Die Regering se beplande reddingsboei aan SAL is erg omstrede


Nuus 24 Augustus
‘n Woordvoerder van die Tesourie sê die verkoop van aandele in die landlynverskaffer Telkom vir ‘n reddingsboei aan die Suid-Afrikaanse Lugdiens, is slegs een opsie om die lugdiens te probeer red. Die woordvoerder, Mayihlome Tshwete, sê geen finale besluit is nog geneem nie. Hy het gereageer op medianavrae ná die DA se bekendmaking van ‘n dokument oor die voorgenome verkoop van Telkom-aandele om ‘n reddingsboei vir die SAL te kan bied. Die DA-LP Alf Lees het die inligting gister in die Parlement bekend gemaak tydens adjunkpresident Cyril Ramaphosa se vraesessie.

Geheime dokument‘n DA-parlementslid, Alf Lees het ‘n dokument in die parlement voorgelê wat blykbaar ‘n geheime regeringsdokument is waarin planne aangedui word vir ‘n reddingsboei aan die Suid-Afrikaanse Lugdiens. Lees het die dokument voorgelê tydens adjunkpresident Ramaphosa se vraag-en-antwoordsessie in die parlement. Die regering sal blykbaar sy aandele in Telkom verkoop om die reddingsboei te befonds. Vroeër vandag het die adjunkminister van finansies, Sfiso Buthelezi by ‘n vergadering van Skoor die versekering gegee dat die SAL nie sal ondergaan nie. Lees het konsternasie veroorsaak met sy aankondiging.

Die adjunkminister van Finansies, Sfiso Buthelezi sê die regering sal nie toelaat dat die Suid-Afrikaanse Lugdiens ondergaan nie. Hy het saam met verteenwoordigers van die SAL voor die parlement se Staande Komitee oor Openbare Rekenings verskyn om verslag te doen oor die lugdiens se onregmatige besteding en verkwisting. Die Lugdiens sê omdat hy die meeste van die vliegtuie nie besit nie, kos die huur van vliegtuie sowat drie komma vyf miljard rand per jaar.

Buthelezi sê die waarborge wat die lugdiens kry, beteken dat die skuld verhoog en dat die terugbetaling van die skuld al meer kos.

Dudu skuif blaam
Die voorsitter van die SAL, Dudu Myeni (foto regs) sê die lugdiens se probeleme is te wyte aan die verskeie bestuurshoofde wat die SAL gehad het.

Ramaphosa gooi wal
Adjunkpresident Cyril Ramaphosa sê die voorstel om Telkom se aandele te verkoop om geld te bekom vir ‘n reddingsboei aan die Suid-Afrikaanse Lugdiens, moet deeglik bespreek word. Ramaphosa het dit gesê in reaksie op die DA-LP Alf Lees se bekendmaking van ‘n geheime dokument in die Parlement. Lees het gesê die Minister van Finansies, Malusi Gigaba, het die Kabinet gevra vir tien miljard rand wat uit aandele van staatsinstellings verkry moet word vir die reddingsboei.