Drieklawerblaar = nuwe boekvoorlesing


Boeiende roman oor familie en grond op RSG

 Ná haar aftrede gaan soek die verpleegster Kate Jooste, met jare lange vrae in haar binneste, na Abel Marais op sy wildplaas in die Klein-Karoo. Hoe het haar Ierse oumagrootjie in hierdie dorre streek beland, en wat het alles op dié stuk grond afgespeel?

Abel, ‘n ambisieuse sakeman, is ook gemoeid met sy familiegeskiedenis: sy Hugenote-herkoms lei hom na die Franse platteland, waarna hy hom vestig op ‘n stuk grond digby sy oupa se plaas van vroeër.

En dan is daar Tinneke le Grange, ‘n gastehuiseienaar en weduwee wat moet vrede maak met haar man se fratsdood en die feit dat sy hom verloor het, lánk reeds voor sy afsterwe.

Hierdie drie karakters se verhale word meesleurend vertel in RSG se nuwe oggend-boekvoorlesing, Drieklawerblaar deur Christine Barkhuizen-le Roux. Dit begin op Maandag 28 Oktober om 10:45 in Alhoebekker en kan elke weeksoggend gehoor word. Die aktrise Hannah Borthwick is die voorleser.

Christine Barkhuizen-le Roux, die gewilde skrywer van Padmaker, Getuie en die splinternuwe My naam is Prins, ek slaap met die lig aan, verweef hier die verhale van drie eiesoortige karakters.

Drieklawerblaar (uitgegee deur Human & Rousseau)  is ‘n meesleurende roman oor familie, grond, en die ystergreep wat die verlede op ‘n mens kan hê.

Luister na die kort klankgreep oor wat op jou wag:

WAT DIE RESENSENTE Sê:

“Vir my het die storie gelees soos ’n spanningsverhaal. Ek het letterlik my asem opgehou tot by die laaste hoofstuk,” het Juliana Coetzer op Litnet geskryf.

“Wat kan dan so erg wees dat iemand so swaar onder die gewig van die verlede loop? En dan die skok, die ongeloof en skielik het alles wat ek in die vorige hoofstukke gelees het en nie kon verstaan nie, sin gemaak. Dit is wat die skrywer regkry; sy hou die leser aan die wonder, asof ’n mens met ’n frons lees, die hele tyd.”

“Lesers wat van intriges hou, sal die boek geniet. Die storie is aangrypend en raaiselagtig. Boonop is dit menslik met deernis geskryf sodat ’n mens nie anders kan as om selfs onvergeeflike dade te verskoon nie. Alhoewel die storie boeiend is, is dit die skrywer se vermoë om taal in te span om ’n beeld te skep sodat jy dit op jou tong proe en haar gebruik van beskrywende woorde, soos medemens wat “ewemens” word, wat die boek ’n besondere sjarme gee.”

DIE SKRYWER

Christine le Roux

Christine Barkhuizen-le Roux is ‘n Afrikaanse skrywer van gedigte, kortverhale en romans. Sy is in Vryburg gebore en vier in November 2019 haar 60ste verjaardag.

Om verwarring met die skrywer Eleanor Baker, die skrywersnaam van Christine le Roux, te voorkom, voeg sy haar nooiensvan by haar werklike naam.

Sy debuteer as digter met die bundel dimensie.  Haar kortverhaalbundels sluit in Waar koek en wyn ontbreek, asook Wat die oog gesien het. Haar roman, Padmaker, verskyn op die kortlys van die ATKV Prosaprys, en dit word op RSG voorgelees.

DIE VOORLESER

Hannah Borthwick

Hannah Borthwick is veral bekend om haar verhoogwerk in produksies soos Janneman, teenoor Sandra Prinsloo, die klug Hond se gedagte en N is vir neurose. By RSG-luisteraars is sy bekend om haar voorlesings vir Vers en klank en Kortom, asook vir haar rol in die bekroonde radiodrama Mara wie? deur Kobus Burger en regie deur Margot Luyt.

Sy was ook te sien in Vallei van Sluiers II, die rolprent Verraaiers en Beskermhere.

Hannah is die dogter van die akteurspaar Rika Sennett en James Borthwick. Dit is haar eerste boekvoorlesing vir RSG.