Gaan Zuma ontglip van 783 klagte?


Die voormalige tesourier van die ANC en kandidaat in die party se komende presidentsverkiesing, Matthews Phosa, sê almal wag nou vir die hofuitspraak oor President Jacob Zuma se appèl teen sy spioenasiebande-saak.

Phosa sê daarna sal die oë egter op die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag, Shaun Abrahams, wees. Phosa, ‘n prokureur van beroep, sê die situasie waarin Abrahams hom bevind – om ‘n besluit oor Zuma se vervolging te neem – is die ergste dilemma ooit. Phosa sê indien Abrahams téén vervolging sou besluit, sal dit op private vervolgings uitloop.

Hy sê dit sal vir Abrahams beter wees om Zuma wel te vervolg sodat hy beheer oor die situasie kan hê. Phosa het ook gesê as ANC-leiers nie die party en die land se wette nakom nie, sal hulle aanhoudend in die hof beland. Hy sê die onlangse uitspraak in die hooggeregshof in Pietermaritzburg, waarin KwaZulu-Natal se leierskapskonferensie nietig verklaar is, moet dien as les vir die ANC. Phosa sê die ANC het self sy grondwet geskryf en saam aan die land se Grondwet gewerk, maar kom dit nie na nie. Hy sê die ANC moet disipline aan die dag lê en leer om wette na te kom.

Die burgerregtegroep, Save SA sê indien daar gewag word op die Direkteur van die N.V.G, Shaun Abrahams om te besluit oor die vervolging al dan nie van President Jacob Zuma rakende die 783 klagte van korrupsie, kan dit ‘n lank neem. Die organisasie sê Abrahams neem teleurstellende besluite soos die instelling van ongegronde klagte teen Gordhan. Die burgerregtegroep het Abrahams ook daarvan beskuldig dat hy nie optree om staatskaping te beveg nie en ook nie daarin kon slaag om die President se seun, Duduzane te vervolg in verband met ‘n ongeluk waarin twee mense gesterf het nie.

 

‘n Politieke ontleder van die Universiteit Stellenbosch, Cindy Steenekamp sê vertroue in instellings soos politieke partye, die parlement en die regering het tussen 1994 en 2013 met 20 persent gedaal. Sy het ondersoek gedoen na die eienskappe van die demokratiese gemeenskap in Suid-Afrika deur te bepaal wat landsburgers se verbintenis tot demokratiese waardes en ondersteuning vir die regering is. Steenekamp sê daar was ook ‘n afname in Suid-Afrikaners se positiewe houding teenoor wetsgehoorsaamheid. Sy sê die toename in onkonvensionele politieke gedrag soos gewelddadige betogings, is ‘n regstreekse gevolg van landsburgers se ontevredenheid met die staat en kan die oorheersende politieke instrument word om die openbare mening te verander en beleidsmakers te beïnvloed. Sy sê ‘n regering benodig die steun van sy burgers om legitiem te bly.