Stoom: Avontuur en spanning op luukse trein


STOOM is die nuwe vervolgverhaal deur Anton Treurnich. Dit word weeksmiddae vanaf 3 April om 14h45 op RSG uitgesaai.

Die regisseur, Ronel Geldenhuys, gee meer agtergrond-inligting.

Die storie

STOOM is ‘n avontuur van formaat. Dit volg die ervaringe van ‘n groep toeriste op ʼn stoomtrein wat van Kaapstad na Dar es Salaam en terug reis.

Daar gaan baie meer op ‘n treinreis aan as wat ‘n mens jou in jou wildste drome kan indink – veral een wat deur agt Afrikalande beweeg op ‘n spoorlyn wat plek-plek uit die era van Cecil John Rhodes dateer!

Vir die passasiers is dit ‘n luukse Eerstewêreld-vakansie in Derdewêreldse omstandighede. Die gemaklikste manier om ‘n safari in Afrika te beleef.

In teenstelling met die gaste het die personeel heelwat probleme om te oorkom. Politieke situasies verander. Treinrooftogte, wilde diere en slegte weer is nog ʼn paar struikelblokke wat hulle moet oorkom. Interpersoonlike verhoudings in ‘n beknopte spasie en ʼn geheimsinnige kluis met ‘n klomp geld in vereenvoudig nou nie juis die prentjie nie.

DIE SKRYWER

Anton Treurnich

Anton Treurnich is self ‘n akteur en het al heerlike vervolgverhale geskryf. Hy ken dus die medium goed.

Oor die jare het luisteraars Anton se vervolgverhale leer liefkry. Dink maar onder andere aan Nommers, Van Hings en die Suiderkruis, Nastergal en Heuningbos.

“Elke storie is vir my ‘n reis wat ek saam met die karakters onderneem. Die plekke wat hulle sien en ervarings wat hulle met mekaar deel word ʼn deel van my. Die emosionele ontwikkeling, uitdagings en oorwinnings van die karakters maak die skryfproses genotvol vir my”, sê Anton.

DIE METODE

Kloksgewys op die foto vanaf die hoek regs onder is Waldemar Schultz (Richard Minnie), Leon Kruger (Roux de Bois), Anrich Herbst (Anton Mosterdt), June van Merch (Ruth Williams), André Samuels (John John Lacki), Ronèl Geldenhuys (Regisseur) en Roeline Daneel (Nina Smith). Die foto is geneem op die eerste dag van opnames, met ander woorde tydens episodes een tot vyf.

ʼn Vervolgverhaal word in sarsies van vyf episodes op ʼn slag opgeneem, gewoonlik eenmaal per week. Akteurs word vir ʼn minimum van drie episodes per dag bespreek.

Dit beteken dat die skrywer ʼn wiskundige moet wees om die regte somme te maak voor hy kan skryf!

MUSIEK

As regisseur is een van die heerlikste uitdagings altyd om die regte musiek vir ʼn produksie te vind.

Dit was tydens ʼn piekniek wat ʼn goeie vriend en aanhanger van RSG onthou het van die stoomtreingeluid wat Hugh Masekela maak op sy bekende lied, Stimela. So verras die lewe dikwels met die regte inligting op die regte tyd. Ek sien uit om die reaksie te hoor van die luisteraars op hierdie ongewone ‘kenwysie’.

Die gewilde genre van Steam Punk was die logiese volgende stap vir dié musiek wat meesal in Stoom as brûe tussen tonele gebruik word. Dit dra ʼn optimisme en opwinding wat ʼn lekker pas gee aan die verhaal.

Verskeie vorme van jazz het bygedra tot die tonele wat agtergrondmusiek benodig het. Hier en daar funksioneer dit ook as brug tussen tonele.

BYKLANKE

Meeste van die byklanke vir Stoom, soos die gewoonte in radiodrama en vervolgverhaalopnames is, word in die ateljee deur die spelers self gemaak. Die span van Stoom is gewillig en bekwaam. Soms tydens die uitdeel van die byklanke verskaf dit groot vreugde as ʼn gemoedelike struweling op ʼn spelerige manier onder die spelers ontstaan oor wie gaan regstaan vir die betrokke deur wat oopgemaak, glase en bottels wat geklink of voetstappe wat benodig word.

Een ongewone ervaring op die Stoom-produksie is dat ons trein gedurig aan’t ry is. Die klank van die trein word tegnies verskaf en tydens opnames kan die spelers nie dié byklanke hoor nie. Hulle moet dus so nou en dan herinner word om te projekteer sodat hulle bo die klank van die trein gehoor kan word!

SPELERS EN HULLE KARAKTERS

Anrich Herbst is Anton Mosterdt

Die held van die verhaal is Anton Mosterdt, gespeel deur Anrich Herbst.
As oud soldaat en jagter tel sy ondervinding en kwalifikasies min in ‘n groot stad soos Kaapstad.  Hy sukkel om sin in sy lewe te sien en beplan om ‘n einde aan alles te maak…

Roeline Daneel is Nina Smith

Die toerbestuurder Nina Smith word vertolk deur Roeline Daneel. Alles word haarfyn deur haar beplan. Tot op die sekonde. Sy het haarself opgewerk in die besigheid. Op ‘n manier voel sy dat die trein en die toere haar alles is…of dat sy niks is sonder dit nie.

