Nuwe aandboekvoorlesing is heerlike, moderne sprokie


“Ek wens, ek wens daar was meer sulke boeke in Afrikaans,” het die bekroonde skrywer Marita van der Vyver oor Zirk van den Berg se Ek wens, ek wens (Kwela Boeke) gesê.

Die skrywer en joernalis Kerneels Breytenbach het dit ‘n “fabel vir moderne tye” genoem en as ‘n “heerlike verhaal” beskryf.

Dié boek word van Donderdag 6 Junie elke weeksaand om 19:20 in RSG se tydgleuf vir die aandboekvoorlesing voorgelees.

Die akteur Marlo Minnaar sal agter die mikrofoon inskuif met Ronel Geldenhuys as regisseur.

Zirk van den Berg

As lykbesorger het Seb al talle lyke gebalsem, organe teruggepak in lyfholtes, beendere aanmekaargelas en doodsbleek gesigte gegrimeer vir roubeklaers om te besigtig. ‘n Mens het jou werk en jy doen dit; dit help nie om vir ander goed te wens nie.

Maar af en toe wens Seb tog vir die een of ander ingryping om hom los te ruk uit sy saai bestaan – nie net by die werk nie, maar ook by die huis, waar hy, sy vrou en tienerkinders by mekaar verby leef.

Eendag, toe die sterwende seuntjie Gawie en sy ma by die begrafnisondernemers instap, kry Seb wel rede om in wense te glo. En hy kom voor ‘n dilemma te staan: waarvoor wens jy as jy één weens het wat waar gaan word? Veral as dinge lelik begin skeefloop…

Ek wens, ek wens word ook beskryf as ‘n sprokie vir ons eie tyd.

Marlo Minnaar

Die skrywer Zirk van den Berg is in Namibië gebore en het met die kortverhaalbundel Ekstra dun vir meer gevoel gedebuteer. Hy was ‘n subredakteur by Beeld en later misdaadverslaggewer en kunsjoernalis by Die Burger. Later werk hy as kopieskrywer in Sanlam se kommunikasiedepartement saam met onder andere Deon Meyer, Rudie van Rensburg en Francois Bloemhof. Van sy ander romans sluit in ‘n Ander mens, Halfpad een ding en Die vertes in.

Van den Berg het in Augustus 1998 saam met sy gesin na Nieu-Seeland verhuis waar hulle in Browns Bay in die noordelike voorstede van Auckland woon. In Nieu-Seeland was hy bevriend met die skrywer wyle Ryk Hattingh, wat nie ver van hom af gewoon het nie. Van den  Berg het Ek wens, ek wens aan Hattingh opgedra.