Nuwe Irma Joubert treffer op RSG


Topverkoper- historiese roman debuteer op RSG.

Mentje, kind van Pas-opkamp deur Irma Joubert, is RSG se nuwe aand-boekvoorlesing en begin op Maandag 5 Augustus om 19:20.

Die aktrise en voorleser Roeline Daneel skuif agter die mikrofoon in om aan dié meesleurende verhaal lewe te gee. Die regisseur is Amor Tredoux.

Irma Joubert is ’n geliefde naam in historiese fiksie. Al haar vorige romans was topverkopers en met Mentje, kind van Pas-Opkamp (Lapa-uitgewers) sit sy hierdie tradisie voort.

Die aand-boekvoorlesing word elke weeksaand om 19:20 uitgesaai. Mentje… volg op Zirk van den Berg se Ek wens, ek wens, wat deur Marlo Minnaar voorgelees is.

Die storie

Die Here, Pappa se Hemelse Vader, het saam met Pappa verdwyn. In hierdie tent vol mense is sy stokalleen. “Ek is net maar hier, dink Mentje. Net maar nog ’n mond wat moet kos kry, nog ’n lyf wat gewas moet word, nog ’n asem in die hut. Nog ’n kind.”

Die Tweede Wêreldoorlog in al sy hebsug en barbaarsheid breek uit toe Mentje de Vries, ’n Nederlandse oorlogswesie, tien jaar oud is. Sy beland saam met Joodse vlugtelinge in ’n geheime kamp in die Nederlandse woude. Toe die situasie te gevaarlik raak omdat die Duitsers die kamp enige dag gaan ontdek, moet sy vlug na familie in Arnhem, maar daar is sy ook nie welkom nie. Sy moet veg om oorlewing tydens die Slag van Arnhem en gepaardgaande Honger Winter van 1944 tot 1945.

Byna aan die ander kant van die wêreld, in Suid-Afrika, sluit Tinus van Jaarsveld as ’n valskermsoldaat by die Britse Leër aan. Dit is nie soseer trou aan die Britse Ryk wat hom daartoe dryf nie, maar die vergoeding wat hy daarvoor gaan kry, want hy wil die Van Jaarsvelds se familieplaas terugkoop. Toe hy by Arnhem gewond word, stel Mentje haar lewe in gevaar om hom te red.

Ná die oorlog laat kom Tinus haar na Suid-Afrika en sy moet aanpas by nuwe omstandighede, midde-in drie geslagte van die verskeurde Van Jaarsvelds. Verlies en versoening, mensliewendheid en vergifnis is die kamerade wat Mentje en Tinus deur beproewende tye dra.

DIE SKRYWER – IRMA JOUBERT

Irma Joubert

Irma Joubert begin eers skryf toe sy einde 2004 aftree ná 35 jaar van onderwys. Sy publiseer verskeie artikels en kortverhale in tydskrifte en word in 2005 aangewys as Media24 se “Spesialis-joernalis van die Jaar”.

Vandag is Irma Joubert een van Suid-Afrika se groot uitvoerprodukte en gewilde romansiers. Beide haar Tussen stasies-trilogie en haar Pontenilo-trilogie, asook die eerste twee boeke van haar oorlogstrilogie, naamlik Immer wes en Mentje, kind van Pas-Opkamp, is in Nederlands vertaal, waar dit telkens onder die topverkopers tel. Vier van haar boeke is reeds in Duits vertaal en HarperCollins in Amerika het The girl from the train (Tussen stasies) in 2015 uitgegee. Tussen stasies is ook destyds op RSG voorgelees.

Kronkelpad verower in 2014 die BCB Publieksprijs in Nederland. In die VSA is The girl from the train in 2016 ’n finalis vir die Christi-awards, ’n buitengewone eer vir ’n vertaalde werk, en is dit deur Logos Books aangewys as die “Best Book of 2015”.

Roeline Daneel (Foto: Headshots Cape Town)