Die tuiskoms van Mina Afrika meer aangrypend as eerste verhaal


Toe Die verdwyning van Mina Afrika, ‘n radio-verwerking van Zuretha Roos se gelyknamige roman, in 2015 op RSG as middag-vervolgverhaal begin het, sou niemand die gewildheid of sukses kon voorspel nie.

Mettertyd het luisteraars trane afgedroog, ander wou vir Mina Afrika aanneem en honderde (indien nie duisende nie) het gesmeek dat RSG die vervolgverhaal verfilm. Dit sal ‘n uitstekende rolprent maak, was keer op keer die versugting. (Lees hier die storie van Die verdwyning van Mina Afrika – dit einding in 1961, toe Mina 19 jaar oud was.)

“In my beskeie opinie is die opvolgverhaal deur Zuretha Roos selfs meer aangrypend as die eerste,” sê die verwerker en regisseur Eben Cruywagen. Die tuiskoms van Mina Afrika (uitgegee deur Tafelberg) begin op Donderdag 9 Februarie om 14:45 op RSG.

Simoné Benjamin

Simoné Benjamin wat die titelrol in die eerste vervolgverhaal vertolk het, is terug as Mina. Lees meer oor Simoné.

In Die tuiskoms van Mina Afrika is dit agt jaar later (dit speel in 1969 af) en volgens Cruywagen is Mina in hierdie verhaal meer kompleks as die kind en tiener wat ons leer ken en liefkry het.

“Die intrige is meer gesofistikeerd en die karakters interessanter en meer uiteenlopend. Die karakters van Myra Ballantyne (vertolk deur die gedugte verhoogaktrise Diane Wilson) en Klaas Benson (vertolk deur die veteraanakteur Neels Coetzee) word onverbeterlik pateties en weerloos deur Zuretha Roos uitgebeeld. Twee waarlik aangrypende karakters en sonder twyfel my gunsteling-karakters in die (tweede) roman,” sê Cruywagen.

Hierdie uittreksel uit Die tuiskoms van Mina Afrika gee ‘n voorsmakie van die menslike intriges wat wag:

Kyk die video wat agter die skerms geneem is tydens die opnames en ontmoet die spelers:

Die tuiskoms van Mina Afrika is in Kaapstad onder spelleiding van Eben Cruywagen opgeneem. Hy beantwoord enkele vrae:

Luister hier na die onderhoud:

Watter uitdagings bied die radioverwerking van ‘n roman?

EC: Ten eerste moet ek beklemtoon dat dit vir my ’n reuse voorreg was om eers Die Verdwyning van Mina Afrika, en nou weer Die Tuiskoms van Mina Afrika te kon verwerk. In my beskeie opinie is die opvolgverhaal deur Zuretha Roos selfs meer aangrypend as die eerste. Die uitdaging vir my as verwerker was egter groter met Die Tuiskoms van Mina Afrika, want in Die Verdwyning van Mina Afrika is die verhaal baie meer chronologies of liniêr vertel. Met Tuiskoms is daar heelwat stukkies en brokkies van verhaalboë wat in een hoofstuk begin, maar eers in (’n) latere hoofstuk(-ke) opgevolg word, terwyl die tydlyn van hierdie boë soms chronologies verloop. Die uitdaging is dus om die verhaal só oor te dra dat dit radiomatig is, sonder om die aard van die roman (te ingrypend) aan te tas. Maar ja, dis nie maklik nie en dit verg weke se werk. Elke bruikbare stukkie teks moet aangeteken word en waar vertelling of beskrywing voorkom, moet daar dialoog en/of gepaardgaande byklanke bedink word om reg aan die verhaal te laat geskied.

Zuretha Roos se werk is gelukkig van so ’n aard dat heelwat van die dialoog as’t ware aan die verwerker voorgesê word. Waar daar nie dialoog bestaan nie, is dit dus veel makliker om in die register van ’n betrokke karakter dialoog te skep.

