Luister weer: Die vrou op die skuit


Radioteater: “Die vrou op die skuit”

‘n Kortverhaal deur Elise Muller

Vir die radio verwerk deur André Kotzé

“Die vrou op die skuit” word op 3 Oktober 2019 om 20h00 op RSG uitgesaai.

Die storie

Twee visserskote (Skildery deur Wilko Roon)

‘n Gesin neem hulle jong huishulp, “Bessie”, saam op vakansie na Duinebaai. Sy ervaar alles daar vir die eerste keer en ontmoet  ook ‘n jong man op wie sy verlief raak. Wanneer die gesin haar na 8 jaar weer opspoor, is hulle verbaas om te hoor hoe ingrypend haar lewe intussen verander het. Elise Muller het die kortverhaal in die vyftiger jare geskryf en ontvang ook die Hertzogprys vir die bundel “Die vrou op die skuit”.

André Kotzé het die kortverhaal verwerk in ‘n radiodrama en getrou gebly  aan die dialoog van die skrywer. Dit is ‘n goedvoel storie met ‘n amperse “sprokie”- element.

Die spelers

Die spelers is:

Simonè Benjamin as “Bessie”. Haar lewe verander ingrypend en sy verras die gesin vir wie sy gewerk het deur haar volwassenheid en dapperheid waarmee sy haar omstandighede hanteer.

Frieda van den Heever en Charl van Heyningen speel die Ma en Pa van die gesin en is aanvanklik bekommerd oor “Bessie” en tree beskermend teenoor haar op.

Die drie kinders word vertolk deur Jane de Wet, Karli Heine en Arno Horn. Hulle is baie lief vir “Bessie” en baie opgewonde oor haar eerste kennismaking met die see.

Marlo Minnaar speel die jong boer en visserman op wie “Bessie” haar hart verloor.

Haar lewe saam met hom neem ‘n tragiese wending en sy verras almal met haar groei van onskuldige jong meisie tot sterk, volwasse jong vrou.

TEGNIESE EN AKOESTIESE VERSORGING

Die spelers het baie van die byklanke in die drama self gedoen en Cassi Lowers was verantwoordelik vir die tegniese versorging. Die regisseur het klassieke viool- en klavier-musiek van Schubert gekies, om sover moontlik ‘n “ou”- wêreldse gevoel aan die drama te probeer gee.

Regie

Die regie is behartig deur Joanie Combrink.