Welkom Charl!
CvH: Opera is van jongs af deel van my DNS en om my liefde vir hierdie wonderlik dramatiese, ‘over the top’, groter as lewensgroot kunsvorm met operaliefhebbers te deel, is vir my ’n absolute voorreg. Was ’n besondere eer om gevra te word. Ek was aanvanklik totaal uit die veld geslaan.
Ek hoop ek sal die deurwinterde afficionado Wouter se skoene kan volstaan.
CVH: Ek het op 17 jarige ouderdom begin met sanglesse by Werner Nel, het op 21 my debuut gemaak in Die Towerfluit van Mozart en het daarna verskeie hoofrolle gesing vir ’n dekade of twee.
In die negentigerjare is ek gevra om aan te sluit by die rolverdeling van Richard Loring se A Touch of Webber and a Taste of Rice by die Soundstage in Midrand en toe die musiekteatergogga my eers byt, het ek my operaloopbaan kortgeknip.
MK: Jy is ook ‘n stemkunstenaar en jy sê jy kan verskeie stem-emosies doen…..kwaad, sarkasties, charismaties, koud, empaties, energiek, rokerig, kommerwekkend, bang, arrogant, vriendelik, snaaks ens. Watter een gaan jy gebruik vir Dis Opera en hoekom?
CvH: Haha ja, ek kan inderdaad verskeie stembuigings pleeg. Met Dis Opera gaan ek poog om charismaties en vriendelik te wees, maar wie weet…as ek Callas se Carmen speel, raak ek dalk rokerig? En met die Koningin van die Nag dalk kwaad, koud en bang?
Ek hoop van harte nie enige van my uitinge sal ooit kommerwekkend wees nie, maar ek gaan beslis ’n paar operastaaltjies vertel wat hopelik snaaks sal wees.
CvH: ’n Impresario is ’n promotor van klassiekemusiek-kunstenaars – sangers, ensembles, orkeste, instrumentaliste.
Ek doen dit die afgelope dekade en het reeds, danksy die samewerking van ons orkeste, grotes na SA gebring soos die violis Joshua Bell en die bariton Bryn Terfel.
Volgende jaar bring ek nog ’n A-lys kunstenaar of twee. Dit was ook onder my vaandel wat Pretty Yende die eerste keer in Stellenbosch opgetree het kort voordat sy oorsee is… en nog bekostigbaar.
Wie is Charl van Heynigen?
Charl het vroeg reeds met ‘n sangloopbaan begin en het op skool verskeie pryse by kunswedstryde gewen. In sy matriekjaar begin hy met sangopleiding by Prof Werner Nel en studeer later verder by Prof Hanno Blaschke aan die Hochschule für Musik in München, Duitsland. Hy sing in verskeie oratoriums en konserte en maak sy operadebuut op 21-jarige ouderdom. Daarna sing hy verskeie hoofrolle as liriese bariton in operas.
Hy neem sy eerste CD, Maskers, in 1998 op en ontvang ‘n SAMA-nominasie as beste manlike kunstenaar vir die album. Sedert die vroeë negentigerjare neem Charl ‘n verdere drie bekroonde albums op en tree op in/vervaardig produksies soos o.a A Touch of Webber and a Taste of Rice, Movies Greatest Music, Hooked on Swing en Vibravo.
Tussenin verwerf Charl ‘n regsgraad en verskyn in talle TV-reekse as akteur.
Vandag is Charl een van die land se voorste klassiekemusiek- impresarios en bring gereeld van die wêreld se voorste kunstenaars soos Bryn Terfel, Joshua Bell en vele meer na SA. Charl is ook gereeld promotor van kontemporêre kunstenaars soos o.a Il Divo, Tori Amos, Imogen Heap, Suzanne Vega en Herman van Veen.
Charl streef deurentyd daarna om waarde toe te voeg aan die Suid-Afrikaanse kunstelandskap as administrateur, vervaardiger, vermaaklikheidskonsultant, stemkunstenaar, aanbieder en skakelbeampte. Hy was onder andere direkteur van die nuutgestigte Sentrum vir Musiek by die Universiteit van Stellenbosch.
Hy is getroud met Rachel en hulle het drie kinders – besigheidsvrou Cara wat in Dubai woon, opkomende sanger en aktrise Emma van Heyn en Charl Junior, tans in sy tweedejaar as rekenkundestudent by die Universiteit van Stellenbosch.
Die gesin woon in Somerset-Wes.