‘Bure Alweer’ begin vanaand


Elma Potgieter en Richard van der Westhuizen

Dié middagvervolgverhaal skop af op Donderdag 27 Junie, en duur tot en met Woensdag 18 September. Dit is ‘n opvolg van “BURE”, wat verlede jaar in Maart/April/Mei uitgesaai is.

In “BURE – ALWEER” maak die luisteraar opnuut kennis met bekende karakters.

MATHILDA SCHOEMAN (gespeel deur Elma Potgieter) is die onkonvensionele matriarg van die verhaal. In die vorige reeks was sy besig om die onlangse dood van haar man, Jurg, te verwerk. Sy het toe met ALBERT HAVENGA (gespeel deur Richard van der Westhuizen) kennis gemaak. Hy het die onderste gedeelte van Mathilda se erf aangekoop by haar man, Jurg, sonder dat Mathilda daarvan geweet het. Sy het eers teen die einde uitgevind wat die ware rede daarvoor was. Albert is sjarmant, en soms onpeilbaar. Mathilda kon hom aanvanklik nie verduur nie, maar hulle het intussen vriende geword. Hy is aangetrokke tot haar, en sy tot hom. ‘n Romantiese verhouding is besig om te ontwikkel.

DITA KEYTER (gespeel deur Rina Nienaber) is Mathilda se buurvrou en beste vriendin, alhoewel hulle hemelsbreed verskil. Dita is ‘n effense loskop, en ‘n ewige romantikus, en sy glo vas dat sy nog eendag die ‘regte man’ sal ontmoet, en geluk sal vind. In die vorige reeks was dit slegs ‘n droom, maar in “Bure – Alweer” word dit bewaarheid, in die vorm van ERIC HEYNS (gespeel deur Paul Lückhoff). Hy is ‘n aantreklike en baie aangename plastiese sjirurg wie se vrou oorede is. Hy en Dita ontmoet mekaar op ‘n bootreis en die romanse blom.

Richard van der Westhuizen

WERNER GROBLER (gespeel deur Anton Schmidt) is nog een van Mathilda se bure. Hy is aantreklik en effe geheimsinnig oor sy verlede. Hy verloor selde of ooit sy humeur en gee altyd goeie raad. Hy bly in die gastehuis langs Mathilda, wat deur MARLENE TE WATER (gespeel deur Eloise Cupido) bestuur word. Haar ma, EMELDA TE WATER (gespeel deur Ilse Klink) wat tans ‘n wêreldtoer doen van die musiekblyspel Chicago.Marlene het ‘n problematiese verhouding met haar ma, en sy is emosioneel onstabiel, hoofsaaklik omdat sy laat in haar lewe uitgevind het haar pa is hulle gewese dominee, DIRK JANSEN (gespeel deur Anton Dekker). Hy is aanmatigend en patriargaal, en erken slegs onder druk dat hy wel haar biologiese pa is. Sy vrou, MAGRIET JANSEN (gespeel deur Marintha Labushagne), probeer die skyn behou dat haar man se lewe nie ‘n leuen was nie.

Ander karakters is JOHANNES (JOE) BOUWER, Mathilda se broer (gespeel deur Christo Compion). Hy is joviaal en kom oënskynlik met almal oor die weg, maar hy het ‘n humeur wat maklik opvlam. Hy is in ‘n verhouding met BRENDAN MEYER (gespeel deur Johny Klein). Brendan is heelwat jonger as Johannes, bewonder hom, en is baie verlief op hom.

Verder is daar JASON BOTHA (gespeel deur Donovan Pietersen). Hy is Marlene se skoolliefde, en verskyn later in die verhaal.

Maar die karakter wat alles kom deurmekaar krap, is SONET HAVENGA (gespeel deur Heidi Mollentze). Sy is Albert se eks-vrou. Sy is oppervlakkig en selfbehep. Sy besluit sy gaan alles in haar vermoë doen om hom terug te kry.

Johny Klein

Die skrywer en regisseur is MARI SNYMAN.

Die tegniese versorging word behartig deur NERIA MOEKENA.

EVERT SNYMAN is verantwoordelik vir die byklanke, waarvan daar heelwat is. Daar is onder andere Mathilda se hond, Buksie, waarvoor diéklank-tegnikus verskillende honde se geblaf en gekla, ensovoorts gebruik om die hond ‘n karakter in die verhaal te maak. Hy versorg ook die musiek – en daar word liedjies deur die Beatles gebruik.