Nuwe voorlesing is liefdesroman


Bertha le Roux Wahl

Die aktrise Bertha le Roux-Wahl skuif eersdaags agter die boekvoorlesing-mikrofoon in vir RSG se nuwe oggend-boekvoorlesing. Sy gaan die joernalis Ronel Nel se liefdesroman Pelgrimshoop (LAPA-uitgewers) voorlees. Dit sal van Maandag 26 November elke weeksoggend om 10:45 op RSG uitgesaai word.

Le Roux-Wahl is by TV-kykers bekend om haar rol as Emma as 7de Laan. Pelgrimshoop is haar heel eerste boekvoorlesing met Kobus Burger as die regisseur.

Ronel Nel se roman is vroeër vir ‘n ATKV Woordveertjie benoem as beste liefdesroman. Dit gebeur selde dat iemand ’n nuwe perspektief kan oopskryf op ’n ou tema. Pelgrimshoop slaag daarin,  deels deur feite uit ons eie geskiedenis en deels deur die skrywer se gesin se verlede, en ’n storie daarvan te maak.

Die storie

Die hoofkarakter, Hannah de Witt kom uit ’n half-Joods, half-Afrikaanse familie van Pretoria af op die fiktiewe dorpie Pelgrimshoop in die Laeveld aan. Dit is 1956, nie ’n maklike tyd vir mense soos Hannah wat andere aanvaar vir wie hulle is en haar nie aan die vooroordele van haar tyd steur nie.

Sy het hierheen gekom as leermeesteres van ’n ryk perdeboer, genaamd Elias Bart. Hy is aanvanklik vir haar ’n enigma. Hy is nors en terughoudend, maar dit is ’n skans waaragter hy sy groot geheim bewaar, besef Hannah mettertyd.

Terwyl sy vir hom die skatkis van wetenskap, musiek en die letterkunde ontsluit, leer sy op haar beurt van hom wat dit beteken om verknog te wees aan die grond en diere, van wat dit beteken om net ’n paar mense aan jou kant te hê in die aangesig van brutale vyandigheid van die kleindorpse gemeenskap. En in Elias leer sy wat liefde is en hoe versigtig dit hanteer moet word.

Hoewel die roman in 1956 afspeel, is die kwessies soos blinde vooroordeel jeens alles wat “anders” is vandag nog net so relevant.

Lof vir die roman

Chanette Paul sê van Pelgrimshoop: “Dis ʼn pragtige verhaal vertel in ʼn interessante skryfstyl. Dis die soort verhaal wat baie relevant is vir ons tydsgees. Dis inherent ʼn liefdesverhaal maar ook meer as dit. Dit gee ’n beeld van die tyd waarin dit afspeel.”

Jeanette Ferreira oor Pelgrimshoop: “Wie in 2017 oor apartheid wil skryf, moet weliswaar weet dat hy/sy ’n oorontginde tema aanpak en dat die roman dus veel meer moet blootlê as die onlogiesheid en onreg van apartheid. Ek meen die roman slaag daarin omdat dit ook sake soos ongeletterdheid, blinde vooroordeel jeens alles wat “anders” is (godsdiens, kultuur, ontwikkeling), die algemene geestesgesteldheid in hierdie periode, en die ware goedheid van eenvoudige, opregte mense uitbeeld. Daarbenewens skep dit ’n aangenaam ouwêreldse atmosfeer in die Laeveld van daardie tyd.”

Oor die skrywer

Ronel Nel

Ronel Nel het ’n digbundel op haar kerfstok: en die here het foto’s geneem oor vanderbijlpark, uitgegee deur Protea Boekehuis, en was op die kortlys vir die Ingrid Jonker-prys. Sy het haar MA in kommunikasie en joernalistiek deur Boston Universiteit in die VSA behaal. Nel skryf sedert 1988 voltyds as vryskutjoernalis vir publikasies soos De Kat, Insig, Beeld, Taalgenoot, Rapport, Weg!, Wegbreek, Sawubona en Getaway.

Sy is tans verantwoordelik vir Rooi Rose se boeke-, kuns- en vermaakafdeling. Sy is ook ’n gereelde rubriekskrywer vir Beeld-koerant en het drie kinderboeke vir die Departement van Onderwys geskryf.