Vonke spat in Brittanje en Rusland se koue oorlog oor gifgas


Brittanje se minister van buitelandse sake, Boris Johnson, sê dit ís moontlik dat Rusland se president, Wladimir Poetin, die Sokkerwêreldbekertoernooi wil uitbuit soos wat Adolf Hitler in Duitsland gedoen het. Hitler wou hê die Olimpiese Spele in 1936 in Berlyn moet ‘n simbool van wit heerskappy wees, en het geweier om Amerika se swart medaljewenner, Jesse Owens, se hand te skud. Johnson se opmerking volg te midde van ‘n eskalerende twis tussen die twee lande oor die senugasaanval op ‘n oudspioen van Rusland in Brittanje. Johnson sê dit is ontstellend dat Poetin tydens die Wêreldbekertoernooi, wat in Junie begin, opgehemel gaan word.

  • 21 Maart: ‘n Vliegtuig met 23 uitgeskopte Russiese diplomate het uit Londen na Moskou vertrek. Die amptenare was intelligensie-offisiere wat uit die land gegooi is in reaksie op die vergiftiging van ‘n voormalige Russiese dubbelagent en sy dogter. Die Britse regering is van mening dat die senugas-aanval deur Moskou beplan is. Die Britse premier, Theresa May, het gister met die land se Nasionale Veiligheidsraad vergader om verdere optrede teen Rusland te oorweeg. Rusland het dit reeds baie duidelik gemaak dat hy sal reageer indien daar verdere maatreëls van Brittanje se kant af is.
  • 20 Maart: Drie busse het die Russiese ambassade in Londen in Brittanje verlaat, nadat 23 Russiese diplomate en hulle gesinne na Rusland teruggestuur is. Die Britse regering het hulle verlede week beveel om die land te verlaat. Dit hou verband met die onlangse senugasaanval op ‘n afgetrede Russiese spioen en sy dogter in die Britse stad, Salisbury. Brittanje het Rusland die skuld daarvoor gegee. Rusland ontken dit en eis dat dit met bewyse gestaaf word.

Lees meer:
https://edition.cnn.com/2018/03/22/europe/russia-reaction-uk-spy-intl/index.html

https://www.bloomberg.com/news/articles/2018-03-21/britain-struggles-to-get-allies-to-move-beyond-words-with-russia

https://www.reuters.com/article/us-britain-russia-spy-envoys/sparks-fly-in-moscow-as-russia-and-britain-trade-accusations-over-spy-poisoning-idUSKBN1GX0UW