoc-komitee gesê hy is van radio afhanklik en weet nie of die openbare uitsaaier beeldmateriaal van geweldadige betogings gebruik nie. Die LP van die UDM, Nqabayomzi Kwankwa wou weet hoekom die SAUK nie gehoor gegee het aan die bevel van Okosa dat die besluit oor beeldmateriaal van geweldadige betogings opgehef moet word nie. Maguvhe sê hy is net bewus dat die verbod opgehef moes word en so ver hy weet, het dit gebeur. Lede van die komitee wat uitsaaier se raad ondersoek het indringende vrae aan Maguvhe gevra, onder meer oor wie werlik besluit het om prokureurs aan te stel om hom en die SAUK te verteenwoordig. Die verhoor sal môre hervat word.

23.00 Die voorsitter van die SAUK-raad, Mbulaheni Maguvhe gee homself `n punt van agt uit tien en sê Hlaudi Motsoeneng doen baie goeie werk by die openbare uitsaaier. Maguvhe moes vandag bontstaan voor die Parlementêre ad hoc-komitee nadat voormalige raadslede en joernaliste vroeër getuig het dat Motsoeneng die SAUK met `n ystervuis regeer. Hy het net lof vir Motsoeneng gehad. Op vrae oor die geweldige koste om Motsoeneng by die uitsaaier te hou, sê Maguvhe hy glo nie dit raak belastingbetalers nie. Die Kaapstadse hooggeregshof het gister beslis dat Motsoeneng nie weer by die SAUK kan werk voordat die Openbare Beskerm se verslag ter syde gestel sou word of `n nuwe openbare tugverhoor hom bevoeg sou verklaar nie.

14 Desember 2016

5.00 Laaste berig oor Maguvhe herhaal.

6. 00

  • Die Minister van Kommunikasie, Faith Muthambi sal waarskynlik vanmiddag voor die Parlementêre ad hoc-komittee getuig wat ondersoek doen na die SAUK-raad. Drukgroepe soos die Right 2 Know-veldtog, Media Monitoring Africa en die SOS-koalisie (klik hier vir ‘n verklaring deur die SOS-koalisie) sal waarskynlik ook vandag voor die komitee verskyn. Die enigste oorblywende lid van die openbare uitsaaier se raad, Mbuhaleni Maguve het gister getuig. Hy het aan die komitee gesê hy was nie bewus dat senior joernaliste geskors is nie. Die Right 2 Know-veldtog sal waarskynlik eerste getuig. Muthambi sal oor aantygings teen haar deur voormalige raadslede moet antwoord. Die voormalige raadslid, Bongani Khumalo het vroeër vertel hoe hy deur Muthambi uitgeskop is. Sy sal waarkynlik ook vrae moet beantwoord oor toekomsplanne om die krisis by SAUK op te los.

  • Berig oor Maguvhe  se agt uit tien herhaal.

  • Die voorsitter van die Parlementêre komitee het gister die SAUK se maatskappysekretaris, Theresa Geldenhuys, gekritiseer vir haar onvermoë om by die openbare uitsaaier te sorg dat daar aan vereistes voldoen word. Smith het verwys na verskillende gevalle waar Geldenhuys nie haar magte gebruik het om die SAUK se belange te beskerm nie. Hy het onder meer gesê dat sy haar plig versuim het om nie die uitsaaier te beskerm toe regte tot die SAUK se argiewe aan Multichoice verkoop is nie.

7.00 Vorige berig oor Faith Muthambi herhaal. Vorige berig oor Theresa Geldenhuys herhaal.

8.00 Vorige berig oor Maguvhe en mediaberigte herhaal.

9.00 Verskeie mediadrukgroepe sal binnekort hul saak voor die parlementêre ad hoc-komitee oor die SAUK stel. Die groepe sluit in die Right 2 Know-veldtog, Media Monitoring Africa en die SOS koalisie. Die minister van Kommunikasie, Faith Muthambi is ook vanmiddag in die warm stoel. Sy sal waarskynlik ‘n toekomspad vir die SAUK moet uitspel om die krisis in die openbare uitsaaier op te los. Dit was gister weer ‘n dramatiese dag in die komitee toe die voorsitter van die SAUK-raad, Mbulaheni Maguvhe, laat blyk het dat hy onbewus was van talle gebeure by die SAUK. Die SAUK se Groephoof van Menslike Hulpbronne, Mohlolo Lephaka, moes ook om verskoning vra omdat hy na die parlement as a boendoe-hof verwys het.

