Staatsrede: die hooftrekke


President Cyril Ramaphosa het aangekondig dat Suid-Afrikaners op 8 Mei na die stembus sal gaan om die nasionale en provinsiale regerings te verkies. Hy het aan stemgeregtiges, wat nog nie as kiesers geregistreer het nie, gesê hulle kan dit nog doen voordat die datum in die staatskoerant aangekondig word.

Die president het in sy staatsrede vyf sleutelprioriteite uitgelig waarop sy administrasie vanjaar gaan fokus. Die regering gaan veral fokus op:

  1. ekonomiese groei,
  2. werkskepping,
  3. die verbetering van die onderwysstelsel en
  4. vaardigheidsontwikkeling.
  5. Ramaphosa het die stryd teen korrupsie en die vermoëns van die staat uitgelig as die kern van sy strategie.

President Cyril Ramaphosa het in sy Staatsrede gisteraand gesê die onthullings wat voortspruit uit die Kommissie van Ondersoek na Staatskaping asook ander kommissies is uiters verontrustend. Hy sê dit openbaar die omvang van die misdadigheid wat die kern van ‘n demokratiese land binnegedring het. Ramaphosa het ook die Mokgoro-ondersoek van stapel gestuur wat die geskiktheid ondersoek van twee senior advokate in die NVG, Nomgcobo Jiba en Lawrence Mrwebi. Ramaphosa het die betrokke kommissies, insluitende die ondersoek na die Openbare Beleggingskorporasie, geloof in hulle strewe om die waarheid bloot te lê.

Lees ook: 
11 Belanrike aankondings in SONA: https://www.timeslive.co.za/politics/2019-02-08-11-key-quotes-from-president-cyril-ramaphosas-state-of-the-nation-address/

17 Sleutel aankondigings in SONA: https://www.businessinsider.co.za/key-announcements-in-ramaphosas-state-of-the-nation-address-2019-2

President Ramaphosa het bekendgemaak dat ‘n teenkorrupsie-eenheid, soortgelyk aan die destydse Skerpioene, ingestel gaan word om te help met ondersoeke na ernstige korrupsiesake. Die nuwe direktoraat sal onder die vaandel van die Nasionale Direktoraat van Openbare Vervolging wees. Die vorige eenheid – die Skerpioene – is ontbind toe die ANC dit van magsmisbruik in die ondersoek na politieke sake beskuldig het.

President Cyril Ramaphosa het verwys na die probleem van bendebedrywighede en geweld. Hy sê die totstandkoming in Oktober van die polisie se gemeenskapstrategie is gedoen in `n poging om dit veiliger te maak vir die land se inwoners. Ramaphosa sê geweld teen vroue en kinders het krisisafmetings bereik. Volgens Ramaphosa het die regering dié krisis die afgelope jaar op ‘n meer georganiseerde wyse begin hanteer. Hy het daarop gewys dat `n saamgestelde plan tussen die regering en nieregeringsorganisasies by die presidensiële beraad oor geslagsgeweld bereik is.

President Ramaphosa het aangedui dat die behuisingskrisis aangespreek word. Hy sê die Agentskap vir Behuising sal die volgende vyf jaar 500 duisend bykomende huise landwyd bou, en dat `n bedrag van R30 miljard aan munisipaliteite en provinsies voorsien sal word. Ramaphosa sê die wyse waarop behuising befonds word, sal verander moet word om die agterstand uit te wis. Volgens hom is dit die rede waarom die Ontwikkelingsbank vir Huisvesting gestig is om te help met die befondsing daarvan. Die behuisingsprogram sal ook uitgebrei word sodat gesinne erwe kry met basiese dienste, waarop hulle huise kan bou.

‘n Senior konsultant van die Strategiese Groei- en Innovasie maatskappy – Frost en Sullivan – sê die gaskondensaat wat die Franse oliereus – Total – aan die Suid-Kaapse kus ontdek het, gaan ‘n aansienlike ekonomiese hupstoot vir die land beteken. Dit sal Suid-Afrika ook aan die voorpunt plaas van olie- en gaseksplorasie ten opsigte van ontwikkelende lande. Total het vroeër aangekondig hy het op ‘n wesenlike vonds gaskondensaat afgekom in sy Brulpadda-eksplorasieveld aan die Suid-Kaapse kus, sowat 175 kilometer, suid van Plettenbergbaai. Dit is in die sogenaamde Outeniekwa-kom geleë. President Ramaphosa het in sy Staatsrede na die aankondiging verwys en sê die regering is verheug daaroor. Hy het dit as ‘n keerpunt vir die land se energiesektor bestempel. ‘n Senior konsultant van Frost en Sullivan se Energie-filiaal, Chirag Rathi sê die ontdekking sal op die langtermyn lei tot nuwe aanlegte en werkskepping.

Die sakegemeenskap het President Cyril Ramaphosa se staatsrede grootliks verwelkom. Ekonome het die ontbondeling van Eskom as goeie nuus beskryf. Sakeondernemings het ook die regering se voorgenome stryd teen korrupsie en die regering se planne met staatsinstellings verwelkom. Ramaphosa het ook `n reeks planne aangekondig om die ekonomie `n hupstoot te gee en beleggersvertroue op te bou. Hy het verder aangekondig dat goeie vordering gemaak word met beleidsekerheid, veral met die regulasies vir mynbou en visums aan buitelandse besoekers. Tanya Cohen van die sakevereniging Busa sê veral die planne vir Eskom is gunstig ontvang. Die klem op onderwys en vaardighede en gepaardgaande toekomsplanne is verwelkom. Sy sê daar is baie waarmee gewerk kan word hoewel die besonderhede nog vaag is.

Die IVP-leier, Mangosuthu Buthelezi, het President Cyril Ramaphosa se staatsrede verwelkom. Hy sê Ramaphosa het die land se probleme goed opgesom, maar die groot uitdaging is nou om sy planne in werking te stel. Buthelezi sê probleme soos armoede, ongelykheid, werkloosheid en geslagsgeweld teen vroue en kinders moet aangespreek word. Volgens hom moet die fondse nou gevind word om dié probleme op te los.