Gigaba se Mini-begroting neem SA nader aan afgrond


Die Minister van Finansies, Malusi Gigaba, se eerste Mini-begroting het ekonome teleurgestel, en inteendeel met baie vrae en kommer gelaat omdat die begroting byna niks doen om ekonomiese groei en beleggersvertroue aan te moedig  nie. Sommige beskryf dit as ‘swak’, en selfs as ‘hoop-loos’, ‘onduidelik’, ‘ontwykend’, ‘dubbelsinnig’. Kundiges reken Suid-Afrika is nou werklik op die rand van die finansiëleafgrond en dat verdere krediet-afgradering na rommelstatus 75% seker is.

Mini-begroting; Kundiges bespreek kernbelangrike aspekte van 2017 medium-termyn begrotingsraamwerk  (RSG Geldsake/Moneyweb)

Anthony Julies, Adjunk-Direkteur Generaal Bate- en Lastebestuur by die Nasionale Tesourie, dr. Elna Moolman, Ekonoom by Macquarie Equities & Christel van Wyk, Projekdirekteur, Belasting by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geöktrooieerde Rekenmeesters, Saica, Christo Botes, uitvoerende direkteur van Business Partners & Johan Gouws hoof van Batekonsultante by Sasfin Wealth.

Nuusberigte ná die begrotingsrede

25 Oktober 2017

  • Die minister van Finansies, Malusi Gigaba, het toegegee dat sake- en verbruikersvertroue op ‘n geskiedkundige laagtepunt is. Hy het in die parlement gesê dit het ‘n regstreekse uitwerking op beleggings, werkskepping en huishoudelike besteding. Hy sê sowel plaaslike as buitelandse beleggers sê beleidsonsekerheid, swak regering en gebrekkige finansiële bestuur by staatsinstellings is kwessies wat tot laer beleggersvertroue lei. Die groeiende staatskuld en politieke onsekerheid dra verder tot die tanende beleggersvertoue by.

  • Gigaba sê ‘n moeilike tyd lê voor. Hy het in sy mediumtermyn-begrotingsraamwerktoespraak gesê die regering het die ekonomiese groeivooruitsigte afwaarts aangepas van een komma drie na nul komma sewe persent. Die belastingtekort vir die huidige geldjaar word op 50 komma agt miljard rand geraam. Dit is die grootste tekort sedert 2009. Die begrotingstekort sal na verwagting vier komma drie persent van die bruto binnelandse produk wees teenoor die drie komma een persent waarvoor in die 2017-begroting voorsiening gemaak is.

    Die begrotingsrede is met sowat 20 minute vertraag. Die EFF het Gigaba daarvan beskuldig dat hy ‘n Zuma-bondgenoot is en uit die parlement gestap.

  • Die Rand het skerp teruggesak in reaksie op Gigaba se begrotingsraamwerk. Die geldeenheid het verswak tot veertien rand teenoor die Amerikaanse dollar in vergelyking met oggendverhandeling teen dertien rand 73 sent. Die Rand het intussen weer effens verstewig.

 

Ekonome se kommentaar in Monitor-bespreking is ook negatief

Gister het die Minister van Finansies,Malusi Gigaba sy eerste medium termyn begrotingsraamwerk beleidstoespraak lewer. Te midde van ‘n sukkelende ekonomie plaaslik en wereldwyd, beleidsonsekerheid en staatskapingsondersoeke waarby Gigaba se naam betrek word, was alle oë op die parlement. Die ontleders in die ateljee was, Dr Chris Harmse, hoof ekonoom van Rebalance Fonds bestuurders, Pietman Roos, AGRI SA Bestuurder Korporatiewe sake en voorheen beleidskonsultant by die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid en Lullu Krugel , hoof ekonoom van KPMG.

Hier is enkele samevattings uit die bespreking:

  • Die begrotingstekort van R51 miljard is nog groter as aanvanklik gemeen is. Dis is 4,3% pleks van 3,1%.
  • Die skuldlas gaan nie stabiliseer op 53% van BBP nie – wat reeds baie hoog is –  maar gaan groei tot 61% van BBP in 2021, met geen stabilsering in sig nie.
  • Die Minister het niks oor landbou of droogtehulp gerep nie.
  • Hy het meer gerpaat oor ‘govern’ as oor groei.
  • Ná sy toespraak is dit duidelik dat Suid-Afrikaners meer en meer staatsinmenging in die ekonomie en die private sektor moet verwag.
  • Allle belangrike besluite is uitgestel deurdat hy dit na allerlei komitees verwys het. Hy wil beleggersvertroue herwin, maar beleggersvertroue sal taan met dié uitstellery.
  • Hy het erken dat die ekonomiese groeikoers nie 1,3% is nie, maar 0,7%. Die Rand het onmiddellik nadat hy die groeikoers aangepas is, gedaal.
  • Hy het te veel onafwendbare en belangrike aspekte geïgnoreer.
  • Meer as die helfte van die infrastruktuur-besteding om kwansuis groei te stimuleer, is in staatshande (ESKOM, SAA ens), wat geen kompetisie gaan skep nie, en nie tot ekonomiese groei sal lei nie.
  • Gigaba het erken dat sakevertroue is op die laagste vlakke ooit, maar dit is duidelik dat Zuma wil meer beheer hê oor die ekonomie, wat sakevertroue nog verder sal laat daal.
  • Gigaba erken korrupsie, swak staatsbestuur, maar het geen aanduiding gegee waar om besteding te sny nie.
  • Gigaba stuur dubbelsinnige boodskappe: Met betrekking tot Radikale Ekonomiese Transformasie haal hy Zuma aan oor die beheer oor die ekonomie en die private sektor, en is dit duidelik ‘n sosialistiese aanslag, maar andersyds vra hy die sakesektor om te investeer.
  • Hy rep niks oor studente se fooie nie.
  • Hy bevestig dat die kernkragprogram voortgaan teen ‘n tempo soos die land dit kan bekostig, maar is verder vaag hieroor.
  • Hy sê dat ‘n nuwe ESKOM raad binnekort aangestel sal word.
  • Ná die begrotingsrede reken die paneel daar is ‘n 75% kans daty Moody’s op ‘n afgradering sal besluit en dan is Suid-Afrika se plaaslike skuld in rommelstatus.

 Kundiges bespreek brandpunte soos die enorme belastingtekort, verdere rommelstatus en kernkrag

Mike Schussler, Hoof-ekonoom by Economists.co.za & Christo Botes, uitvoerende direkteur van Business Partners & Prof. Wikus van Niekerk, direkteur by die Sentrum vir Hernubare- en Volhoubare Energie-studies by die Universiteit Stellenbosch.