Jongste oor bylmoord: Henri van Breda getuig


  • 1 November 2017 13:00

    Die staatsaanklaer, Susan Galloway, het Henri van Breda vanoggend ondervra oor sy verklaring aan die polisie ure nadat sy ouers en broer in Januarie 2015 vermoor is. Van Breda, wat vandag 23-jaar oud is, is in die Kaapstadse Hooggeregshof onder kruisverhoor vir die moord op sy ouers en broer en dat hy sy suster ernstig beseer het in ‘n bylaanval in hulle huis naby Stellenbosch. Galloway wou weet wat sy kommentaar is op ‘n buurvrou se getuienis dat daar op die aand van die moord ‘n argument was by die Van Breda-huis en dat sy dit kon hoor. Van Breda sê hy onthou haar getuienis, maar sy is verkeerd indien sy aanvoer dat sy woedende mansstemme dié aand gehoor het. Galloway wou ook weet hoeveel aanvallers daar was. Van Breda het getuig dat daar slegs een was, maar dat hy nie doodseker is nie, en enigeen in sy situasie ook nie sou kon sê nie.

    Luister en kyk hier na die regstreekse uitsending uit die Hooggeregshof: http://www.news24.com/SouthAfrica/News/live-henri-van-breda-returns-to-stand-in-murder-trial-20171101

  • 1 November 2017 12:00

    Die staatsaanklaer, Susan Galloway, het Henri van Breda vanoggend ondervra oor sy verklaring aan die polisie ure nadat sy ouers en broer in Januarie 2015 vermoor is. Van Breda, wat vandag 23-jaar oud is, is in die Kaapstadse Hooggeregshof onder kruisverhoor. Hy ontken dat hy sy ouers en broer vermoor en sy suster ernstig beseer het in ‘n bylaanval by hulle huis op die De Zalze Landgoed naby Stellenbosch.

  • 1 November 2017 9:00

    Intussen word die kruisondervraging van die driedubbele-moordverdagte, Henri van Breda, vanoggend in die Hooggeregshof in Kaapstad hervat. Die 22-jarige Van Breda staan tereg op die moord op sy ouers en broer en poging tot moord op sy suster op die De Zalze-landgoed in Stellenbosch in 2015. Van Breda het gister begin getuig en sy weergawe gegee van die aand wat die moorde gepleeg is

  • 1 November 2017 8:00

    Die kruisondervraging van die driedubbele moordverdagte, Henri van Breda, word vanoggend in die Hooggeregshof in Kaapstad hervat. Die 22-jarige Van Breda staan tereg op die moord op sy ouers en broer en poging tot moord op sy suster op die De Zalze-landgoed in Stellenbosch in 2015. Van Breda het gister begin getuig. Hy het vroeër skuld ontken en getuig hoe hy ‘n aanvaller, wat ‘n byl by hom gehad het, probeer afweer het. Hy het ook gesê hy weet nie waarom hy nie eerste die polisie en nooddienste geskakel het nie, maar ‘n vriendin. Sy getuienis word regstreeks uitgesaai, ondanks pogings deur sy regspan om kameras in die hof te belet.

    31 Oktober 2017 18:00

    Die driedubbele-moordverdagte, Henri van Breda het in die Hooggeregshof in Kaapstad ontken dat hy sy ouers en broer met ‘n byl vermoor het. Die 22-jarige Van Breda het vandag met sy getuienis begin en aangevoer dat sy DNS wat op die toneel gevind is, heel moontlik afkomstig is van ‘n snyplek waar hy homself raakgeskeer het. Hy het ook gesê hy weet nie hoekom sy eerste oproep nie die polisie en die nooddienste was nie, maar sê met die wysheid wat nawete bring moes dit sy eerste oproep gewees het. Hy het getuig dat hy sy vriendin, Bianca van der Westhuizen gebel het, maar dat die oproep nie deurgegaan het nie. Hy het later ‘n noodnommer opgesoek en gebel. Van Breda sê hy het sy ma se liggaam op die vloer en sy suster gesien voordat hy sy bewussyn ‘n tweede keer verloor het.

  • 31 Oktober 2017 15:00

    Die driedubbele-moordverdagte, Henri van Breda het aan die Wes-Kaapse Hooggeregshof beskryf hoe hy gestoei het met ‘n inbreker wat met ‘n byl gewapen was. Van Breda voer aan dat dié inbreker meer as twee jaar gelede sy ouers en broer vermoor en sy suster ernstig beseer het. Van Breda het getuig dat hy harde geluide gehoor het terwyl hy in die toilet was. Toe hy gaan ondersoek instel, het hy gesien hoe iemand sy broer, Rudi aanval. Hy het emosioneel geraak en die byl by die aanvaller afgeneem. Sy getuienis duur voort. Van Breda het onskuldig gepleit op die aanklagte teen hom.

  • 31 Oktober 2017 13:00

    Die driedubbele moordverdagte, Henri van Breda het in die Hooggeregshof in Kaapstad getuig dat sy gesin na aan mekaar was en dat hulle graag tyd saam deurgebring het. Hy het sy weergawe die aand van die moord beskryf en emosioneel geword toe hy aan die hof vertel het hoe hy vanaf die badkamer ‘n inbreker gesien het wat sy broer aangeval het. Volgens van Breda was die inbreker se hele lyf met klere bedek. Hy het in ‘n stadium gedink daar was meer as een aanvaller en dat hulle Afrikaans met mekaar gepraat het. Regter Siraj Desai het vanoggend beslis dat Van Breda se getuienis wel regstreeks uitgesaai mag word.

  • 31 Oktober 2017 8:00

    Regter Seraj Desai sal vanoggend beslis of hy kameras in die hooggeregshof in Kaapstad gaan toelaat wanneer die moordbeskuldigde Henri van Breda begin getuig. Die 22-jarige Van Breda word aangekla van die moord op sy ouers en broer in hul huis op die De Zalze-landgoed in Stellenbosch twee jaar gelede. Sy suster, Marli, is ernstig in die byl-aanval op die gesin gewond. ‘n Aansoek wat Van Breda verlede maand gebring het om eers ná sy kundige getuie te getuig, is van die hand gewys. Sy regspan het tóé aangedui dat Van Breda nié gaan getuig nie. Piet Botha het egter gister aan die hof gesê dat hy geen verdere getuies gaan roep nie, maar dat Van Breda nou self wil getuig. Van Breda wil nie hê dat kameras in die hof toegelaat word nie, omdat hy na bewering ‘n spraakgestremdheid het en hakkel wanneer hy praat.

  • 31 Oktober 2017 7:00

    Regter Seraj Desai sal vanoggend beslis of hy kameras in die hooggeregshof in Kaapstad gaan toelaat wanneer die moordbeskuldigde Henri van Breda begin getuig. Die 22-jarige Van Breda word aangekla van die moord op sy ouers en broer in hul huis op die De Zalze-landgoed in Stellenbosch twee jaar gelede. Sy suster, Marli, is ernstig in die byl-aanval op die gesin gewond. ‘n Aansoek wat Van Breda verlede maand gebring het om eers ná sy kundige getuie te getuig, is van die hand gewys. Sy regspan het tóé aangedui dat Van Breda nié gaan getuig nie. Piet Botha het egter gister aan die hof gesê dat hy geen verdere getuies gaan roep nie, maar dat Van Breda nou self wil getuig. Van Breda wil nie hê dat kameras in die hof toegelaat word nie, omdat hy na bewering ‘n spraakgestremdheid het en hakkel wanneer hy praat.