10. 00 Die parlementêre ad hoc-komitee oor die SAUK het sy werksaamhede hervat met die voorsitter, Vincent Smith, wat sy kommer uitgespreek het oor berigte dat van die SAUK-8 joernaliste steeds dreigemente ontvang. Hy het sy diepe kommer daaroor uitgespreek en sê sulke dreigemente is ook ‘n dreigement teen en ‘n aanval op ‘n demokratiese parlement. Vier van die SAUK-8 het vroeër die week voor die komitee getuig. Intussen sal drukgroepe soos die Right 2 Know-veldtog, Media Monitoring Africa and the SOS-koalisie vanoggend getuig, met die minister van Kommunikasie, Faith Muthambi vanmiddag.

11.00 Herhaal vorige berig.

12.00 ‘n Koördineerder by die Right2Know-veldtog, Micah Reddy, het aan die Parlement se ad hoc-komitee oor die SAUK gesê huidige en voormalige personeellede het te midde van ‘n klimaat van vrees by die korporasie die veldtog genader oor intimidasie en teistering deur die SAUK-bestuur. Hy sê dit het dreigemente en strafmaatreëls ingesluit teen enigeen wat nie gehoor gee aan opdragte deur Hlaudi Motsoeneng nie. Reddy het die gebeure by die SAUK bestempel as ‘n vorm van staatskaping, onder leiding van Motsoeneng.

13.00

  • Die organisasie Media Monitoring Africa het sy oproep herhaal dat die SAUK ‘n hoofstuk-9 instelling word. ‘n Hoofstuk-9 instansie is ingestel om grondwetlike demokrasie te versterk, soos vervat in Hoofstuk 9 van die Grondwet. ‘n Direkteur, William Bird, het aan die Parlement se ad hoc-komitee oor die SAUK gesê dit is nie voldoende dat amptenare by die SAUK deur slegs die komitee verwyder word nie. Hy sê die wet moet verander word om in die toekoms ‘n soortgelyke krisis by die korporasie te verhoed. Bird sê die SAUK se onafhanklikheid moet strenger beskerm word.

  • Vorige berig oor Micah Reddy herhaal.

14.00: Die SOS-koalisie het aan die Parlement se ad hoc-komitee oor die SAUK gesê daar is ‘n direkte verband tussen die wanfunksionele SAUK-raad en die minister van Kommunikasie, Faith Muthambi. Die koalisie sê Muthambi het die gewysigde redaksionele beleid bevestig as wettig, en het op verskeie geleenthede ingegryp met rampspoedige gevolge vir die korporasie. Muthambi sal na verwagting binnekort begin om voor die komitee te getuig.

15.00

  • Die polisie het SAUK-joernaliste wat doodsdreigemente ontvang het, gevra om dit onmiddelik by die polisie aan te meld. Die voorsitter van die parlement se ad hoc-komitee oor die SAUK, Vincent Smith het die aankondiging gemaak nadat dit aan die lig gekom het dat van die SAUK 8-joernaliste wat gister voor die komitee getuig het, dreigemente ontvang het. Smith het ‘n brief voorgelees wat hy van die polisie se personeelhoof, Leon Mbangwa ontvang het. Volgens die brief kan die polisie slegs optree indien die dreigemente aangemeld is. Smith het vanoggend sy kommer oor die dreigemente uitgespreek.

  • Intussen het die minister van Kommunikasie, Faith Muthambi (foto links) begin om voor die komitee te getuig. Dit volg nadat die SOS-koalisie vroeër aan die komitee gesê het daar is ‘n direkte verband tussen die wanfunksionele SAUK-raad en Muthambi. Die koalisisie sê Muthambi het die gewysigde redaksionele beleid bevestig as wettig, en het op verskeie geleenthede ingegryp met rampspoedige gevolge vir die korporasie. Muthambi het ontken dat sy by die openbare uitsaaier se redaksionele beleid ingemeng het.


