Dwaalpad bring heling vir Engela van Rooyen


Engela van Rooyen

Engela van Rooyen het al verskeie rolle in haar lewe vervul. Sy is in 1939 op Kakamas teen die Oranjerivier gebore en vier op 11 Augustus vanjaar haar 80ste verjaardag. Buiten bekroonde skrywer was sy ook predikantsvrou, verhaleredakteur vir Rooi Rose, uitgewer en bekroonde radiodramaturg. As skrywer in verskillende genres het sy ook die skryfname Engela Linde (haar getroude van), Barend Bornman en Louisa du Toit gebruik.

Weeksmiddae om 14:45 kan haar splinternuwe vervolgverhaal, Dwaalpad Huis Toe, op RSG gehoor word. Engela het met RSG gesels oor haar liefde vir stories en hoe skryf vir haar heling gebring het.

Waar kom jou liefde vir skryf vandaan? Waar het dit begin?
Ek het op sestien begin skryf. Ons het mekaar grootgemaak. Ek het my tande as ‘t ware op skryf gesny, geslyp en geslyt. My grootfamilie was vertellers, mondelinge skrywers. Ek het kaas en botter gemaak van die room wat hulle opgegaar het. Ek beskryf dit in Met ‘n eie Siekspens. Ek het die opkoms van radio beleef, en daar was puik reekse soos die Du Plooys van Soetmelksvlei, ook Springbokradio. Dwaalpad Huis Toe se kenwysie, die Prelude in A Majeur van Chopin, was juis die kenwysie van ‘n vervolgverhaal op laasgenoemde. Vir my was dit vanaf meelewend luister een tree na aktiewe radioskryf.

Wat geniet jy die meeste omtrent die radio as medium?
Dis ‘n heel eie dissipline om deur dialoog te karakteriseer en intrige te skep.  Ek sal dit dus nie makliker as gewone prosa noem nie. Maar die moeitevolle beelding (showing) wat vir gewone fiksie nodig is (en Afrikaans is ‘n besonder moeilike medium), word in radiowerk vervang deur kundige stemme en byklanke wat die nuanses oordra. Om deel van ‘n span te wees, met regisseur, akteurs en tegnici, was welkome afwisseling van die  eilandgevoel  wat deel van die lewe van ‘n beroepskrywer is.

Waar kom die idee vir “Dwaalpad…” vandaan?
Met die gesinstema kan ‘n skrywer ‘n ver pad loop. Heelwat van my skryfwerk wentel om die dinamika van ‘n gesin. ‘n Gesin kan hemel, maar ook hel op aarde wees. Dit kan die veiligste, maar ook die gevaarlikste plek wees. As predikantsvrou was my lewe, deur my man se beroep, verweef  met gesins-en familie-intriges. Ons het self  ‘n kroos van vier, met uiteindelik ‘n aantal kleinkinders wat nou my beste vriende is. As ek sê ons lewe was soms moeilik en dikwels onstuimig, is dit die understatement van die jaar. Ek skryf daaroor in Seisoene.

Hier is Engela van Rooyen se skryfkamer/-kantoor. “Son in my skryfhoekie, nuwe publikasie op die lessenaar, Dwaalpad op die rekenaarskerm,” het Engela geskryf.

Hoe bly jy deesdae besig?
Toe Kobus [Burger, RSG se uitvoerende regisseur: Drama] my in Januarie 2017 vra om ‘n vervolgverhaal vir RSG te skryf, was my man (my eie Kobus), pas in die Intensiewe Eenheid opgeneem met nierversaking. Hy is tien dae later oorlede.  Meer as ‘n jaar lank het ek niks geskryf nie. Maar die halwe belofte het by my gespook, en ek het begin wonder: Waarom nie? Ek het ses maande geskryf, en dit was ‘n manier om een van die oudste dissiplines in my lewe te herbevestig. Om weer so hard te werk, was deel van die helingsproses.  Ook kon ek my eindelose weemoed probeer oordra aan wie ook al wou luister. Ek skryf nie meer aktief nie, maar wel af en toe op versoek. Ek verkies ‘n alleenlewe, met genoeg tyd vir my gesin en grootfamilie. My skryfkantoor is daarby steeds besig.