Nuwe boekvoorlesing: Opwindende “Die taal van been”


Digter se ‘opwindende’ debuut op RSG voorgelees

Die literator, kunstenaar, digter en skrywer Heilna du Plooy se debuutroman, Die taal van been (Litera), word van Woensdag 26 Desember op RSG voorgelees. Dit is die nuwe aand-boekvoorlesing – weeksaande om 19:20 – en sal deur die aktrise Nelmari Kemp (wat voorheen Woutrine Theron se Dans met die rooi rok vir RSG aangepak het) voorgelees word. Du Plooy se roman is deur Joan Hambidge as ‘n “opwindende teks” beskryf, terwyl Louise Viljoen gesê het dit is ‘n “hoogs leesbare en sensitiewe roman”.

Willie Burger skryf as volg in die tydskrif Vrouekeur:

“Wat gebeur wanneer ‘n vrou vasgevang voel in ‘n lewe wat sy aan haar gesin gewy het en haar eintlike passie, om kreatief te leef, uitgestel of onderdruk het? Wat gebeur as só ‘n vrou deur omstandighede met haar eie lewe gekonfronteer word en besluit om haar kreatiewe self te herontdek? Wat gebeur as sy in hierdie tyd ook ‘n ander man as haar eie ontmoet?”

Dit is “ ’n ander soort CSI-teks,” skryf Marius Crous, “een waarin besin word oor die kuns, die vervlietende aard van die skeppingsdrif, herinnering en ’n subtiele impressionistiese blik op die interaksie tussen man en vrou. Ons het behoefte aan Carolien se ideologiese naïwiteit om te kan oorleef.”

Die taal van been is ‘n roman oor gewone mense se strewe en verlies en die onthutsende werklikheid wat onder die oppervlak skuil. Dit is tegelyk ‘n liefdes- en speurverhaal met ‘n politieke ondertoon. Dit is voorts ‘n roman wat subtiel by die luisteraar gaan spook omdat dit dinge sê wat die teks verswyg.

‘n TV-program oor die rekonstruksie van skedels, dwing Carolien, ‘n kunsdosent wat haar werk deur regstellende aksie verloor, se gedagtes terug na ontstellende gebeure 15 jaar gelede, en na die vreemdeling wat sy toe geteken het.

Luister van Woensdag 26 Desember, elke weeksaand om 19:20, na Die taal van been, voorgelees deur Nelmari Kemp. Die regisseur is Ronél Geldenhuys.

Heilna du Plooy

DIE SKRYWER

Heilna du Plooy  (1947) is gebore in Pretoria en het grootgeword op Bronkhorstspruit en Alberton waar haar ouers vanaf haar tiende jaar gewoon het. Haar ouers was albei onderwysers en sy is die middelste van drie dogters. Sy het studeer aan die PU vir CHO (BA en onderwysdiploma 1965-1968) en het later haar honneurs (1977) en MA (1982 onder leiding van prof. Elize Botha) aan die Universiteit van Pretoria (UP) behaal. Haar proefskrif het sy geskryf onder leiding van prof. T.T. Cloete in Algemene Literatuurwetenskap van die voormalige PU vir CHO. Dit is gepubliseer (Butterworth, 1986) as Verhaalteorie in die twintigste eeu.

Na haar studies in Potchefstroom het sy vir een jaar skoolgehou en is daarna getroud met Andries du Plooy. Hulle het vir ses jaar in Durban gewoon waar Dries predikant was van die Gereformeerde Kerk Durban. Daarna was hulle vir elf jaar in Pretoria in die gemeente Alkantrant. Hulle het vier kinders, ’n dogter en drie seuns en nou ook vyf kleinkinders.