16.00

  • Die minister van Kommunikasie, Faith Muthambi het voor die parlement se ad hoc-komitee oor die SAUK ontken dat sy ooit by die openbare uitsaaier se redaksionele beleid ingemeng het. Sy het ontevredenheid uitgespreek oor wat sy as onregverdige aanvalle op haar integriteit bestempel het. Dit volg nadat die SOS-koalisie beweer het dat Muthambi die SAUK se besluit om nie beeldmateriaal van gewelddadige betogings uit te saai nie, gesteun het. Muthambi ontken dat daar enige sensorskap by die openbare uitsaaier plaasgevind het. Sy sê daar het breedvoerige openbare raadpleging plaasgevind voordat die nuwe redaksionele beleid in werking gestel is, en dat die relevante owerhede daarvan in kennis gestel is.Muthambi het ook die DA daarvan beskuldig dat die party nie die vier swart SAUK 8-joernaliste ondersteun het nie. Muthambi het voor die ad hoc-komitee gesê sy het bewyse dat die DA slegs vier van die geskorste joernaliste gesteun het. Sy sê ‘n memorandum wat die DA by haar kantoor ingedien het noem slegs vir Jacques Steenkamp, Foeta Krige, Suna Venter en Krivani Pillay. Sy sê Thandeka Gqubule, Busi Ntuli, Lukhanyo Calata en Vuyo Mvoko word nie genoem nie.

     

  • Berig oor polisie herhaal.

    Minister Muthambi is krities ondervra deur dr Makhosi Khoza, ANC LP. (foto regs)

 

17.00

  • Die DA-parlementslid op die ad hoc-komitee oor die SAUK, Phumzile van Damme het die minister van Kommunikasie, Faith Muthambi se bewerings dat die DA slegs vier van die sogenaamde SAUK 8 gesteun het, verwerp. Muthambi het vroeër gesê ‘n memorandum wat die DA by haar kantoor ingedien het noem slegs vir Jacques Steenkamp, Foeta Krige, Suna Venter en Krivani Pillay. Sy sê die swart joernaliste, Thandeka Gqubule, Busi Ntuli, Lukhanyo Calata en Vuyo Mvoko, word nie genoem nie. Van Damme het Muthambi daarvan beskuldig dat sy versuim het om die doodsdreigemente teen Venter en Krige te veroordeel.

  • Vorige berig oor Muthambi herhaal.

    18.00 Die minister van Kommunikasie, Faith Muthambi moes moeilike vrae voor die parlement se ad hoc-komitee oor die SAUK beantwoord oor of die SAUK se argiewe aan MultiChoice verkoop is. Muthambi het ontken dat die argiewe verkoop is, en sê die SAUK moes aan die parlement verslag gedoen het oor die kwessie. Die omstrede ooreenkoms van 500-miljoen rand tussen die SAUK en MultiChoice het kritiek uit verskeie oorde ontlok. Programme uit die SAUK se argiewe word op die SABC Encore-kanaal op DSTV gebruik. Muthambi sê sy verstaan dat die ooreenkoms aangegaan is omdat die SAUK 60 miljoen rand se befondsing nodig gehad het om vir die oorskakeling na digitale televisie te betaal. Tweede deel van berig herhaal.

19.00

  • Laaste berig oor Faith Muthambi herhaal.

  • Muthambi het ook gesê die SAUK-Raad is daarvoor verantwoordelik om verslag te doen oor die salarisverhogings van uitvoerende amptenare van die SAUK. Sy is deur ‘n lid van die ad hockomitee gevra of dit korrek is om die uitvoerende hoof van korporatiewe sake , Hlaudi Motsoeneng, se salaris deur meer as ‘n miljoen rand oor ‘n tydperk van vyf jaar te verhoog. Die MInister het geantwoord dat dit nie haar besluit was nie. Sy het daarop gewys dat salarisverhogings binne die mandaat en voorskrifte van die Tesourie-regulasies behoort te wees. Indien iemand ‘n verhoging kry buite die voorskrifte, sou dit ongeregverdig wees onder die omstandighede.

