Beste dieetwenke deur 2 dieetkundiges


Kyk weer na die eetplanne wat die afgelope 13 weke verskaf is. Deur kosse uit te ruil volgens die nuttige wenke van die dieetkundiges Irene Labuschagne (foto links) van NICUS (Voedingsinligtingsentrum van die US) en Celeste Naudé (foto regs), van die US se mediese skool, kan jy die eetplan voldoende afwissel sodat jy nie verveeld raak met of moeg raak vir sekere kosse nie.

Hier is enkele wenke deur Irene en Celeste om jou te help:

  1. Begin elke dag van voor af en vergeet van gister se foute. Moenie wag vir die daaropvolgende Maandag nie – daar is niks fout met Dinsdag, Woensdag of Donderdag nie! Gesond eet is lekker – geniet jou kos. Daar is geen goeie of slegte kosse nie; net ‘n goeie of slegte dieet.
  2. Gee jouself ‘n realistiese tyd om ‘n realistiese hoeveelheid gewig te verloor. Stel eerder kleiner doelwitte, bv. om ‘n minimum van 2 – 4kg/maand te verloor. Ideale gewigsverlies word beskou as 0,5 tot 1kg per week. Gewigsverlies word slegs bereik indien ‘n mens minder energie inneem as wat jy verbruik en dit word gewoonlik aanbeveel dat jy jou huidige inname met 2 100 – 4 200kJ per dag sny.
  3. Weeg jouself 1x/week, nie elke dag nie. Gaan hiermee voort, selfs al het jy reeds jou ideale gewig al bereik.
  4. Dit is altyd makliker om te verslank as jy een of twee vriende kan oorreed om saam met jou te verslank.
  5. As jy geneig is om tussen etes te peusel, is dit beter om eerder pleks van drie hoofmaaltye, 4-6 kleiner etes te nuttig op vasgestelde tye.
  6. Sit by ‘n tafel, eet stadig en in ‘n ontspanne atmosfeer. Staan dadelik van die tafel af op as jy klaar geëet het. Moenie eet terwyl jy iets anders doen, bv. TV kyk of lees nie.
  7. Indien jy dit moeilik vind om water te drink, kan nie-energiebevattende vloeistowwe (bv. sodawater, TAB, Coke Light, Schweppes Lemon Lite) of kunsmatig-versoete aanmaakkoeldranke (bv. Low cal, Sweet O of Diet Lecol) gedrink word.
  8. Versoete vrugtesappe bevat baie suiker. Kies onversoete soorte en verdun dit met sodawater of water.
  9. Wanneer jy ‘n sosiale geleentheid bywoon, wees bewus van wat jy eet en wees slim met jou voedselkeuses, byvoorbeeld:
    • Kies ‘n gebakte aartappel met vetvrye maaskaas of gestoomde rys i.p.v. aartappelskyfies.
    • Kies helder/ligte sop i.p.v. roomsop.
    • Kies kosse wat gestoom, gekook of oondgebak is eerder as diepvetgebraaide kosse.
    • Pasop vir pastas en vegetariese geregte (dit bevat gewoonlik baie kaas, room ens.)
    • Kies ‘n vrugteslaai of sorbet i.p.v. ‘n ryk nagereg, bv. sjokolade-mousse/kaaskoek.
    • Berei net genoeg kos vir elke maaltyd voor – oorskiet is ‘n onnodige versoeking.
    • Moet nooit op ‘n leë maag gaan inkopies doen nie.
    • Jy sal vinniger gewig verloor as jy oefening doen. Oefen minstens drie keer per week vir 20-30 minute. Flink stap, draf, fietsry, dans of enige ander oefening is goed.
    • As die hongerpyne jou tot raserny dryf, neem iets ligs soos ‘n koppie tee, ‘n koppie dun, helder groentesop, rou groente, vrugte of ‘n glas dieetkoeldrank.
    • Dink vooruit en beplan jou spyskaart, inkopielys en etes. Hou gesonde versnaperings byderhand vir tye wanneer jy honger word om te voorkom dat jy die eerste, beste opsies gryp wat dikwels hoog in energie, vet en suiker is.