Een van die grootste struikelblokke by die verwerking van ’n roman, is dat daar heelwat meer karakters is as wat die radio kan akkommodeer. In beide romans was daar meer as vyftig karakters. Die verwerker moet dus besluit watter karakters vermy kan word, watter karakters belangrik is, maar nie sterk genoeg is om hulle verskyning te maak nie, en watter karakters onmisbaar is omdat hulle die intrige dra. Die middelste groep karakters wat belangrik is, maar nie sterk genoeg is om te verskyn nie, word in die groep onmisbare karakters geassimileer. Só kry Karakter A byvoorbeeld dialoog en handeling by van Karakter/s B, D en F, ens.

Hoekom dink jy is die verhaal van Mina Afrika so gewild, en sal die opvolgverhaal ook so gewild wees?

EC: Enige verhaal, program of woordkunswerk wat aan die kern van menswees lê, en waarmee ons kan identifiseer, gryp ons emosies aan. Dit, glo ek, maak die verhale van Mina Afrika gewild.

Wat maak Die Tuiskoms van Mina Afrika so besonders dat jy sê dis vir jou beter as die eerste verhaal, Die Verdwyning van Mina Afrika?

EC: Myns insiens is daar twee uitstaande redes waarom Die Tuiskoms van Mina Afrika meer aangrypend is as Die Verdwyning van Mina Afrika: Die eerste rede is omdat ons kennis gemaak het met die klein weerlose kindjie wie se belewenisse ons gevul het met afgryse en simpatie. Daar was dan selfs luisteraars wat aangebied het om Mina by hulle aan huis in te neem…

Die verhaal eindig met Mina wat op negentienjarige ouderdom weer haar lewe op koers kry en skynbaar ’n rooskleurige toekoms tegemoet gaan. ’n Gelukkige einde. Die bevredigende seël op ’n chronologiese, liniêre, intrige. Kortom, ’n relatief eenvoudige verhaal.

In Die Tuiskoms van Mina Afrika is dit agt jaar later. Maar spoedig dring die besef deur dat Mina se emosionele skade as kind blywend van aard is. Daar bly iets in haar hunker na die onskuld van kindwees, wat in konflik is met haar stryd om die moeder te wil wees van ’n kind wat by die wit gemeenskap geïntegreer is en wat, soos hy ouer word, noodwendig al hoe verder van haar af sal dryf, sonder dat hy ooit sal weet wie sy biologiese moeder is. Ironies genoeg, ’n kind wat presies manifesteer wat Mina as kind emosioneel moes verduur. Mina is in hierdie verhaal veel meer kompleks as die kind en tiener wat ons leer ken en lief kry het.

Die tweede rede is omdat die intrige meer gesofistikeerd en die karakters interessanter en meer uiteenlopend is. Die karakters van Myra Ballantyne (Diane Wilson) en Klaas Benson (Neels Coetzee) word onverbeterlik pateties en weerloos deur Zuretha Roos uitgebeeld. Twee waarlik aangrypende karakters en sonder twyfel my gunsteling karakters in dié roman!

Sonder om te veel van die aap uit die mou te laat, wat kan ons verwag in Die Tuiskoms van Mina Afrika?

EC: Die verhaal begin in 1969, agt jaar nadat Mina se lewe weer op dreef gekom het deurdat sy teen die einde van Die verdwyning van Mina Afrika die suksesvolle kok en bestuurder van Julie’s Bistro was.

Maar dan loop Mina ’n jeugvriendin, Jana Jansens, in die dorp raak wat haar vra of sy nie vir haar by haar gastehuis op Visbaai as sjef wil kom werk nie. ’n Nuwe lewe, nuwe horisonne – en nuwe storms en ontsteltenisse – wag op haar. Maar uiteindelik is dit tóg weer Mina Afrika se wil om te lewe en bo haar omstandighede uit te styg, wat beloon word.

Is daar nuwe stemme of akteurs met wie ons gaan kennis maak?

