Man van Cirene op RSG


Epiese storie maak radiogeskiedenis op RSG

Die afgelope paar jaar het RSG luisteraars meegesleur met radioverwerkings van gewilde romans soos CM van den Heever se Laat Vrugte, Die verdwyning van Mina Afrika en Die tuiskoms van Mina Afrika deur Zuretha Roos asook Katryn – Vrou van die Richtersveld deur Jan Huisamen.

In 2019 steek ons weer eens die grense oor met die klassieke topverkoper Man van Cirene van F.A. Venter, wat van Donderdag 19 September om 14:45 as middag-vervolgverhaal uitgesaai word.

Met meer as 200 karakters is hierdie epiese en tydlose verhaal ‘n stukkie radiogeskiedenis, sê Kobus Burger, RSG se uitvoerende regisseur: drama. “Dit is waarskynlik die heel grootste rolverdeling tot nog toe en ons moes behoorlik bontstaan om spelers vas te knoop wat die tientalle rolle kon vertolk. Die regisseur (Joanie Combrink) en tegniese regisseur (Cassi Lowers) moes uit hul pad gaan om hierdie majestueuse werk te verklank en geloofwaardig na die eter te bring. Hier is nou ‘n reeks wat luisteraars vir weke lank vasgenael by die draadloos gaan hou.”

Luister na ‘n voorsmakie:

Die storie

Simon van Cirene word gelas om Jesus se kruis te dra, op pad na Golgota. Simon is ‘n man wat nie glo nie… Maar hoe kan ‘n mens onveranderd gelaat word deur ‘n ontmoeting met Christus? Hierdie is die verhaal van Christus se aanslag op ‘n heidense wêreld. Dit is ‘n beeld van wroeging en botsing; van haat en liefde; van ongeloof en nyd teenoor katarsis en geloof. Dit is die verhaal van verlossing en die oorwinning van die gees oor die aardse.

Episode 1 – Donderdag 19 September 2019

In hierdie eerste episode ontmoet ons die sentrale karakters van die verhaal in Cirene, ’n antieke Griekse stad in die huidige Libië, wat ongeveer in die jaar 630v.C tot stand gekom het: Die forsgeboude, bo-gemiddelde groot en sterk Simon Niger, ’n Jood van byna 40 jaar oud, wat die bynaam Niger gekry het vanweë sy donker gelaatstrekke; sy deugsame vrou, Debora en Simon se jarelange kneg en vriend, Esegiël. Simon boer met koring, vrugte, olywe en druiwe op die terrasse van Cirene. Die feit dat sy twee seuns, Alexander en Rufus, onderskeidelik op ’n Romeinse skip werk en in Alexandrië onder die groot Philo Grieks en Latyn studeer, is vir Simon ’n verleentheid. En boonop stel Debora veels te veel belang in ’n man wat in Galilea besig is met ’n nuwe leer wat strydig is met die heilige wet van Israel…

Die skrywer – F.A. Venter

FA Venter

 François Alwyn Venter is op 27 November 1916 in Hopetown gebore. Hy het later in Vioolskraal, Strydenburg en Hopetown skool gegaan en aan die Universiteit van Stellenbosch studeer. Tot en met 1960 was hy joernalis in onder andere Kaapstad, Windhoek en Johannesburg. Hy het toe na ‘n plaas naby Kenhartd getrek en mettertyd op ‘n plaas naby Vredendal begin boer, wat hy in sy boek Werfjoernaal beskryf het.

Venter is veral bekend om sy geskiedkundige romans, kortverhale en jeugboeke. Hy het die Hertzogprys vir prosa vir Swart Pelgrim en Geknelde land ontvang. Vir sy outobiografie, Die keer toe ek my naam vergeet het, het hom die Andrew Murray-prys besorg. Hy het ook onder die skuilname Meiring Fouché, Elske te Water, René Stegmann en Marius de Jongh geskryf.

Man van Cirene is in 1957 gepubliseer en word steeds as ‘n klassieke, tydlose topverkoper beskryf. Dit is weer in 2016 deur Lux Verbi uitgegee.

F.A. Venter is p 8 Julie 1997 oorlede.

Joanie Combrink, die regisseur skryf…

Man van Cirene gaan oor Simon van Cirene, ‘n ortodokse Jood, se pad na bekering. Weens sy opstandige geaardheid word hy gedwing om Cirene te verlaat en vir die Romeine te vlug. Hy is aanvanklik vol ongeloof en teenstand, maar word dan gedwing om Jesus se kruis te help dra op die pad na Golgota. Die ontmoeting met die Messias het ‘n groot impak op sy lewe en is uiteindelik die begin van ‘n groot katarsis. Dit is ‘n verhaal oor die Evangelie van Christus, van dood en opstanding en van verlossing.

