Rus in Vrede, Ian


Ian Wessels

Huldeblyk: Ian Wessels (14 April 1960 tot 19 April 2021)

Die bekende RSG-radiopersoonlikheid Ian Wessels is gistermiddag in Johannesburg oorlede. Hy het veral bekendheid verwerf as aanbieder van RSG se gewilde inbelprogram Loslip en die regsprogram Regsake. Hy was 61.

Ian is in 2019 met pankreaskanker gediagnoseer, maar het vriende en kollegas verstom met sy positiewe ingesteldheid ten spyte van die erns van sy siekte. Hy was tot drie weke gelede nog op sy pos agter die mikrofoon by RSG.

Ian het ‘n B.A. LL.B aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf en ‘n paar jaar as staatsaanklaer gewerk. Nadat hy sy toga vir die radio-mikrofoon verruil het, was hy ook deel van die bestuurspanne van Radio Helderberg en OFM voordat hy in 2009 by RSG aangesluit het. As gekwalifiseerde kopieskrywer van radio-advertensies en stemkunstenaar was hy ook nou betrokke by die advertensiewêreld.

Ian se boek Loslippig het in 2010 verskyn.  Hy was ook die samesteller van twee RSG-bundels met humoristiese vertellings. Genade! Edelagbare: Humor en die Hof het in 2016 verskyn, en Lag Sonder Grense in 2018. In 2011 het Ian die eerste keer die verhoog betree in die eenmankomedie Ek’s Anoniem wat landswyd by kunstefeeste opgevoer is. Hy was sedertdien gereeld op kunstefeesverhoë te sien, en was ook ‘n gewilde seremoniemeester en motiveringspreker wat landswyd opgetree het.

Hy sal nie net onthou word vir sy passie vir radio nie, maar ook vir sy sin vir humor. Ian was ‘n positiewe mens wat geglo het dat jou lewe deur jou keuses bepaal word, en het graag gesê dat ‘n mens nie kan kies wat met jou gebeur nie, maar wel hoe jy daarop gaan reageer.

Ian word oorleef deur sy vrou Liesel, met wie hy 18 jaar getroud was, sy ouers en ‘n broer en skoonsuster.  Hy sal privaat veras word.

Só het Ian destyds vertel oor sy boek Lag sonder grense:

Ian Wessels se ‘Lag Sonder Grense’ nou op rak