Sarkozy aangekla van korrupsie oor Libië-geld


Die voormalige president van Frankryk, Nicolas Sarkozy wat van korrupsie beskuldig word sê in sy verklaring voor die hof dat daar ‘n gebrek is aan enige werklike bewyse teen hom. Sarkozy word daarvan verdink dat hy miljoene euro van die destydse Libiese leier, Muammar Gaddafi ontvang het as bydrae tot sy verkiesingsveldtog in 2007. Sarkozy sê hy word aangekla slegs op grond van verklarings deur Gaddafi, sy seun, nog twee familielede, asook Gaddafi se woordvoerder en sy destydse eerste minister. Sarkozy se verklaring is in die Franse media gepubliseer. Hy sê ook sedert die eerste bewerings in 2011 deur Gaddafi gemaak is, het sy lewe handomkeer in ‘n nagmerrie ontaard.

Sarkozy en Ghadaffi. Foto: EPA

Die Franse owerheid het bevestig die voormalige president van Frankryk, Nicholas Sarkozy, nou amptelik ondersoek word vir bewerings dat hy onregmatig geld van die Libiese leier, Muammar Gaddafi aanvaar het vir sy verkiesingsveldtog in 2007. Sarkozy is vroeër die week vir ondervraging ingeneem, wat twee dae geduur het. Die ondersoek, wat reeds vyf jaar sloer, kan lei tot Sarkozy se vervolging. ‘n Nabye kennis van Sarkozy het twee jaar gelede aan ‘n koerant onthul dat hy persoonlik tasse met groot bedrae geld van Libië na Parys geneem het vir die verkiesingsveldtog.

20 Maart: Die voormalige president van Frankryk, Nicolas Sarkozy word ondervra oor bewerings dat die destydse Libiese leier, Muammar Gaddafi sy verkiesingsveldtog in 2007 help befonds het. Sarkozy is vroeër vandag ingeneem vir ondervraging. ‘n Senior minister in Sarkozy se destydse regering is volgens berigte ook ondervra. ‘n Frans-Libanese sakeman, Ziad Takieddine beweer dat hy in 2006 en 2007 drie keer van Libië na Parys met tasse vol geld gereis het as bydrae tot Sarkozy se verkiesingsveldtog. Sarkozy ontken die bewerings, en sê die Libiese regering is woedend omdat hy betrokke was by militêre ingryping om Gaddafi se bewind te beëindig. ‘n Voormalige kennis van Sarkozy, Alexandre Djouhri is ‘n paar weke gelede in verband met die saak in hegtenis geneem, maar later op borgtog vrygelaat.

Lees meer:
RSG-Nuus: http://www.rsg.co.za/nuus.asp

Sarkozy nuus:

https://www.theguardian.com/world/2018/mar/21/nicolas-sarkozy-former-president-back-in-police-custody-over-libya-case

http://www.bbc.com/news/world-europe-43497357

https://edition.cnn.com/2018/03/22/europe/france-nicolas-sarkozy-investigation-intl/index.html