Zuma oorleef 198 teen 177


Dinsdag 8 Augustus 2017
18:46
Pres. Jacob Zuma het die wantroue-mosie oorleef.
Dit was die agtste mosie van wantroue teen Zuma.

Die stemme was as volg (uit 400 setels):
Vir wantroue: 177
Teen wantroue: 198
Buite stemming: 9

Praat Saam
Wat kan ons verwag van die stemming vanmiddag. Melanie Verwoerd en ander ontleders gee hul menings. Luister hier na die insiggewende program.

Monitor/Spektrum
Groot afwagting heers oor die verwagte mosie van wantroue teen Pres. Jacob Zuma vandag (08.08) in die Nasionale Vergadering. Heindrich Wyngaard het die direkteur van die Instituut vir Toekomsnavorsing by die Universiteit Stellenbosch, Dr. Morne Mostert, gevra vir sy indrukke hieroor. Klik hier: https://iono.fm/e/460585

Die Nasionale Vergadering het vanmiddag ‘n geheime stemming tydens die mosie van wantroue teen President Jacob Zuma. Maar hoe vind dié stemproses plaas? Jean Esterhuizen het by die woordvoerder van die Parlement, Moloto Mothapo gaan uitvind. Klik hier: https://iono.fm/e/460793

Nuus

17:00
ANC-LP’s het protes aangeteken in die Nasionale Vergadering nadat die leier van die DA, Mmusi Maimane ‘n selfoon by die stemhokkie ingeneem het. Die Speaker, Baleka Mbete het die ontevredenes gepaai en gesê Maimane het die foon verwyder voordat hy gestem het. Parlementslede is besig om ‘n geheime stem uit te bring na die debat oor die wantrouemosie in President Jacob Zuma. ANC-leiers soos die voormalige Minister van Finansies, Pravin Gordhan, Mondli Gungubele en Makhosi Khoza het reeds gestem. Mbete het vroeër aangekondig dat ondanks die aantal afwesige LP’s, die meerderheid om die mosie te laat slaag steeds gegrond sal wees op die aantal setels van 400. Sy het onderneem om later ‘n regsmening hieroor in te win.

16:00

  • Die leier van die UDM, Bantu Holomisa het LP’s gevra om ten gunste van die mosie van wantroue in President Jacob Zuma se stem en het President Zuma as die hoof-argitek van staatskaping bestempel. Die ANC-LP, Pule Mabe het teruggekap en gesê die president neem juis die voortou in die ondersoek na staatskaping. Mabe het die mosie as “ligsinnig” beskryf. Vroeër het die leier van die DA, Mmusi Maimane gesê omdat LP’s in die geheim mag stem, is daar geen verskoning vir enigiemand om nie volgens hulle gewete te stem nie.

  • Die Vryheidsfront Plus sê Suid-Afrikaners kan nie vertroue in Zuma hê nie, omdat hy nie in belang van die mense optree nie. Die leier van Vryheidsfront Plus, Pieter Groenewald, sê Zuma verskuif die blaam en aanvaar nie aanspreeklikheid vir sy dade nie. Groenewald sê indien ANC-LP’s teen die mosie stem, maak hulle dit duidelik dat die fout nie by Zuma alleen lê nie. Hy sê hulle moet eerder buite stemming bly as om ten gunste van Zuma te stem.

15:00
Die leier van die DA, Mmusi Maimane het senior ANC-leiers soos adjunkpresident Cyril Ramaphosa, Pravin Gordhan en Makhosi Khoza gevra om nie toe te laat dat vrees hulle daarvan weerhou om die regte besluit te neem nie. Maimane het sy toespraak in die Parlement gelewer tydens die debat oor die mosie van wantroue in President Jacob Zuma. Hy sê LP’s sal in die geheim mag stem en daarom is daar geen verskoning vir diegene wat nie volgens hulle gewete stem nie. Maimane het ook LP’s herinner aan die eed wat hulle afgelê het toe hulle as parlementslede ingehuldig is. Die leier van die EFF-LP, Julius Malema, het Gordhan ook by die naam genoem en het gevra of die voormalige Minister van Finansies vandag die regte ding gaan doen. Malema het ook gesê kabinetsveranderinge kan nie meer op versoek van die Gupta-familie aangebring word nie. Die leier van IVP, Mangosuthu Buthelezi het beklemtoon dat die mosie nie op die ANC gemik is nie, maar op sy leier.

