2 Apr = Slot van Dwaalpad huis toe


Luister op 2 April na die slotepisode na die  gewilde vervolgverhaal uit die pen van die skrywer Engela van Rooyen, wat later vanjaar haar 80ste verjaardag vier. “Dwaalpad huis toe” is deur die regisseur Christelle Webb-Joubert in Johannesburg opgevoer.

Die spelers

Die rolverdeling sluit in Rika Sennett-Borthwick, Luan Jacobs, Andre Stolz, Francois Van Rensburg, Mandi Baard, Shemane Harris, Anthony Wilson, Donovan Clyde Pietersen, Tobie Cronjé, Helena Hugo, Pietie Beyers, Susan Coetzer en Sue Pyler.

Luister na die onderhoud met die regisseur en spelers van Dwaalpad Huis Toe deur Ettienne Ludick en Sue Pyler.

http://rsg.co.za/images/upload/sound/klanke/20190206_MIDDAG_2_NUWE_MIDDAGVERVOLGVERHAAL.mp3

Die storie

Rika Sennett

Die verhaal begin in die huis van Sofia Bester (Rika Sennett) teen Magaliesberg in Pretoria-Noord. Dis die huis waarin sy en haar (eks-)man Peet hul kinders grootgemaak het: Juriana, Paridon en Benjan.

Die kinders is steeds in die huis by haar, terwyl Peet met sy nuwe (ongewilde) vrou, Patricia, in Kimberley woon.

Sofia is oorspronklik van Namibië, die dogter van die Namibies-Duitse Agneta von Paridon (reeds oorlede) en die Afrikanerboer Thabu Nel. Sy werk tans by Benson (Mr B), wat ‘n eenman-eiendomsaak bedryf. Hy onderwerp haar voortdurend aan sy ongewenste attensies, maar sy het as broodwinner die geld nodig en systap hom kundig.

Dit blyk eventueel dat Sofia en Peet jonk getroud is voordat sy, hoewel knap genoeg, deeglike opleiding in een of ander rigting gehad het. Nogtans spook sy om die drie kinders deur te help.

Juriana het ná matriek by ‘n reisagentskap begin werk en sedertdien lugwaardin geword.
Paridon studeer Regte, maar geldsake knyp en hy is sonder ‘n ryding.
Benjan is pas klaar met matriek en lê nog rond, aangesien daar nie geld vir ‘n brugjaar is nie.

Sewe jaar gelede, op pad terug van haar ma se begrafnis, was Sofia en Peet in ‘n koedoe-ongeluk tussen Keetmanshoop en Upington. Hy was vanaf Upington oorgeplaas na Kimberley-hospitaal, waar die verpleegster Patricia hom onbeskaamd van sy vrou afgerokkel het.

Die egskeiding laat blywende letsels op die gesin. Sofia is nog lief vir Peet, maar verseg om enige onnodige kontak met hom te hê. Onbewustelik hoop sy dat hy nog sal terugkom en sy fout erken.

Juriana het haar jarelange skoolkys Vossie de Vos pas afgesê en “date” nou die heelwat ouer Coert Greeff, ‘n diplomaat wat reeds twee keer geskei is. Vossie was soos ‘n kind in die huis en het al die stukkende goed reggemaak; Sofia is dus nie in haar skik met die verwikkeling nie.

Nox, die labrador

Een Vrydagmôre  ontdek Sofia dat Benjan uit sy buitekamer in die agterplaas verdwyn het. Nox, die labrador, het vir Sofia met sy onrus probeer waarsku. Benjan is skynbaar vrywillig weg met rugsak, kitaar en toebroodjies.

Dis hier waar die drama begin, met Peet wat uiteindelik terugkom … maar op ‘n ander manier as wat Sofia gehoop het.

Word deel van de Besters se lief en leed.

“Dwaalpad huis toe”, elke weeksmiddag om 14:45 op RSG, van Woensdag 6 Februarie 2019.

Die karakters

SOFIA BESTER – Rika Sennett

Ma van Juriana, Paridon en Benjan. Sy is die rots en steunpilaar van die gesin. Sy is geskei van Peet en werk by Mr B wat ‘n eenman-eiendomsaak bestuur.

Tobie Cronjé

PEET BESTER – Tobie Cronje

Sofia se eks. Hy is ’n speurder. Hy woon in Kimberley saam met Patricia, die verpleegster waarvoor hy sy vrou gelos het nadat sy hom in die hospitaal verpleeg het.