 

21.00 Die Minister van Kommunikasie, Faith Muthambi, het opnuut bevestig dat sy nooit die woorde, ” Ubaba loves him” gebruik het in ‘n oënskynlike verwysing na president Jacob Zuma en Hlaudi Motsoeneng van die SAUK nie. Die Minister het voor die Parlementêre ondersoek na die SAUK verskyn waar sy klippe gekou het. ‘n Lid van die EFF in die ad hockomitee, Fana Mokoena, wou weet wat haar verhouding met Motsoeneng is. Die Minister het volgehou dat dit bloot professioneel is. Sy het ook die opmerking verwerp en gesê sy het aan ‘n voormalige Raadslid gesê dat sy dit nooit gesê het nie. Muthambi het ook gesê daar is bewyse dat sy nooit met Raadslede gesprek gevoer het nie.

23.00 Die Parlement se ondersoek na die SAUK en sy Raad sal na verwagting môre nog een getuie aanhoor, ‘n lid van die SAUK-Raad, en dan verdaag vir die Kersreses. In die tyd sal lede werk aan ‘n konsepverslag. Die komitee sal weer op 10 Januarie byeenkom om die konsepverslag voor te berei, waarna dit na die SAUK gestuur sal word vir sy insette. Die Minister van Kommunikasie, Faith Muthambi, is ook oor haar verhouding met die Guptafamilie uitgevra, waarna sy gesê het sy het geen verhouding met hulle nie. Sy het ook gesê die transaksie met hulle koerant, New Age, is gesluit lank voordat sy minister geword het.

15 Desember 2016

5.00 Die Minister van Kommunikasie, Faith Muthambi, het in haar getuienis voor die Parlementêre ondersoek oor die SAUK en die Raad gesê die Korporasie se voormalige hoof van Aankope, Madoda Shushu, het versuim om korrupsie aan te meld. Shushu het vroeër in sy getuienis gesê onreëlmatige kontrakte van meer as 100 miljoen rand is toegeken sonder behoorlike verkrygingsprosedures. Muthambi sê Shushu moes die wetgewing oor die Voorkoming van en Bekamping van Korrupte Bedrywighede gebruik het om bewerings van korrupsie aan te meld, in plaas daarvan om dit by die Tesourie te rapporteer. Volgens haar moes hy dit volgens wetgewing by die polisie aangemeld het. Sy het Shushu as ‘n medepligtige in die misdaad bestempel, omdat die korrekte prosedures nie gevolg is en dit ook nie by die polisie aangemeld is nie.

6.00 Die Parlement se ondersoek na die SAUK en sy Raad sal na verwagting vandag nog een getuie aanhoor, ‘n voormalige raadslid, Rachel Kalidaas, en dan verdaag vir die Kersreses. Die moontlikheid dat nog raadslede voor die komitee kan getuig, is egter nie uitgesluit nie. Lede sal intussen werk aan ‘n konsepverslag. Die komitee sal weer op 10 Januarie byeenkom om die verslag voor te berei vir die SAUK se insette. Res van berig is herhaling. Berig

7.00 ‘n Voormalige nie-uitvoerende lid van die SAUK Raad, Rachel Kalidaas, sal na verwagting vandag die laaste getuie wees wat voor die ad hoc-komitee oor die SAUK sal getuig. Kalidaas gaan blykbaar getuig oor bestuurskwessies en besluite wat in die Raad geneem is toe sy nog ‘n raadslid was. Sy is een van die Raadslede wat verwyder is. Verlede week het nog ‘n oudraadslid, Krish Naidoo, die verwydering van Kalidaas en twee van haar kollegas, Hope Zinde en Ronny Lubisi, as onwettig bestempel. Die moontlikheid dat nog raadslede geroep kan word om te getuig, is nie uitgesluit nie. Die komitee sal ná afloop van vandag se getuienis verdaag vir die Kersreses.

8.00

  • Die SAUK het meer as ‘n maand tyd om sy getuienis, reaksie en getuieverklarings skriftelik aan die Parlement se ad hoc-komitee beskikbaar te stel. Die komitee ondersoek die uitsaaier en die raad. Die SAUK se waarnemende bestuurshoof, James Aguma, het gister versoek om skriftelike, in plaas van mondelinge, voorleggings aan die komitee te doen. Die voorsitter van die komitee, Vincent Smith, het Aguma ingelig dat die komitee sy konsepverslag oor die uitslag van die ondersoek aanstaande jaar aan die SAUK sal stuur vir sy kommentaar.

  • Berig herhaal.

