Sylvester is pa van 2 welpies!


Sylvester die leeu is nou ‘n trotse pa.

Sylvester die leeu en sy leeuwyfie Angel is nou die trotse ouers van twee oulike leeuwelpies, nadat hulle die eerste week in Maart groot liefde gevind het.

RSG-luisteraars het gister op twee stelle moontlike name besluit vir die twee babas: Karoo en Karabu, of Gamka en Kambro.

Sylvester

Sylvester het bekend geword nadat hy twee keer uit die Karoo Nasionale Park ontsnap het en meer as 370 km buite die park rondgeloop het.

Hy is twee jaar gelede, nadat hy die tweede keer ontsnap en weer gevang is, na die Kuzuko Private Natuurpark net noord van die Addo Olifant Park in Oos-Kaap, verskuif.

Sylvester en sy maanhaar-vriend Fielies is nou die rustige heersers van dié gebied. Sylvester het met sy vaderskap gewys dat hy 100% geïntegreer is in die natuur.

Luister en kyk hoe Sylvester en Fielies brul

Angel steek haar babas 12 weke lank weg

“Die twee mannetjies het met twee leeuwyfies in die park ‘n sterk band gevorm,” het Gerhard de Lange, algemene parkbestuurder van Kuzuko, lid van die Legacy Hotels & Resorts. “Al was albei leeuwyfies eintlik op voorbehoeding, het ons begin vermoed dat Sylvester se leeuwyfie, Angell, tussen 15 en 20 Junie, geboorte geskenk het.”

Angel en haar twee welpies – die eerste keer gesien op 10 September 2018.

“Angel het duidelike tekens getoon dat welpies aan haar drink, maar omdat leeuwyfies hulle babas in die eerste weke en selfs maande baie goed versteek, kon ons hulle nog nie self aanskou en die geboorte bevestig nie. Op Maandag, 10 September, is ons vermoedens bevestig nadat Angel en haar twee welpies begin rondbeweeg het. Ons was gelukkig om hulle te sien.”

Pappa Sylvester en Mamma Angel se oulike tweeling – die eerste keer gesien op 10 September en nou sowat 12 weke oud.

Volgens De Lange is die twee welpies sowat 12 weke oud en lyk hulle gesond.

Mamma Angel is ook gered

Hul ma, Angel, is ook ‘n Kuzuko-suksesverhaal.  Sy en haar suster is op 5 maande ouderdom gered nadat hulle wees gelaat is. De Lange en sy span het besluit om die twee leeutjies in die natuur heeltemal wild te laat grootword en nie te tem of in gevangenisskap groot te maak nie.

Sylvester en Angel se verhaal is ‘n besondere verhaal van bewaring. Sylvester is byna uitgesit omdat hy twee keer ontsnap het omdat mense nie verstaan het dat hy om oorlewing ontsnap het nie – hy het ‘n gebied en ‘n koalisievennoot nodig gehad. Hy en Angel, wat teen alle verwagting in nie as 5 maande oue welpie in die natuur moes oorleef nie, is nou ouers.

“Sylvester hou nooit op om my te verras nie. Sedert ek die eerste van sy ekskapades in die Karoo gehoor het, tot vandag waar hy ten volle met die natuur geïntegreer is in die Kuzuko-gebied, is hy ‘n uitstekende bewys dat bewaring, as dit reg toegepas word, altyd die voorkeur-opsie is.

Welpies is veilig

“Ek kan ook bevestig dat Sylvester al ‘n paar keer Angel besoek het sedert die welpies gebore is, dus is ons baie seker dat Sylvester en Fielies hulle die nodige beskerming sal bied. Ons kan ook bevestig dat die twee welpies net so mooi is as hul pa en fiks en gesond is,” sê De Lange.

De Lange bedank ook SANParks wat hom toegelaat het om die vier spesiale leeus bymekaar te bring.

Meer oor Kuzuko Lodge

Kuzuko Lodge is op ‘n heuwel gebou in ‘n private natuurgebied van 15 000ha net noord van die Addo Olifant Park en in die malaria-vrye Addo-gebied in die Oos-Kaap. Kuzuko Lodge is lid van die Legacy Hotels & Resorts.

Besoek www.kuzuko.com of www.kuzukolodge.co.za of bel +27 42 203 1700 vir meer inligting.