Nuwe oggend boekvoorlesing: Hans steek die Rubicon oor


Op 90 loop Hans nié met ‘n loopring nie. Hy is nog hups en springlewendig. Sy orige kinders maneuvreer hom egter vanuit hul tuistes oorsee uit sy lekker ou huis in die Kaap en in Huis Madeliefie in. Maar Hans skop nog kliphard, en gou lei hy ‘n ouetehuisopstand teen die onhoudbaar drakoniese matrone – ‘n afgetrede tronkbewaarder…

Dit is daggakoekies, ontkleedansers, Viagra vir die bloeddruk en vet sports net waar jy kyk in hierdie hoogs komiese roman oor oudword op eie terme.

Die gewilde skrywer Rudie van Rensburg (foto regs) se Hans steek die Rubicon oor word van Woensdag 3 April op RSG voorgelees. Dit is die nuwe oggend-boekvoorlesing met die akteur Tobie Cronjé agter die mikrofoon.

Rudie van Rensburg is bekend om romans soos die onlangse Medusa, asook Slagyster, Kopskoot, Judaskus, Pirana en Kamikaze.

Die storie

“Die storie handel oor ’n 90-jarige man (Hans) wat deur sy verloopte kinders (wat almal in die buiteland bly) gedwing word om ouetehuis toe te gaan,” het Van Rensburg aan Litnet vertel. “Hy is nie lus of gereed daarvoor nie. Sodra hy met die drakoniese bestuur van die plek te make kry, word hy ’n rebel en aktivis, ’n oom wat niks het om te verloor deur in opstand te kom nie. Hy word die matrone se grootste nagmerrie: ’n ou man wat vir homself kan dink en tot aksie oorgaan. En uiteindelik is Hans ook die katalisator vir die ander senior burgers se verset.”

Van Rensburg noem Hans steek die Rubicon oor ‘n “asemskepboek”.

“Dit is beslis nie ’n nuwe rigting wat ek inslaan nie. Maar ek wil ook nie ingeperk voel as ek die behoefte het om ’n ander genre aan te pak nie. En ek wil ook nie die moontlikheid uitsluit dat ek dit weer in die toekoms gaan doen nie – hoewel spanningsfiksie maar altyd my eerste liefde sal bly.”

Die roman het ‘n lang aanloop gehad. “Dit het “ontkiem” toe Kassie Kasselman, die speurder in my spanningsromans, se bejaarde ma in Kamikaze deurmekaar raak met ’n oom wat nie sy goedkeuring wegdra nie. Dit het vir lekker humor gesorg en het my geïnspireer om ’n kortverhaal oor ’n senior burger (Hans) te skryf vir die US se Woordfeesbundel van 2017. Dié kortverhaal het bly spook by my en “gesoebat” om ’n boek te word. En só het Hans se storie lyf gekry.”

Hans steek die Rubicon oor (Queillerie-uitgewers) sal weeksdae om 10:45 op RSG gehoor kan word, met die 70-jarige Tobie Cronjé wat voorlees.

Die regisseur is Kobus Burger.