Dit is ‘n epiese verhaal, vol aksie en dramatiese gebeure en daarom wou ek graag  musiek kies wat die grootsheid van die verhaal sou kon weergee. Ek het geluister na die musiek van The Passion of the Christ, gekomponeer deur John Debney en na beraadslaging met Kobus Burger, RSG se uitvoerende regisseur: drama,  ook na die musiek van Passion: The Last Temptation of the Christ, gekomponeer deur Peter Gabriel. Die temamusiek van die vervolgverhaal kom uit laasgenoemde en die musiekbrûe uit beide.

Dit is ‘n enorme rolverdeling met geweldige baie karakters en die spelers moes dikwels meer as een rol in ‘n opname sessie vertolk. Dit was ‘n groot uitdaging om so baie spelers te kry wat beskikbaar is vir die opname tydperk en om kop te hou met wie wat en wanneer moet doen.

Dit was ook ‘n geweldige uitdaging vir Casi Lowers, die tegniese en akoestiese regisseur, wat baie uiteenlopende klank-agtergronde en byklanke, almal uit die Bybelse tyd, moes vind of maak. Die spelers moes ‘n groot hoeveelheid daarvan self doen.

Ons het soms baie kreatief geraak en die vreemdste goed gebruik om die regte klanke te kry. Byvoorbeeld een keer selfs springmielies. Eben Cruywagen se verwerking – vol aksie en drama – het heerlike speel-kans aan die spelers gebied en ek kon agterkom dit was vir hulle baie lekker om “prentjies” vir die luisteraars te probeer skep. Nie ek of Cassi het al voorheen so ‘n groot en omvangryke produksie hanteer nie en ten spyte van die harde werk, het ons dit geweldig geniet.

Rolbesetting

Andrè Weideman – Simon

Chris Majiedt – Esegiël, Stemme, Fariseër 2, Stem 4, Man 1

Erica Wessels – Debora

Leon Kruger – Markus Vitellius, Shalom, Blastus, Kamerheer, Soldaat 2

Lee Roodt – Soldate, Tuiemaker, Stem 3, Mansstem, Stem 2, Smid, Man 1, Perdekardrywer, Man 1, Opsigter, Man 3, Beseerde Soldaat

Wilhelm van der Walt – Alexander

Charl van Heyningen – Sextus Quirinius, Josef van Arimatea, Stem 2, Stem

Petrus du Preez – Gaius Papinius, Soldaat, Kajafas

Van links is Lee Roodt, Petrus du Preez, Leon Kruger, Charl van Heyningen, Erica Wessels en André Weideman. En voor is Marvin-Lee Beukes en Anrich Herbst. Foto’s deur Cassi Lowers

Marvin Lee Beukes – Lucius, Slaaf, Filippus, Juba, Slaaf, Beampte 3, Man 2, Kaptein

Wessel Pretorius – Jong Kaptein

Anrich Herbst – Miga

Juanita Swanepoel – Naomi

Martin Venter – Rufus, Farisseër 1, Stem 3

Pieter van Zyl – Nimrod, Mansstem 2, Herodus, Sergus

Emma Kotzé – Maria van Betanië

Mariechen Vosloo – Marta

Conradie van Heerden – Lasarus asems, Stem 1, Saulus, Stem, Beampte 2, Goewerneur

Pascual Wakefield – Saulus, Raadgewer, Soldaat 1, Stem 1

Wilhelm van der Walt – Lasarus

Jozua van der Lugt – Ou Man 1, Mansstem 1, Ou Jood, Stem 2, Soldaat 2

Johan Estherhuizen – Ou Man 2, Romeinse Hoofman, Hoofman oor 100, Ou Man, Opsigter

Van links is Chris Majiedt, Martin Venter, Joanie Combrink (regisseur) en Pieter van Zyl

Johann Nel – Ou Man 3, Pilatus, Opsigter, Festus, Beampte 1, Bejaarde Jood

Carel Nel – Judas Iskariot

Jacques Bessenger – Jesus

André Samuels – Raadgewer, Soldaat 1, Herder, Slaaf, Priester, Slaaf 2, Man

Daneel van der Walt – Claudia

Waldemar Schultz – Barabbas, Bedelaar 1, Bedelaar 2

Stian Bam – Simon Petrus

Charlton George – Man 2, Voorman

De Klerk Oelofse – Quintus

Nic de Jager – Gabriël

Eben Cruywagen (verwerker) skryf…

Om ’n boek te verwerk vir die verhoog of enige van die elektroniese media (insluitend radio) is ’n tydsame proses. Die boek moet meer as een keer gelees word. ’n Eerste deurlees dien as oriëntering: wie is die karakters, wat is hulle rol, waaroor gaan die storie? By ’n tweede deurlees raak dit meer tegnies: is daar dele wat gewysig of medium-spesifiek gemaak sal moet word; is daar dele wat liefs vir die medium waarvoor dit verwerk word, uitgelaat moet word?

