Nuwe boekvoorlesing saans is ‘n speurverhaal


Eksentrieke vrou verdwyn ná vendetta

RSG se nuwe aand-boekvoorlesing is ‘n speurverhaal met ‘n paar interessante kinkels. Vermis op Allesverloren deur Anchien Troskie word van Vrydag 3 Maart op weeksaande om 21:10 voorgelees. Die leser is die aktrise Joanie Combrink. Troskie is ook die skrywer van Dis ek, Anna (as Elbie Lötter) en Nooit is ‘n lang, lang tyd.

Die storie
Wanneer Melinda Visser een oggend opstaan, het haar tante Erta spoorloos verdwyn. Hoekom lê die skêr, verf en karton nog op die kombuistafel asof sy onderbreek is? Waarom het sy nie ‘n briefie gelos soos sy altyd maak nie?

Jare gelede is Erta van Tonder deur die dorpenaars as ‘n heks gebrandmerk oor haar kruierate en eksentrieke gedrag, veral nadat Oudominee begin het met sy vendetta teen haar. Die mense van Allesverloren het haar mettertyd vir alles blameer, selfs die droogte!

Melinda vermoed onraad en al plan wat sy het, is om Barrie Barnard, ‘n privaatspeurder, in te roep om Erta te vind… voor dit te laat is.

Luister hier na ‘n kort uittreksel:

Joanie Combrink

Luister op Vrydag 3 Maart net na die nuus en weervoorspelling na die eerste voorlesing uit Vermis op Allesverloren met Joanie Combrink as die voorleser.

Meer oor Anchen Troskie
In 2004 het Troskie met Dis ek, Anna (Tafelberg) gedebuteer. Die boek is onder ‘n skuilnaam, Elbie Lötter, gepubliseer. Die boek is met die Nielsen BookData Bookseller’s Choice-prys bekroon en meer as 75 000 eksemplare is van die Afrikaanse uitgawe verkoop.
Dis ek, Anna is geskoei op ‘n ware verhaal – Troskie se traumatiese kindertyd weens seksuele molestering deur haar stiefpa. Dit is ook later as ‘n verhoogstuk en rolprent verwerk.
Troskie is op 11 Julie 1968 op Virginia in die Vrystaat gebore. Sy het in 1986 met Kringe in die bos langs haar gematrikuleer. Deesdae woon sy in die Oos-Kaap, is getroud en het twee kinders.