Nuwe aand-boekvoorlesing – Een nag en ‘n bietjie


Hester Kruger. (Foto: André Damons, Netwerk24)

‘n Buitengewoon meesleurende leeservaring. Só het die digter Antjie Krog die boek, Een nag en ‘n bietjie deur Hester Kruger, beskryf.

Elmari Rautenbach het die volgende gesê: “ Dit was veral hoe so ‘n ervaring mense tot op die been stroop wat my eenvoudig laat ween het. Niks omtrent hierdie verhaal laat jou onaangeraak nie.”

Een nag en ‘n bietjie (2016, uitgegee deur Human & Rousseau) is RSG se nuwe aand-boekvoorlesing en begin op Vrydag 29 Maart om 19:20. Dit sal elke weeksaand om 19:20 gehoor kan word met die aktrise Amor Tredoux as die leser.

Die boek is gegrond op ware gebeure. Daar was die dag vóór die gebeure, en die dag daarná. En dan was daar die nag tydens. Nooit weer sal Margaretha se lewe dieselfde wees nie. Een gewone weeksaand is sy en haar man in hul plaaswoning tussen Middelburg en Groblersdal beroof en ontvoer. Wonder bo wonder het hulle albei die nag oorleef.

Luister na ‘n voorsmakie van die voorlesing:

Volgens die flapteks is dit ‘n verhaal wat ons herinner aan wat dit is om mens te wees in Suid-Afrika. Dit is ‘n hartverskeurende boek, en aangrypend. Maar tog laat dit jou jubel jy woon hier, in hierdie verraderlike, verrassende en onvoorspelbare land.

Volgens Joan Hambidge is dit ‘n “boek van oorlewing”. Sy voeg by: “Daar is dan ook iets lewendiger as die lewe, self: ‘n boek wat aan aander mense se pyn woorde en vertroosting bied.” (Lees Joan Hambidge se resensie hier.)

Amor Tredoux

Ronel Geldenhuys

Die voorleser Amor Tredoux was voorheen draaiboekskrywer vir die sepie Egoli en onder andere bekend om haar rol as Mariana du Toit in die reeks Erfsondes.

Die regisseur van die boekvoorlesing is Ronel Geldenhuys.