Na voltooiing van haar studie aan UP was Heilna vir twee jaar deeltyds verbonde aan die Departement Afrikaans aan UP en daarna vir amper vier jaar ’n dosent aan UNISA. Dries word in 1986 professor in Kerkreg aan die Teologiese Skool en die PU vir CHO en die gesin trek Potchefstroom toe.  Daarna het Heilna vir vyf jaar klasgegee in Algemene Literatuurwetenskap aan die PU vir CHO en word toe aangestel in die Departement Afrikaans en Nederlands (vanaf 1992 tot 2012). Sy is tans professor en senior navorser in die Navorsingseenheid Tale en Literatuur in die Skool vir Tale aan die NWU.

Sy is die skrywer van  ongeveer  60 navorsingsartikels en talle hoofstukke in boeke oor Afrikaanse en Nederlandse prosa en poësie en teoretiese onderwerpe,

Sy het ’n aantal kortverhale gepubliseer asook vertalings van gedigte.  In 2013 het ’n vertaling van werk van Willem van Toorn verskyn met die titel Paaie vir die deurtog (Litera).  Daar het drie digbundels uit haar pen verskyn – Die donker is nooit leeg nie (Tafelberg, 1997) en In die landskap ingelyf (Protea, 2003) en Die stilte opgeskort (Protea, 2014). In 2016 verskyn haar eerste roman, Die taal van been (Litera). Tans werk sy aan ’n brieweboek van geselekteerde briewe uit die nalatenskap van Elize Botha. Sy was ook betrokke as literêre adviseur by die Cloete-omdigting van die Psalms en is tans literêre adviseur by die nuwe direkte vertaling van die Bybel in Afrikaans.

Vir afleiding teken en skilder sy (waterverf en oliverf), luister graag musiek en maak tuin.

UITTREKSEL UIT “DIE TAAL VAN BEEN”

Op ’n aand het Carolien in Frans se studeerkamer ingestap, die skinkbord met tee op die lessenaar se hoek neergesit en gesê: “Ek wil ’n jaar van my lewe hê. Een jaar van my lewe vir myself na twintig jaar waarin ek probeer het om alles vir almal te wees.”

Sy het self bietjie geskrik vir hoe stomp dit uitgekom het, maar sy het die woorde so uitgedink en besluit om dit net so te sê.

Frans het opgekyk: “Sê weer?”

Forensiese rekonstruksie van ‘n skedel om die persoon te identifiseer

Omdat die weefsel van die gesig op spesifieke plekke spesifieke diktes het weens onderliggende spiere en weefsel, kan die skedel nou driedimensioneel opgebou word.

Selfs met sketse (twee-dimensionele rekonstruksie) kan akkurate voorstellings geskep word.

(Lees meer oor forensiese rekonstruksie van skedels: https://en.wikipedia.org/wiki/Forensic_facial_reconstruction)

NELMARI KEMP – VOORLESER

Nelmari Kemp

Nelmari Kemp verwerf haar BDram-graad (2006) en honneursgraad (2007) beide Cum Laude aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy word in haar honneursjaar benoem vir ‘n Fleur de Cap-toekenning in die kategorie Mees Belowende Student.

Nelmari het in 2007 haar professionele debuut as aktrise gemaak in die rol van Miranda in Shakespeare se Die Storm, geregisseer deur Marthinus Basson, wat daardie jaar by die KKNK, Aardklop en ook in Stellenbosch te sien was. Vanaf 2008 tot 2011 is sy betrokke by verskeie kinderteaterproduksies en onder meer te sien in die titelrol in die gewilde jaarlikse Vlooi-produksies van Margit Meyer-Rödenbeck en Marinda Engelbrecht.

Vanaf 2008 tot 2015 leef sy haar liefde vir opvoedkunde, ontwikkeling en letterkunde uit as hoërskoolonderwyser in Afrikaans en Drama en sluit in 2015 as projekleier aan by die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans – ‘n niewinsgewende organisasie gefokus op funksionele geletterdheidsontwikkeling. Sy is tans werksaam as vryskut-projekbestuurder in die veld van opvoeding en geletterdheidsontwikkeling.