14:00
Die debat oor die mosie van wantroue in die president begin binne enkele minute in die parlement. Stemwerwery oor politieke grense heen was vanoggend aan die orde van die dag. Die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe het ANC-LP’s gemaan dat die mosie in der waarheid teen die ANC as party is en nie teen die president nie. Verskeie betogings is buite die parlement aan die gang, terwyl die EFF na die Uniegebou in Pretoria oppad is.

13:00

  • Die ANC se hoofsweep, Jackson Mthembu sê vanmiddag se mosie van wantroue in die Nasionale Vergadering gaan oor die party en nié die president nie. Mthembu het met die SAUK gepraat na vanoggend se ANC koukusvergadering ter voorbereiding van die mosie. Jacob Zuma en die sekretaris-generaal van die ANC het die vergadering bygewoon. Mthembu sê hulle het ‘n duidelike mandaat gekry om teen die mosie te stem en nie die ANC in die hande van hul politieke vyande te plaas nie.

  • Groot afwagting heers vir die mosie van wantroue in president Jacob Zuma wat oor sowat ‘n uur in die nasionale vergadering in Kaapstad begin. Parlementslede sal na afloop van die debat oorgaan tot ‘n geheime stemming. Die vergadersaal sal gesluit wees terwyl parlemenstlede hul stemme uitbring. Hulle sal ‘n keuse vir of teen die mosie kan uitoefen of besluit om nie te stem nie. Die tel van stemme sal plaasvind in ‘n vertrek wat bewaak sal word deur die parlement se beskermingsdiens. Die Speaker en verteenwoordigers van politieke partye sal toesig oor die proses hou. Die sekretaris van die Nasionale Vergadering sal die uitslag bekragtig voordat aan Baleka Mbete dit in die Nasionale vergadering sal aankondig.

 

12:00

  • Lede van die ANC-koukus het agter geslote deure vergader ter voorbereiding van die mosie van wantroue in President Jacob Zuma. President Zuma het ook die vergadering bygewoon. Die regerende party het vroeër bepaal dat alle ANC-LP’s die debat bywoon en teen die wantrouemosie moet stem. Die ANC se hoofsweep, Jackson Mthembu het na afloop van die vergadering gesê die mosie is teen die ANC gemik en LP’s sal daarom teen die mosie stem.

  • Verskillende politieke partye trek saam in Kaizergracht in Kaapstad vir ‘n optog na die parlement ter ondersteuning van die mosie. ‘n Groot getal wetstoepassers is ontplooi om die optog deur onder meer die DA, EFF, UDM en Cope te monitor. Die betogers vra dat die president afgedank word. Die optog sal na verwagting binnekort begin. Die polisie is ook ontplooi op die Parade in Kaapstad waar ondersteuners van die president bymekaar kom om ook na die parlement te beweeg. Die adjunk-speaker, Lechesa Tsenoli, sê intussen die parlement is gereed vir vanmiddag se debat. Die Speaker is die voorsittende beampte van die stemmery, terwyl die leiers van die onderskeie politieke partye ook die proses sal monitor.

 

11:00

  • Lede van die EFF het op Kerkplein in Pretoria begin saamtrek vir ‘n optog na die Uniegebou om parlementslede te oorreed om vanmiddag vir die mosie van wantroue teen President Jacob Zuma te stem. Die party sê die optog in Pretoria is uit solidariteit met optogte regoor die land, met die meeste in Kaapstad. Die leier van die EFF in Tshwane, Benjamin Desoloane, sê hulle wil verseker dat Zuma herroep word. Die optog volg te midde van geweldadige betogings in dele van Gauteng. Desoloane sê mense betoog uit verset teen wat hy noem “Zuma se korrupsie wat vandag moet eindig”. Tientalle polisielede is in Pretoria ontplooi en talle winkels is toe uit vrees vir moontlike plundery.