9.00 Die ad hoc-komitee oor die SAUK het sy laaste sitting vir die jaar in die Parlement hervat. ‘n Voormalige raadslid, Rachel Kalidass sal vandag geroep word. Die moontlikheid bestaan dat nog raadslede geroep kan word. Die komitee sluit vandag sy sittings vir die jaar af en sal weer op 10 Januarie voortgaan. Die SAUK moet oor meer as ‘n maand sy skriftelike insette aan die komitee lewer.

10.00 ‘n Voormalige SAUK-raadslid, Rachel Kalidass het voor die ad hoc-komitee oor die SAUK begin getuig dat sy vanaf 2013 ‘n raadslid was en in 2015 onregmatig verwyder is. Sy sê die voormalige raadsvoorsitter, Ellen Tshabalala het die reaksie op die Openbare Beskermer se verslag saam met haar regsverteenwoordiger voorberei, maar raadslede was daarvan uitgesluit. Kalidass sê sy het die wyse waarop dit hanteer is, gekritiseer. Sy sê daar was ook geen mandaat van die raad om die regsverteenwoordigers, Mchunu-prokureurs, aan te stel nie. Kalidass het getuig dat die prokureurs se regsmening oor die O.B. se verslag rakende Hlaudi Motsoeneng se aanstelling as Bedryfshoof, hom van enige blaam onthef het. Kalidass het die O.B. se verslag vir die eerste keer op die Beskermer se webwerf te siene gekry en dit onder raadslede en die SAUK se maatskappysekretaris versprei.

11.00

  • ‘n Voormalige SAUK-raadslid, Rachel Kalidass, het voor die Parlement se ad hoc-komitee oor die SAUK getuig dat die minister van Kommunikasie, Faith Muthambi voorgestel het dat Hlaudi Motsoeneng permanent as Bedryfshoof aangestel word. Nog ‘n voormalige raadslid, Ronnie Lubisi (foto regs), het vroeër die week dieselfde getuienis voor die komitee gelewer. Kalidass sê die minister het op daardie stadium uitgewys dat indien iemand vir só lank in ‘n waarnemende hoedanigheid werk, sonder enige voorval, dat ‘n redelike verwagting geskep word om so ‘n indiwidu permanent aan te stel. Kalidass het getuig dat dit die raad in ‘n moeilike posisie geplaas het. Die komitee se voorsitter, Vincent Smith, het egter uitgewys dat hoewel die minister, Motsoeneng se aanstelling gesteun het, sy ná die Appèlhof se beslissing gesê het dat die hof se besluit geïmplementeer moet word.

  • ‘n Vorige berig oor Kalidass herhaal.

12.00 ‘n Vorige berig oor Kalidass herhaal.

13.00

  • Die voormalige SAUK-voorsitter, Ben Ngubane het ingestem om voor die ad hoc-komitee na die SAUK te getuig wanneer die komitee sy werksaamhede op 10 Januarie hervat. Die voorsitter van die komitee, Vincent Smith sê hy gaan ook probeer om nog ‘n voormalige voorsitter, Ellen Tshabalala se getuienis in te pas. Smith sê die komiteelede sal intussen begin om ‘n konsepverslag oor die verrigtinge saam te stel.

  • ‘n Vorige berig oor Kalidass herhaal.

14.00 Die parlement se ad hoc-komitee oor die SAUK het sy werksaamhede tot 10 Januarie verdaag. Die laaste getuie van die dag was die voormalige SAUK-raadslid, Rachel Kalidass wat getuig het dat die regsadvies wat voor die Raad gedien het oor die Multichoice-ooreenkoms oor die SAUK-argiefmateriaal, geïgnoreer is. Die voorsitter van die komitee, Vincent Smith het ook bekendgemaak dat die voormalige SAUK-raadsvoorsitter, Ben Ngubane (foto links) ingestem het om voor die komitee te verskyn wanneer die komitee se werksaamhede hervat word. Die komiteelede sal intussen begin om ‘n konsepverslag van die verrigtinge saam te stel.

15.00 Vorige berig herhaal.

Meer inligting:

http://www.sabc.co.za/news/a/ff7044004f4af4a6b7b8f75d9cc72cdd/Seven-witnesses-expected-to-testify-in-SABC-inquiry-20161211

https://www.dailymaverick.co.za/article/2016-12-12-sabcmotsoeneng-coup-ad-hoc-committee-wants-minister-of-state-security/#.WFeDbJJ-K1s