Leon Kruger is Roux du Bois

Leon Kruger speel die rol van Roux du Bois.
Roux is ‘n eksentrieke sjef wat sy inspirasie uit die omgewing en gaste wat hy bedien kry. Sy artistieke streep het ‘n merk gelos op sy emosionele stabiliteit.

June van Merch is Ruth Williams

June Van Merch word gehoor in die rol van Ruth Williams.
Op die trein met sy min spasie moet sy vele rolle vervul. Sy moet sorg dat die gaste met hul vreemde versoeke gelukkig gehou word.

André Samuels is John John Lacki

Andrè Samuels vertolk die rol van John John Lacki. Treinbestuurder en bobaas storieverteller. Daar is vir hom niks lekkerder as om met sy elmboog op die rand van die lokomotiefdeur te leun, die wind in sy hare en die ritme van die trein onder hom oor die spore te voel nie.

Zenobia Kloppers

Zenobia Kloppers word gehoor in die rol van Delia Treur.
Sy hou van syfers en getalle. Veral die soort wat uitwerk, soos om binne ‘n begroting te bly. Sy hou van die veiligheid van die treintrok.  Delia is ʼn logiese denker wat wegskrum van die onbeplande en onverwagse.

Waldemar Schultz is Richard Minnie

Die rol van Richard Minnie word vertolk deur Waldemar Schultz.
Richard is ʼn oud Weermag Kolonel en Advokaat. Alles in sy lewe word aan geld gemeet. Hy weet hoe om die sisteem te manipuleer en glo hy is beter en slimmer as ander.

Frieda van den Heever is Debra Wolvaart

Frieda van den Heever word gehoor in die rol van Debra Wolvaart.
Debra het grootgeword op die gronde van die grootste myne in Afrika. Haar pa was haar held en sy glo sy volg in sy voetspore. Sy glo die wêreld moet verander en sy neem die aksie wat nodig is daarvoor.

Tinarie van Wyk Loots is Annetjie Barnard

Annetjie Barnard word gespeel deur Tinarie van Wyk Loots.
Annetjie het hard gewerk om die kinders groot te maak en haar en haar man se plaas finansieel te bestuur. Sy het vrede gemaak met die lewe wat sy gekies het. Maar noudat die kinders groot is, wil sy nuwe drome droom.

Johann Nel is Dirk Barnard

Johann Nel speel Annetjie se wederhelf, Dirk Barnard.
Dirk is ʼn boer wat hard gewerk het en alles van die grond en natuur af weet. Dirk voel hy het alles gegee wat hy kon. Hy wil rustig op die plaas sit en geniet wat hy deur die jare opgebou het.

Dean Balie is Wolf Moses

Dean Balie is Wolf Moses.
Wolf is jare lank al deel van Nasionale intelligensie. Hy is ʼn slim man wat alles mooi beplan. Indien hy nie met slinksheid en verdoeseling sy doel kan bereik nie, sal hy hom wend na geweld.

Amor Tredoux is Karien Broodryk

Die rol van die kunstenaar Karien Broodryk word deur Amor Tredoux vertolk.
Vanweë haar besluite in die lewe, is Karien alleen. Haar kuns, soos haar skoonheid, maak nie meer die impak of trek die aandag soos voorheen nie.  Sy probeer om haar lewe sin te gee deur soveel opwinding en avonture as moontlik te ervaar.

Simone Benjamin is Rix Vorster

Simonè Benjamin speel die rol van Rix Vorster.
Rix het arm grootgeword en hard geleer om haar regsgraad te kry.  Sy het ʼn sterk persoonlikheid en is hardkoppig. Tog het sy ‘n baie goeie hart.

Marvin Lee Beukes

Liam Adams, Rix se geliefde, word vertolk deur Marvin Lee Beukes.
Liam het in ʼn wel-af huis grootgeword en redelik maklik sy BSc graad verwef. Hy is fisies sterk en is ʼn logiese denker wat feitelik na die lewe kyk. Hy is baie lief vir Rix. ‘n Goeie ou.

Mia van der Merwe is Amelia

Ons held, Anton Mosterdt, het ʼn 16-jarige dogter Amelia Mosterdt,  wat gespeel word deur Mia van der Merwe.
Amelia Mosterdt is stil en teruggetrokke. Tog staan sy sterk wanneer sy in iets glo en het goeie karakter. Sy is kwaad vir haar pa en ma, dus ook kwaad vir die wêreld.

TEGNIESE EN AKOESTIESE VERSORGING

Cassi Lowers

Cassi Bianca Lowers is ‘n steunpilaar wat raakvat en weet wat sy doen. Soos hulle sê – sy kan maar.

REGIE

Ronel Geldenhuys

Die regie van Stoom is behartig deur Ronèl Geldenhuys.

SOSIALE MEDIA

Ronèl Geldenhuys (as Afrigami) en Cassi Bianca Lowers (as Candle2807) is albei lief om foto’s van ervaringe tydens opnames op Instagram te plaas. So dan en wan ook op Facebook. Dis heerlik om terugvoer te kry van luisteraars.