EC: Ja, afgesien van die feit dat karakters soos Sara de Graaff (Missara), Iris Oortzen en haar man, Schoeman, weer hulle verskyning saam met Mina Afrika maak, moes die rolbesetting noodwendig gewysig word omdat nie al die akteurs beskikbaar was nie. Dus word van dieselfde stemme weer gehoor, maar as ander karakters. Staatmakers soos Susanne Beyers (wat die rol van Aletta vertolk het, word nou gehoor as die ouer Sara) en Joanie Combrink (wat die rol van Mal Bettie vertolk het, word nou as Iris Oortzen gehoor) en Frieda van den Heever (wat die rol van die jonger Sara vertolk het, word nou gehoor as Mina se jeugvriendin, Jana Jansens). Aangesien Deon du Toit ook nou al ’n bietjie meer volwasse is, word dié rol vertolk deur Leon Kruger. Ludwig Binge kry kans om sy staal te wys as Mina se seun, Jantjie, en die baie belowende Daneel van der Walt word in die moeilike rol van Ouma Hannie ingespan. Nog een van die karakters wat ’n baie kort verskyning maak, is Motjie Sêra Adams, vir wie Daneel ook moet regstaan. Luisteraars sal Van der Walt onthou as die Verteller in die RSG Kunstefees-produksie Boegoe vannie liefde wat in November 2016 uitgesaai is.

Ek glo daarin dat akteurs nie net geloofwaardige vertolkings moet lewer nie, hulle moet ook geloofwaardig klink. Myra Ballantyne is Engelssprekend en praat so hier en daar ’n bietjie skewe Afrikaans. Ek was baie gelukkig om een van Kaapstad se veteraan- bekroonde Engelse aktrises van die verhoog, radio, silwerdoek en televisie, die onverbeterlike Diane Wilson, vir dié uitdagende rol nader te trek. En natuurlik is Simoné Benjamin terug as Mina…

Die volledige rolverdeling is:

Mina Afrika – Simoné Benjamin
Jana Jansens – Frienda van den Heever
Betta Pretorius – Zenobia Kloppers
Myra Ballantyne  – Diane Wilson
Klaas Benson – Neels Coetzee
Jeffrey Wilson – Marlo Minnaar
Ouma Hannie Wilson en Sêre Adams – Daneel van der Walt
Deon du Toit – Leon Kruger
Cluver Coetzee en Paul Jansens – Johann Stassen
Marie Jansens – Vianne Venter
Jantjie Oortzen – Ludwig Binge
Sara de Graaff – Susanne Beyers
Mietjie, Bonita en Joekie – Kim Heyns
Rammie en Doorsie Arends – Dean Balie
Sonia Tredoux en Maria del Fante – Cintaine Schutte
Iris Oortzen- Joannie Combrink
Schoeman Oortzen – Johann Nel

Zenobia Kloppers

Diane Wilson

Neels Coetzee

Marlo Minnaar

Daneel van der Walt

Leon Kruger

Vianne Venter

Ludwig Binge

Susanne Beyers

Dean Balie (Foto:Jesse Kramer)

Cintaine Schutte

Joanie Combrink

Van Donderdag, 9 Februarie, kan RSG se luisteraars elke weeksdag om 14:45 inskakel op die nuwe middagvervolgverhaal, Die Tuiskoms van Mina Afrika.

ZURETHA ROOS (skrywer)

Zuretha Roos (gebore Coetzer) is op 21 September in De Doorns in die Hexriviervallei gebore.

Sy het ‘n BA-graad en ‘n onderwysdiploma aan die Universiteit van Stellenbosch behaal. Daarna was sy ‘n onderwyseres in Kaapstad, maar het toe na Johannesburg verhuis waar sy ‘n joernalis en kosredakteur by die Darling-tydskrif was.

Sy het ‘n honneursgraad deur Unisa verwerf en was toe ‘n Afrikaans-lektor in Johannesburg.

Haar debuutroman, Die verdwyning van Mina Afrika, het in 1995 verskyn en is toe ‘n jaar later deur Die tuiskoms van Mina Afrika opgevolg.

Van haar ander boeke sluit in Jesebel! (Tafelberg, 1997), Sleepmis oor Stille water (Tafelberg, 1998) en Die regte man vir Debbie (Lapa, 2005).