Die raaisel van die Weskus-watermeisie


Die Karoo se meerminne en die riviergodinne in Xhosa-kultuur skuur skouers in RSG se nuwe oggend-boekvoorlesing. En dit alles gebeur aan die Kaapse weskus.

Die akteur Duncan Johnson gaan van Dinsdag 16 Julie die roman Die vrou van die klippesee deur Meg Vandermerwe elke weeksoggend om 10:45 voorlees.

 

Die kreefsmous Hendrik dog hy yl toe hy ’n beseerde jong vrou op ’n verlate strand aan die Weskus kry, want waar haar bene moet wees, groei ’n visstert, sterk en stewig soos ’n tuna s’n.

Miskien is die wese een van die watermense waaroor sy vrou Rebekkah gepraat het voordat sy vir ewig die see in verdwyn het? Of dalk is sy dit wat die ou Xhosamense ’n “mamlambo” noem.

Hendrik se lewe verander handomkeer wanneer hy die watervrou huis toe neem. Is dit sy seer hart wat sy oë so bedrieg, wonder hy, of lê hier ’n leidraad wat kan sê wat van sy vrou geword het?

Gou besef Hendrik daar loop ’n haarlyn tussen dit wat hy kan sien en dit wat hy moet glo.

Die vrou van die klippesee is deur Umuzi (‘n druknaam van Penguim Random House Suid-Afrika) uitgegee en deur die digter Kirby van der Merwe in Afrikaans vertaal.

J.B. Roux het in sy resensie geskryf die “vertelstyl is vlot en meesleurend” en dat Kirby van der Merwe se vertaling “foutloos” is. Hy voeg dan by: “Die vrou van die klippesee is ‘n vonds vir die Suid-Afrikaanse én Afrikaanse letterkunde. Dit is dalk nog die vonds van die jaar.”

Die vrou van die klippesee volg op Rudie van Rensburg se Hans steek die Rubicon oor en sal van Dinsdag 16 Julie, elke weeksoggend om 10:45 op RSG voorgelees word. Die leser is Duncan Johnson met Kobus Burger as die regisseur.