Oom Paul gesels oor Clarkson


Oom Paul Uithaler by die twee Wolfkop-susters, Ester en Mary-Ann. Foto: Mariska Spoormaker

Oom Paul se groot onthou oor die klein sendingdorpie in die Tsitsikamma

Oom Paul Uithaler is al jare lank ‘n inwoner van Uitenhage, maar hy onthou sy grootwordjare op Clarkson, ‘n Morawiese Sendingstasie-dorpie in die Tsitsikamma langs die N2, nog baie goed.

Hy het onder meer aan Mariska Spoormaker vertel dat sy pa vir 37 jaar die pos te perd op Humansdorp gaan haal het.

Baie mense weet nie eers van dié bekoorlike plekkie nie, want dit is mos 120km per uur daarby verby op die N2-snelweg.

Luister na Oggend op RSG na dié gesprek.

Meer oor Clarkson

Bron: Wikipedia

Clarkson is ‘n voormalige sendingstasie van die Morawiese Sendinggenootskap in die Tsitsikamma (streek). Dit is in 1839 deur biskop H.P. Hallbeck met 5 kleurlinggesinne van Enon (‘n Morawiese sendingstasie in die Suurberge naby Kirkwood in die Sondagsriviervallei) en ‘n Fingo-hoofman met sy gevolg van kleinboere begin. William Wilberforce het 200 pond van sy vriend Thomas Clarkson ontvang vir gebruik op die nuwe sendingstasie. Clarkson was ‘n groot yweraar vir die afskaffing van slawerny. Eerw. Halter van Enon het die stasie uitgelê met Kerkstraat as die enigste straat met die bruinmense aan die een kant en die Fingo’s aan die ander kant van die straat. Desember 1840 is die eerste kerkgebou ingewy.

Eerw. Küster was van 1839 tot 1859 in beheer. Eerw. Zimmermann was met sy 25 jaar die langste op Clarkson werksaam. Die sendelinge het aanvanklik ook as onderwysers op die stasie gewerk en het hul dienste dikwels ook aan die omgewing se boere aangebied. So is boere se kinders deur hulle gedoop en is mediese hulp verleen. Goeie koringoeste, inheemse hout en die gebruik van die watermeul deur die blanke boere van die omtrek het geld opgelewer sodat in 1864 ‘n skool gebou kon word. Tydens beide wêreldoorloë is die Duitse leiers van die sendingstasie geïnterneer. Veral na die Tweede Wêreldoorlog het probleme met swak kerkbywoning, veediefstal, drankmisbruik en dranksmokkelary toegeneem. In 1970 het die Morawiërs hulle onttrek aan die beheer van die dorpie en in 1996 is die eiendomsreg aan die gemeenskap oorgedra.

In 1976 moes die Fingo’s volgens die Groepsgebiedewet na die Ciskei verhuis, maar het in 1994 weer na Clarkson en omliggende plase teruggekeer. Woonbuurte is in die dorpie vir hulle uitgelê. Weens beperkte werkgeleenthede is die werkloosheidsyfer hoog en die misdaad op ‘n onaanvaarbare hoë peil.