Reserwebank gaan voort met regsoptrede teen OB


Nuus 11 Julie 2017

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank gaan voort met sy regsoptrede teen die Openbare Beskermer oor haar aanbevelings dat ABSA-bank die rente van ‘n reddingsboei moet terugbetaal wat in die vorige bedeling aan die bank toegestaan is. Die bank sê hulle wil hê Busisiswe Mkwhebane se verslag moet hersien word omdat dit vol feite foute is. Die bank beraadslag intussen ook met sy regsverteenwoordigers oor Mkwebane se besluit dat sy nie die bank se aansoek gaan teenstaan oor haar aanbevelings dat die mandaat van die Reserwebank hersien moet word nie.

Verskeie politieke partye, burgerlike groepe en ontleders eis die kop van die Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane. Dit hou verband met Mkhwebane se aankondiging gister dat sy nie teenstand gaan bied teen die Reserwebank se aansoek dat haar verslag oor die mandaat van die bank hersien word nie. Die DA sê die party was van meet af gekant teen Mkhwebane se aanstelling en dat hul kommer nou verdiep het. Die party vra ook dat Mkhwebane self vir die regskostes betaal omdat die kantoor van die O.B reeds onder druk is. Volgens die EFF moes Mkhwebane besef het dat haar aanbevelings as openbare beskermer bindend is. Die party sê as niemand haar teengestaan het nie, sou sy die hele land in die verkeerde rigting gestuur het. Die ontleder, Judith February, sê die Openbare Beskermer kan nie vertrou word nie en behoort te bedank.

Die rand is bestendig nadat die Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane erken het dat sy verkeerd was om die parlement opdrag te gee om die grondwet te verander om die Reserwebank se mandaat te wysig. Sy het gister bekendgemaak dat sy nie die bank se aansoek sal teenstaan dat haar verslag hersien moet word nie. Die DA sê Mkhwebane se erkenning laat egter ernstige vrae oor haar bekwaamheid ontstaan. Die Minister van Finansies, Malusi Gigaba en die parlement het ook met regsoptrede teen Mkhwebane se aanbeveling begin. Die Rand verhandel teen 13-rand-44 teenoor die Amerikaanse dollar.

Ander nuus

Oakbay denotering:

Monitor 11 Julie 2017:  OAKBAY BELEGGINGS GAAN GLO DENOTEER BY JSE

Die firma Oakbay Beleggings gaan glo by die JSE denoteer. Die maatskappy wat aan die Gupta-familie behoort, het handel in sy aandele opgeskort. Die maatskappy sê dit is net tydelik tot hulle weer ‘n borg kan kry, iets wat ‘n sleutelvereiste is om op die JSE te noteer. Klik hier: https://www.iono.fm/e/450552

Markontleders sê die Nywerheidsontwikkelingskorporasie kan steeds verliese verhaal ná die denotering van Oakbay Investments. Volgens sommige plaas die denotering aandele van die NOK ter waarde van 90 miljoen rand in gevaar. Die Gupta-beheerde maatskappy het die verhandeling van sy aandele tydelik opgeskort. Die maatskappy sê dit was tydelik omdat hy sukkel om ‘n borg te vind – een van die belangrikste vereistes om op die JSE te verhandel. Die portefeuljebestuurder van Aluwani Capital Partners, Patrick Bafana Mathidi, is van mening dat die NOK meer kan kry as Oakbay sy bates verkoop.

Eskom ongerymdhede: Eskom se eksterne ouditeure het hulle kommer uitgespreek oor die sake wat verband hou met Matshela Koko en Brian Molefe, wat albei vanjaar aan die stuur van Eskom was. ‘n Woordvoerder van Eskom, Khulu Phasiwe, sê eksterne ouditeure het twee onreëlmatighede aangemeld. Die eerste is Eskom se verhouding met Impulse International, wat kontrakte ontvang het terwyl Koko se stiefdogter ‘n direkteur van die maatskappy was. Die tweede hou verband met die heraanstelling van Molefe as bestuurshoof in Mei. Molefe is drie weke later afgedank. Molefe en Koko is verlede jaar in ‘n verslag deur die openbare beskermer uitgewys dat hulle voorkeurbehandeling aan lede van die Gupta-familie sou gegee het.

Makhosi Khoza mag nie volgens haar gewete stem nie: Sommige ANC-strukture in KwaZulu-Natal wil hê die senior leierskap moet die LP, Makhosi Khoza, uit die parlement verwyder. Khoza het vroeër dit duidelik gemaak dat sy die party se voorskrif gaan ignoreer en volgens haar gewete gaan stem tydens die mosie van wantroue in president Jacob Zuma. Khoza het onlangs saam met opposisiepartye aan die speaker van die Nasionale Vergadering, Baleka Mbete, geskryf en vir ‘n geheime stemming tydens die wantroue mosie gevra.. Die voorsitter van die ANC-jeugliga in KwaZulu-Natal, KwaZi Mshengu, sê Khoza is bitter want sy wou ‘n kabinetspos hê.