Met die derde deurlees gaan dit spesifiek oor die keuse van karakters, en veral die keuse van newe- en randkarakters. Met die verwerking van die Mina Afrika-romans en CM van den Heever se Laat Vrugte was daar wel veel meer karakters as wat prakties en geloofwaardig geakkommodeer kon word in ’n radiovervolgverhaal, maar die keuse was relatief voor-die-hand-liggend. In die geval van Laat Vrugte was dit byvoorbeeld nodig om ’n enkele karakter uit die versameling plaaswerkers te skep wat ’n konkrete bydrae tot die intrige kon lewer. En so het Jannewarie op die toneel verskyn. Sy rol was ook veel meer omvattend as in C.M. van den Heever se bekroonde roman. Hy was meer as ’n blote plaaswerker. Hy was ’n klankbord en vertroueling vir die knorrige Sybrand en die sensitiewe Henning. Nonnie was weer ’n karakter wat hoegenaamd nie in die roman voorkom nie, maar wat noodsaaklik was om aan Ouma Willa se gedagtewêreld gestalte te gee.

Rolprentregisseurs soos Cecil B. de Mille, Franco Zeffirelli en relatief onlangs, Mel Gibson, sou kon getuig dat ’n onnoembare hoeveelheid karakters en verhale oor Bybelse karakters sinoniem is. Anders is dit eenvoudig nie geloofwaardig nie. Dit is wat sulke rolprente in die moderne era te duur laat word het om te vervaardig. Wat rekenaargegenereerde stelinkleding en -karakters genoodsaak.

Met klankdrama is die hoeveelheid karakters, newe-karakters en figurante in so ’n verhaal ewe belangrik. F.A. Venter kon ook nie ’n geloofwaardige roman skryf oor die man uit Noord-Afrika sonder om aan die leser die skares in stede soos Alexandrië, Rome en Jerusalem te beskryf nie.

By die lees van Man van Cirene was ek deeglik bewus van hierdie dilemma. Uiteraard is dit onmoontlik om aan elke karakter deur F.A. Venter genoem of beskryf ’n stem te gee. Maar sekere stemme staan tóg uit en lewer ’n bydrae tot die intrige. Van die belangrikstes word gelys tydens die derde deurlees. Terselfdertyd word aantekeninge gemaak van verhaalboë. Waar begin ’n reeks handelinge (soos die oes van die koring in Cirene voor die gehate Romeine die oes kom haal om na Rome en ander stede in die Ryk te verskeep) en waar en hoe eindig dit? Noukeurige aantekeninge oor bladsynommers waar ’n reeks handelinge begin en eindig word gemaak, sowel as waar bykomende dialoog geskryf sal moet word om sekere beskrywende gedeeltes te ondervang – óf om ’n aspek te verduidelik, óf om aansluiting te vind by ’n beskrywing of vertelling in ’n latere hoofstuk.

Nog ’n aspek wat noukeurig aangeteken moet word, is die belangrike beskrywende gedeeltes wat as dialoog in die teks opgeneem moet word, of wat bloot as byklanke oorgedra sal kan word.

Vir elke episode word daar dan ’n sinopsis met die karakters wat in daardie episode voorkom, geskryf. Elke episode word in tonele verdeel. ’n Sterk episode sal ’n duidelike dramatiese struktuur vir elke toneel, sowel as vir die episode as sodanig vertoon.

Die rolprentverwerker poog dikwels en soms uitsluitlik om die konvensies van die rolprentmedium te gehoorsaam en die patroonmatigheid van die geslaagde rolprent-intrige te volg, soms ten koste van die toonaard en intrige van die bron wat verwerk word. Ek glo sterk daaraan dat die intrige en sentrale karakters van die oorspronklike materiaal, hetsy verhoogdrama of prosa, die enigste ware riglyn is. Daarom bly dit ’n geweldige uitdaging om die balans te vind tussen radiomatige teks en dialoog enersyds, en ’n getroue weergawe van die oorspronklike werk andersyds.