Stralerjakkers terug op RSG


Die gewilde radio-vervolgverhaal, Stralerjakkers, keer terug ter viering van die 80 Jaar van Afrikaanse Radio.

Stralerjakkers, wat tussen Augustus 1996 en Desember 2001 uitgesaai is, het tot ‘n almintige 1 368 episodes gelei en keer op keer word daar versoek dat RSG dit weer uitsaai.

Leon van Nierop het intussen die verhaal as ‘n roman verwerk, en dit is vroeër vanjaar deur Tafelberg uitgegee.

Die reeks se gewilde en geliefde karakter Girly Lubbe (onverbeterlik deur die aktrise Elize Cawood vertolk, foto links), gaan van einde Oktober weer op RSG gehoor kan word om Stralerjakkers te laat herleef.

Stralerjakkers gaan van Dinsdag 31 Oktober elke weekoggend om 10:45 in die oggend-boekvoorlesing gehoor. Elize Cawood, oftewel Girly Lubbe, sal Leon van Nierop se romanverwerking voorlees.

Die regisseur is Kobus Burger.

Luister hier na ‘n een van die oorspronklike episodes uit RSG se argief:

“Die boek is vir die luisteraars geskryf wat die karakters en storie op hulle manier liefgekry het, en ek het die presiese storielyne, sêgoed en kultuur van die radioverhaal presies so probeer behou,” sê Van Nierop.

“Om 17,000 bladsye se storie in ʼn roman in te pas, was ʼn onbegonne taak, daarom dat so baie karakters en storielyne ongelukkig weggeval het. Wat oorgebly het, is die hoofstorie soos hy vir soveel jare lank uitgesaai is. Ek hoop die RSG-luisteraars, en dalk ʼn paar nuwe lesers wat bykom, geniet dit.”

Stralerjakkers (die boekvoorlesing) volg op John Miles se Op ‘n dag, ‘n hond, wat tans deur Louis van Niekerk voorgelees word.