Dapper Jude (9) het dringend ‘n hartoorplanting nodig


Jude van der Westhuizen (9) van Ravensmead in die Kaap, wag al ‘n jaar lank op ‘n geskikte skenker. Hy het kardiomiopatie (hartspierverlamming) opgedoen nadat hy op 6 maande ouderdom ‘n virussiekte gekry het. Hy benodig dringend ‘n hartoorplanting.

Wat is kardiomiopatie?
Hoe werk dit dat ‘n kind wat eens gesond was, se hart só beskadig word deur hartspiersiekte dat slegs ‘n hartoorplanting sy lewe kan red? Kan dit met jou gebeur?

‘n Ma se versoek
Jude se ma, Alicia, het ‘n versoek aan ouers wat ‘n kind aan die dood afstaan, tog assseblief orgaanskenking moet oorweeg.

Jude is een van meer as 100 mense wat tans in Suid-Afrika op ‘n hartoorplanting wag, maar weens die groot tekort aan skenkerorgane, sal waarskynlik net sowat 25 se lewens gered kan word.

Meer as 4000 Suid-Afrikaners wag tans op ‘n hart-, nier-, lewer, long- of hartlongoorplanting. Maar verlede jaar is slegs 361 mense gehelp.

Medici het in die SA Mediese Joernaal geskryf dat Suid-Afrika dus meer as 3600 pasiënte versaak. Hulle wys ook ‘n vinger na die Departement van Gesondheid.

Dit is ook duidelik dat baie meer mense eintlik op die waglys behoort te wees, maar omdat slegs ‘n beperkte hoeveelheid mense op nierdialisemasjiene behandel kan word weens die tekort aan dié masjiene in die staatsektor, word tussen tien- en twintigduisend mense met nierversaking elke jaar huis toe gestuur om te sterf. In die staatsektor is daar slegs nierdialisemasjiene vir sowat een uit elke 4 tot 5 pasiënte met nierversaking.

Die krisis
‘n Opname deur die Stigting vir Orgaanskenking het getoon dat meer as 70% van mense sal ‘ja’ sê om ‘n skenkerorgaan te ontvang om hul lewe te red, maar dat minders as 30% van dieselfde groep sal ‘nee’ sê vir orgaanskenking.

Die statistieke by oorplantings-eenhede toon inderwaarheid dat slegs 18% van breindood-pasiënte wat as potensiële skenkers geïdentifiseer word, uiteindelik tot orgaanskenking lei. Die redes sluit in dat die organe moontlik nie geskik is nie, dat ‘n ontvanger met passende weefsel nie op daardie tydstip op die waglys is nie, maar in die meeste gevalle is dit die familie wat nee sê, in van die gevalle weens kulturele of geloofsredes. Geloofleiers van die Christelike geloof, en Moslem-geloof het egter al in die openbaar gesê daar is geen redes uit die Bybel of Koran om nie lewe aan ‘n ander te skenk nie.

Dit blyk ook dat baie potensiële donors nie deur dokters na die oorplantingskoördineerders verwys word nie, waarskynlik omdat van die dokters nie besef dat die skenker se organe wel geskik is vir oorplanting nie.

Die suksessyfer van hartoorplantings is goed
Meer as 80% van mense leef 5 jaar of langer ná ‘n hartoorplanting. Michelle Luscombe (29, foto links) het op 23 jarige ouderdom ‘n hartoorplanting ondergaan en is nou aktief, werk voltyds en lei ‘n vol lewe. Haar lewe het 100% verander, en haar hartskenker is haar hero, het sy aan RSG gesê. Sy het weens ‘n ernstige elektriese geleidingsfout in haar hart, skielike vinnige en onreëlmatige hartkloppings beleef wat tot hartaanvalle gelei het. Dit is ‘n tyd lank met ‘n tipe pasaangeër behandel, maar later was ‘n hartoorplanting al uitweg.

Meer inligting oor hartritme-defekte soos Michelle s‘n
Ons het almal al gelees of gehoor van ‘n oënskynlike gesonde en fikse jong man wat skielik op die sportveld sterf – dis nie ‘n hartaanval nie, maar skielike hartstilstand. Ons gesels met ‘n ywerige fietsryer wat drie jaar gelede tydens ‘n fietstoer ineengesak het, en wie se hart betyds weer aan die gang geskok is. Ons vind ook meer uit oor die jongste tegnologie wat nou in Suid-Afrika beskikbaar is. En ons gesels ook oor nuwe genetiese toetse wat reeds op embrio-stadium uitgevoer kan word sodat ‘n gesonde embrio in die moeder teruggeplaas kan word.

Beroep op gemeenskap
Dr. Susan Vosloo en die Stigting vir Orgaanskenking het ‘n beroep gedoen op dokters, verpleegkundige of enige lid van die publiek wat bewus word van ‘n moontlike skenker, die tolvrye nommer moet skakel 0800 22 66 11, en die nood-opsie kies om met ‘n oorplantingskoördineerder in aanraking te kom wat die proses sal fasiliteer.

Orgaanskenking is gratis en sal die skenker se familie niks kos nie. Die ontvanger-hospitaal dra alle koste.