Boek “wat jou tot stilte ruk” Dinsdag op RSG


Só skryf Jonathan Amid oor Die Wonderwese deur Carina Stander, wat van Dinsdag 2 Februarie weeksaande om 19:20 op RSG voorgelees word.

Pieter van Zyl

Die akteur Pieter van Zyl sal weer agter die mikrofoon inskuif vir hierdie opvolg van die gewilde roman, Die Bergengel, ook deur Stander. Albei boeke is deur Protea Boekhuis gepubliseer.

Amor Tredoux is die regisseur van hierdie nuwe aand-boekvoorlesing.Luisteraars het Van Zyl geloof vir sy “uitstekende” voorlesings, toe Die Bergengel in 2017 op RSG gehoor is. Albie van Pretoria het laat weet: “ek mis geen episode nie”.

Op versoek van luisteraars word Die Wonderwese – die tweede boek in Stander se fantasiereeks – nou uitgesaai.

Die storie

Sedert Eron Verberger en Velvel Azazel se gewelddadige struweling in die Vallei van Bergstrome, het omstandighede in Gabriëllië geensins verbeter nie. Die Skoonbrand woed. Rondom die Klaagtermeer weerklink die Klokke van Hongersnood en in Nanaal offer desperate ouers hulle kinders aan ‘n kultusleier om hulle ‘n lewe van slawerny te spaar.

Ten spyte van Eron se verminkte hand is hy nou ‘n begeesterde Voetwerker vir die Geheime Rewolusie teen Vuurstorms en op soek na die laaste Geseëndes op die Kaart sodat hy hom by sy pa in Afrika kan aansluit.

By sy digtervriend Anav Elanov leer Eron dat woorde wapens is en hy stem in om ‘n “opebinnekantvers” na die landsleiers te neem – ‘n waarskuwing teen die gruwels wat gepleeg word in die opkoms van Gabriëllië as wêreldmag. Hy deurkruis stede, woude, moerasse, ysgrotte en bergpieke, bevriend boekgeleerdes en barbare, trotseer wolftroppe, dwaalgeeste en die nageslag van ‘n wangeskape ras.

Maar die knaende vraag in sy binneste bly: As die Wonderwese werklik bestaan, waarom is daar geen teken van dié Teenwoordigheid nie? Of kyk Eron iets wonderbaarliks heeltemal mis?

Die Bergengel as volg geloof: “dis ’n prag-roman: fabelagtig mooi en volwasse, met ware diepte en insig, enigmaties maar ook toereikend. […] Die Bergengel is meer as ’n roman. Dit is ’n kunswerk wat die woord tot heiligdom verhef.”

Die Wonderwese, wat as “ene betowering” beskryf word, debuteer op Dinsdag 2 Februarie om 19:20 op RSG. Luister elke weeksaand na Pieter van Zyl se voorlesing.

Wie is Carina Stander?

Carina Stander

Carina Stander (gebore in 1976) was plaaskind in die Waterberge van Limpopo. Ná ‘n honneursgraad in Beeldende Kuns aan die Universiteit van Pretoria, werk sy ‘n paar jaar vir beeldhouers in Cambridge en die Skotse Hoogland. Sy neem deel aan talle groepsuitstallings (onder andere Sasol Nuwe Handtekeninge) en hou drie solokunsuitstallings. Sedert 2006 is sy vryskutjoernalis by ‘n tiental nasionale tydskrifte en koerante, was twee maal Artikelskrywer van die Jaar by die Media24 tydskrif, Lééf en finalis vir die AKTV-Mediaveertjie. Sy publiseer in versamelbundels en van haar kortverhale en gedigte is voorgeskryf vir skole.

Ná ‘n meestersgraad (met lof) in Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad, verskyn haar digdebuut, die vloedbos sal weer vlieg, (Tafelberg 2006). Dit was op die kortlys vir die Universiteit van Johannesburg debuutprys en agt van dié gedigte is in Groot Verseboek opgeneem. ‘n Handvol gedigte uit haar tweede bundel, woud van nege en negentig vlerke (Tafelberg, 2009) is getoonset deur die Nederlandse musiekgroep, Souldada vir hul CD’s Oer de grins en Watervolk, asook deur Herman van den Berg vir sy CD, Onthou. Saam met die tjellis, die Ha!man (Francois le Roux) bring sy ‘n versmusiek-CD uit waarop sy 15 van haar gedigte voorlees.

Wildvreemd, haar debuutroman, verskyn in 2011 by Tafelberg. Dit is in kunsgalerye in Stellenbosch en Pretoria bekendgestel in samehang met haar inksketse van karakters en tonele uit die boek. Wildvreemd is in Nederlands vertaal deur Riet de Jong-Goossens en verskyn in 2013 by Uitgeverij Athenaeum. Wildvreemd was die voorgeskrewe roman vir graad 12 Afrikaanse privaatskole (IEB) vir 2014 tot 2016 en word tans deur ‘n Johannesburgse filmmaatskappy in ‘n draaiboek omskep. Van Cordis Trust ontvang Carina die Orde van die Goue Pen en sy gebruik dié publikasieprys om haar seun Aden van Niekerk se eie vertellings en sy kinderkuns byeen te bring in Wolkland (2013) – ‘n kinderboek deur ‘n kleuter. In 2015 is Carina en regisseur Matthys Boshoff se konsep vir ‘n kinderfliek gekeur om gementor te word deur Disney-Pixar en Triggerfish Animations.

Die Bergengel was die eerste boek in ‘n trilogie. Die Wonderwese, wat in 2019 verskyn het, is dus die tweede in ’n drieluik.

Carina woon die laaste dekade saam met haar man en twee seuns in die Tsitsikamma.