  • Die politieke waarnemer, Ongama Mtimka sê die optogte wat gister en vandag regoor die land plaasvind dui daarop dat vandag ‘n belangrike oomblik vir die demokrasie is. Hy sê dit stuur ‘n boodskap aan politici en die regering dat gewone Suid-Afrikaners by die stembus aan hulle die mag gegee het en dat hulle aanspreeklik is vir hul optrede. Hy sê mense heg waarde aan die grondwet en die waardes van die demokrasie.

  • Streng sekerheidreëlings sal vandag rondom die parlementêre kompleks in Kaapstad geld. Dit volg te midde van verskeie optogte deur groepe teen én vir President Jacob Zuma. Die Minister van Staatsveiligheid, David Mahlobo, het die organiseerders van die optogte gemaan om volle aanspreeklikheid te aanvaar vir enige misdadige optrede as gevolg van hul lede se gedrag tydens die optogte.

 

10:00

  • Streng sekerheidreëlings sal vandag rondom die parlementêre kompleks in Kaapstad geld. Dit volg te midde van verskeie optogte deur groepe teen én vir President Jacob Zuma. Die Minister van Staatsveiligheid, David Mahlobo, het die organiseerders van die optogte gemaan om volle aanspreeklikheid te aanvaar vir enige misdadige optrede as gevolg van hul lede se gedrag tydens die optogte.

  • Wetstoepassers in Gauteng het intussen hul hande vol om brandende buitebande by straat- en padkruisings te verwyder. Die versperrings kom volgens verkeersowerhede regoor die provinsie voor. Die Johannesburgse Metropolisie sê die protesoptrede hou verband met vanmiddag se debat oor die mosie van wantroue in president Jacob Zuma in Kaapstad. Paaie word onder meer in Soweto, in die Johannesburgse middestad, Braamfontein, Olivienhoutbosch, Vereeniging en Tembisa versper.

  • Talle busmaatskappye in Gauteng het vroeër hul dienste opgeskort te midde van betogings en padversperrings regoor die provinsie. Honderde paaie en kruisings in Johannesburg en omliggende gebiede word met klippe en brandende bande versper. Die protesoptrede hou verband met vanmiddag se wantrouedebat in die nasionale vergadering wat om 2-uur begin. Putco, Rea Vya en die busdiens van die Johannesburg Metro het hul bedrywighede vir die dag opgeskort. Pendelaars moet van taxi’s gebruikmaak.

  • Die ANC in KwaZulu-Natal sê die mosie van wantroue in president Zuma is ‘n ondemokratiese poging om die ANC te onttroon. Die provinsiale voorsitter, Sihle Zikalala, sê die wantrouemosie handel eintlik oor die verwydering van die president en die party wat deur meer as 62 persent van kiesers verkies is. Hy sê dit ‘n poging tot regeringsverandering deur legendariese vyande van die nasionale demokratiese rewolusie. Hy sê dié vyande geniet die steun van sekere partylede wat meen dat hul gewete voorrang het bo die kollektiewe wysheid van die party.

  • Die leier van die APC, Themba Godi, wou nie bevestig of ontken dat sy party buite stemming gaan bly tydens die stemming oor ‘n mosie van wantroue in president Jacob Zuma nie. Godi sê die party gee nie om of die stemmery in die geheim, of in die openbaar is nie, Hy sê die APC het ‘n bepaalde standpunt en het geen onsekerheid daaroor nie. Hy sê hulle sal in die beste belang van die mense optree.

     

    09:00
    Die Rand verhandel teen 13-rand-22 teenoor die Amerikaanse dollar, nadat dit gistermiddag verstewig het na die aankondiging dat ‘n geheime stemming sal plaasvind tydens vanmiddag se wantrouedebat. Die Rand het gisteraand van 13-39 tot 13-21 teenoor die dollar verstewig. ‘n Ekonoom van Rand Swiss, Singa Gungqisa, sê hy glo dat ‘n verandering in Suid-Afrika se leierskap sakevertroue sal aanhelp. Hy sê sakevertroue is op ‘n baie lae vlak en verswak steeds te midde van Suid-Afrikaanse maatskappye wat eerder in internasionale maatskappye belê.