Aksie en avontuur in RSG se Sonduiker
Ikarus is ‘n ‘n klein lugredery wat van af Mahikeng in Noordwes vlieg. Magnus, die eienaar van Ikarus-lugdiens sal enige vlug aanvaar solank hy goeie wins daaruit kan maak. Dit laat hom vele kere in gevaarlike situasies. Sy nuwe kadet-vlieënier is ‘n jong vrou, Chinél, met senuwees van staal en ‘n sterk begeerte om haarself te bewys.
Die lughawe is die middelpunt van aksie met ‘n magstryd wat broei oor die beheer daarvan. ‘n Klomp interessante mense werk by die lughawe en almal het drome wat hulle hoop mettertyd vlerke sal kry. Tog is daar dié wat te hoog wil vlieg en hulle vlerke verbrand.
Sonduiker deur Anton Treurnich is vol intriges, asemrowende bestemmings en aksiebelaaide avonture. Dit is ‘n verbeeldingsvlug met die Bosveld as agtergrond en ‘n goudgeel sonsondergang as bestemming. Jou sitplek is bespreek, sit terug, ontspan en geniet die reis saam met ons.
Sonduiker is RSG se nuwe middagstorie en word vanaf Dinsdag 2 Maart elke weeksmiddag om 14:45 uitgesaai.
Die regisseur is die Frieda van den Heever wat met ‘n ATKV Mediaveertjie bekroon is vir haar radiowerk. En die tegniese en akoestiese versorging is deur Cassi Lowers.
Luister na die eerste episode:
Zane Stuurman probeer die Piper-vliegtuig se enjin skoonmaak, maar word kort-kort onderbreek deur mense wat vir Magnus Adendorf soek. Magnus is die eienaar van Ikarus Lugredery en onderneem die vreemdste en gevaarlikste vlugte. Natuurlik teen die regte prys.
Die rolverdeling:
Magnus – Anrich Herbst
Chinél – Nadia Valvekens
Zane – Charlton George
Lusinda – Kay Smith
Ribs – Dann-Jacques Mouton
Dolla – Elmarie Johnson
Wolfgang – Chris van Niekerk
Alwyn – Wessel Pretorius
Dif – André Weideman
Dot – Simoné Benjamin
Roots – André Samuels
Sandra – Susanne Beyers
Magda – Martelize Kolver
Lance – Albert Maritz
Rona – Celeste Matthews