Mandi du Plooy-Baard

JURIANA BESTER – Mandi du Plooy-Baard

Lugwaardin. Sy het haar skoolliefde gelos vir Coert Greeff.

Francois van Rensburg

PARIDON BESTER – Francois van Rensburg

Student in Regte. Hy is die rustige en nugter denkende een. Sy ma se regterhand.

Luan Jacobs

BENJAN BESTER – Luan Jacobs

Pas klaar met matriek. Hy verdwyn een oggend uit sy kamer, duidelik op soek na avontuur. Hy word ontvoer deur Gravin Zoe.

Donovan Pietersen

TREVOR ABRAHAMS – Donovan Pietersen

Benjan se beste vriend.

André Stolz

COERT GREEFF – Andre Stolz

Diplomaat. Juriana se nuwe liefde.

MNR BENSON (Mr B) – Anthony Wilson

Sofia se baas.

MEV AN]MS-BENSON – Shemane Harris

Getroud met Mr. B. Die agentskap is eintlik hare.

Helena Hugo

OUMIESIE – Helena Hugo

Peet se ma.

Pietie Beyers

VOSSIE – Pietie Beyers

Juriana se gewese kêrel.

Susan Coetzer

“GRAVIN” ZOE oftewel Zoe Deetlefs – Susan Coetzer

Sy laai vir Benjan op as hy besluit om te ryloop.

FELANA – Marina Coetzee

Paridon se meisie.

Die skrywer

ENGELA VAN ROOYEN

Engela van Rooyen

Engela van Rooyen is gebore te Kakamas teen die Oranjerivier. Sy het daar skoolgegaan en op Stellenbosch studeer.

As predikantsvrou het sy dikwels verhuis en op Potchefstroom het sy ‘n Honneursgraad en MA cum laude verwerf.

Engela skryf ook onder haar getroude naam Engela Linde. ‘n Verdere skryfnaam is Louisa du Toit. Sy het meer as honderd boeke in verskillende genres geskryf. Heelwat daarvan is bekroon, vertaal en vir skole voorgeskryf. Van haar vroegste werk was radiohoorspele, en daarom beskou sy dit as ‘n voorreg dat sy steeds vir die radio kan skryf. Sy het al in 1970 haar eerste prys verower met “Die kokerbome sal dit uitroep”. [RSG-luisteraars sal byvoorbeeld radiodramas soos "Wie is bang vir die goeie wolf?” van 2014 onthou.]

Sy en haar man het in Pretoria afgetree. Sedert sy onlangse afsterwe, bedryf sy steeds haar skryfkantoor.

Die regisseur

Christelle Webb-Joubert

CHRISTELLE WEBB-JOUBERT

Van kleins af, as ons verby huise gery het, het ek gewonder   . . . wie woon daar? Is die inwoners gelukkig? Wat is hulle storie?

Met DWAALPAD HUIS TOE het ek die voorreg gehad om binne een so ‘n huis te gaan inloer. Die Besters van Pretoria.

Ek het so lief geword vir die karakters. Ja, ek weet dis net ‘n storie, maar vir my het hulle lewend geword. En ek kon help om die lewe in hulle in te blaas.

Ek het ‘n span akteurs wat my taak baie makliker gemaak het. Nie net is almal uiters professioneel nie, maar daarmee saam is hulle lieflike mense. Almal was lus om te kom werk, en almal het geglo in die storie.

Wat ‘n voorreg was dit ook om saam met Engel ate kon werk. Sy het soos ‘n masjien gewerk toe sy die tekste moes korter maak, en ek kon dag en nag bel as ek onseker was oor iets in die storie. Sy is goud werd, en mag haar stories nog lank leef.

Foto’s

In die ateljee tydens opnames: kloksgewys van links: Rika Sennett, André Stolz, Shemane Harris, Luan Jacobs, Susan Coetzer, Anthony Wilson, Donovan Clyde Pietersen en Francois van Rensburg.

In die ateljee tydens opnames: kloksgewys van links: Rika Sennett, André Stolz, Shemane Harris, Luan Jacobs, Susan Coetzer, Anthony Wilson, Donovan Clyde Pietersen en Mandi Baard.

Francois van Rensburg (links): ‘n Kort blaaskans in ‘n lang gang en ‘n vinnige hang saam met Donnie en Sue… // Dwaalpad Huis Toe vanaf 06 Februarie op RSG.

In die ateljee met opnames: Mandi Baard, Rika Sennett, André Stolz en Francois van Rensburg.