Nuus: Zimbabwe, Afgradering, Oscar, Panayioutou…


Zimbabwe
Emmerson Mnangagwa is amptelik ingehuldig as Zimbabwe se nuwe president voor 60-duisend mense in die volgepakte Nasionale Sportstadion in Harare. Dit volg nadat die weermag verlede week Woensdag Mugabe onder huisarres geplaas het nadat die 93-jarige leier teen militêre bondgenote in die Zanu-PF regering begin optree het. Baie Zimbabwiërs hoop dat Mnangagwe, ondanks sy nou verhoudinge met die weermag, demokratiese hervormings sal bevorder en die sukkelende ekonomie sal laat herleef. Mnangagwa het onderneem om die mense van Zimbabwe te dien.

Oscar Pistorius
Die Nasionale Vervolgingsgesag het die uitspraak van die Appèlhof in Bloemfontein om die voormalige paralimpiese atleet, Oscar Pistorius, se vonnis te verleng van ses jaar tot 13 jaar en vyf maande verwelkom. ‘n Woordvoerder van die NVG, Luvuyo Mfaku, sê dit sal die familie toelaat om berusting te vind. Mfaku sê die vonnis is in die belang van geregtigheid. Dit gaan nie oor ‘n individu nie, maar oor die behoorlike administrasie van geregtigheid. Die Nasionale Vervolgingsgesag het teen die vonnis geappelleer wat deur Regter Thokozile Masipa opgelê is. Pistorius is aanvanklik skuldig bevind aan strafbare manslag vir die skietdood van sy vriendin Reeva Steenkamp op 14 Februarie 2013. Die hooggeregshof het dit na moord verander. Regter Seriti het gesê die eenparige bevinding is dat Pistorius se vonnis van ses jaar onvanpas was. Die tydperk wat Pistorius reeds uitgedien het, is in berekening gebring by die nuwe vonnis.

Panayioutou
Christopher Panayiotou, en een van sy medepligtiges, Sinethemba Nenembe is in die hooggeregshof in Port Elizabeth tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op Panayiotou se vrou Jade. Die tweede medepligtige, Zolani Sibelo, is vyftien jaar tronkstraf opgelê. Jade Panayiotou is in April 2015 by hulle huis ontvoer en later vermoor.

Afgradering
Ekonome is verdeeld oor die moontlikheid dat Suid-Afrika later vandag verder afgegradeer kan word. Sommige ekonome dink dat die graderingsagentskappe tot na die ANC se verkiesingskonferensie in Desember sal wag, terwyl ander dink dat die ekonomiese toestande op talle vlakke negatief teenoor Suid-Afrika is. Fitch het gister die land se kredietgradering onveranderd gelaat op een kerf onder beleggingsstatus. Moody’s en Standard en Poors sal hul graderings na verwagting vandag bekendmaak. Ekonome sê die land se trae ekonomiese groei, beleidsonsekerheid en politieke spanning kan meebring dat dat Suid-Afrika afgegradeer word. `n Onafhanklike ekonooom, Chris Gilmour, sê hy verwag dat Suid-Afrika afgegradeer sal word. Volgens hom het hy voor die medium termynbegroting gedink dat die agentskappe tot na die ANC-konferensie sou wag, maar die skok van daardie begroting het sake verander.

Kerkleier
Die leier van die Nazareth Baptiste Kerk, Vela Shembe, is gisteraand om middernag na `n lang stryd teen kanker dood. Shembe het onlangs `n regstryd van vyf jaar om die leierskap van die kerk in die Hooggeregshof gewen. Hy was die leier van die Thembezinhle-faksie van die kerk. Die regstryd met sy neef, Mduduzi Shembe, van die Ebuhleni-faksie om die beheer van die kerk met miljoene lidmate het na die dood van die kerkleier, Vimbeni Shembe, in Maart 2011 begin.

Waterskuld
Die Departement van Water en Sanitasie sê hy beplan om die Tesourie en die Departement van Samewerkende Regering te betrek by onderhandelinge oor munisipaliteite se stygende waterskuld. Die departement het gewaarsku dat hy die watervoorsiening van 30 munisipaliteite, wat almal meer as 50 miljoen rand skuld, op 8 Desember gaan afsny. ‘n Woordvoerder van die departement, Sputnik Ratau, sê die afsny van water kan nie verhoed word nie. Ratau sê hulle sal met die Tesourie en die Department van Samewerkende Regering onderhandel oor wettige maniere om ‘n deel van die munisipaliteite se befondsing terug te hou om dié skuld te delg.

KRIEKET:
Australië het goed terugggeveg op die tweede dag van die eerste toets om die As in Brisbane en was teen uitskeityd op 165 vir die verlies van vier paaltjies. Die Aussies was op 76 vir die verlies van vier paaltjies toe die kaptein, Steve Smith, en Shaun Marsh met `n terugvegpoging begin het. Smith het 64 en Marsh 44 lopies aangeteken, wat beteken dat die tuisspan nog 137 lopies agter is. Engeland is vroeër vandag vir 302 uitgeboul nadat James Vince 83 en Dawid Malan 56 lopies geslaan het.

Betoging
Die N3-snelweg is by Marianhill-tolplaza buite Pinetwon, noord van Durban vir verkeer gesluit weens `n protesaksie deur lede van die Mk-veterane. Hulle betoog teen wat hulle noem, menseregte-oortredings op plase landwyd. Motoriste in albei rigtings word weggewys omdat die tolplaza gesluit is. `n Woordvoerder van die verkeersafdeling, Zinhle Mngomezulu-Mali het motoriste versoek om alternatiewe roetes te gebruik en die snelweg te vermy. Die betogers het ook `n ou Suid-Afrikaanse vlag verbrand wat blykbaar gedoen is as vergelding nadat die huidige Suid-Afrikaanse vlag tydens `n protesoptog van boere in die Wes-Kaap vroeër die maand aan die brand gesteek is.

Johannesburg water
Johannesburg Water sê watervoorsiening is na meeste dele in die noordelike voorstede van die stad herstel na herstelwerk aan beskadigde pype. Sandton, Bryanston, Woodmead, Morningside, Alexander en Linbro Park is onder meer geraak. ‘n Woordvoerder van Johannesburg Water, Isaac Dhludhlu, sê inwoners in ‘n paar strate is nog sonder water en het hulle aangemoedig om dit aan die owerhede te rapporteer. Dhludhlu sê hulle ondersoek oor berigte dat twee watertenks gesteel is.