Antwoorde op vrae oor COVID-19


Nog nooit het ek so baie fopnuus, vals aansprake en wilde stellings teëgekom soos oor hoe die siekte COVID-19 en die virus Sars-CoV-2 werk nie. Ook het ek nog nie so baie menings, sienings en verskille oor inperkingsbenaderings, oor die ontleding en die betekenis van die syfers en die impak van die virus en alles wat die enkele virus omgewe, beleef nie. Ek probeer my pad vind na die feite. Wat moet jy onthou en doen, en waarvan moet jy liefs vergeet? Hier is die beste antwoorde op vrae wat ek uit talle onderhoude met mediese spesialiste en wetenskaplike kundiges saamgestel het.

Waar kom die virus vandaan?

Hoewel daar baie teoriëe en stellings rondvlieg dat dit ‘n mensgemaakte virus is wat doelbewus uit die P4-laboratorium in Wuhan vrygelaat is of dat dit per ongeluk uit die instituut ontsnap het, is daar geen bewyse vir hierdie stelling nie. Die Amerikaanse CDC en befondsing van die VSA en nog meer word in die stellings betrek. Natuurlik is dit opsienbarende elemente presies in die styl van ‘n spioenasie- en apokoliptiese drama, maar dit is sonder enige bewyse.

Die P4 laboratorium in Wuhan

(Lees meer hieroor: https://www.theguardian.com/world/2020/may/04/five-eyes-network-contradicts-theory-covid-19-leaked-from-lab) 

Die nuutste whatsapp wat die nou rondvlieg, is dat ‘n Japanse wetenskaplike, Dr Tasuku Honjo, wat almal by die Wuhan P4 laboratorium geken het, ‘100% oortuig is’ dat die virus mensgemaak is omdat dit nie seisoenaal is soos griepvirusse nie. Ook dat dit uit die laboratorium ‘ontsnap’ het en dat al die Chinese wetenskaplikes wat hy by die laboratorium geken het, nou onopspoorbaar en waarskynlik dood is.

Daar is egter geen bewyse
– dat die boodskap van Dr Honjo afkomstig is nie (soos letterlike honderde boodskappe wat sogenaamd van dokters, viroloë of wetenskaplikes afkomstig sou wees en dan vals bewys is). Om die waarheid te sê het Dr Honjo amptelik in die openbaar gesê dat die boodskap glad nie van hom afkomstig is nie, en is hy ontsteld dat sy naam en dié van sy universiteit by fopnuus betrek is.
(Lees meer oor Dr Honjo se ontkenning: https://www.asianscientist.com/2020/04/academia/nobel-laureate-tasuku-honjo-kyoto-university-coronavirus-man-made-claim/ en
https://africacheck.org/fbcheck/no-japans-nobel-laureate-honjo-did-not-say-coronavirus-unnatural-made-in-china/)
– dat die virus mensgemaak is nie
– dat alle ‘natuurlike’ virusse seisoenaal is nie, of
– dat seisoenaliteit regstreeks met die temperatuur van ‘n seisoen te make het nie. Natuurlike virusse se seisoenaliteit het dikwels te make met die aktiwiteit van die draer-diere, wat in sekere seisoene meer aktief is, of meer geslag word. So byvoorbeeld kom Kongokoors meer in die lente en somer in sekere streke van die land voor. Dit het niks regstreeks te doen met die temperatuur van die tyd nie, maar dit het regstreeks te doen met die aktiwiteit van die Hyalomma bosluis op die beeste, volstruise of ander diere. Lente en somer is bosluistyd. As winter bosluistyd was, sou Kongokoors meer in die winter na vore gekom het.
– dat die SARS-CoV-2 nie seisoenaal is nie. Die huidige pandemie het van ‘n enkelbron in Wuhan, China ontstaan. Dat die virus juis in die Asiese winter die spesiesprong gemaak het, kan te wyte wees aan die jag, slag en ander aktiwiteite en interaksies tussen die mens en die draerdier, en dus onregstreeks aan die seisoen, maar nie regstreeks aan die temperatuur van die dae nie. As die kontak tussen draer-dier en die mens altyd in die Asiese winter meer is, sal nuwe uitbrekings meestal in die Asiese winter geskied en van die streke waar die kontak tussen mens en draerdiere op hul hoogste is. Die oordrag van mens tot mens is tans nie seisoenaal nie, omdat geen mens in die wêreld voor 2019 aan die nuwe virus blootgestel was nie. Maar noudat die virus in die algemene bevolking sirkuleer, sal net die tyd leer of meer mense sekere tye van die jaar sieker word as ander seisoene.
Lees meer hieroor: https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pmc/articles/PMC6224126/
– dat die Chinese wetenskaplikes van die Wuhan laboratorium verdwyn het nie.

Die Dr Honjo whatsapp is fopnuus, sê Dr Honjo self.

Chinese wasbeerhonde word in China lewend geslag.

Dit lyk of die stelling dat die virus van ‘n dier kom, wel waar is. Oorspronklik is gemeen dat die oordraging na die mens moontlik regstreeks van die ietermagog of via vlermuise op die Chinese vleismark in Wuhan plaasgevind het. Nou meen al meer wetenskaplikes dat die teorie dat virus kom van die Asiatiese wasbeerhond [raccoon dog] wat in veral die oostelike dele van China blykbaar lewend afgeslag word vir hul pelse, ‘n moontlikheid is wat verder ondersoek moet word.
Lees meer: https://www.theguardian.com/world/2020/apr/26/virologist-christian-drosten-germany-coronavirus-expert-interview

(Opmerking: Dié jakkals-agtige diertjies is vir hul pelse na die Ooste geneem, en hulle kan peste word en inheemse dierspesies verdring, en is nie goeie troeteldiere nie omdat hulle groot bos-ruimtes nodig het, maar ek hoop teen alle hoop in dat dit fopnuus is dat hulle lewend afgeslag word.
Lees ook: https://www.dailymail.co.uk/news/article-2867219/Inside-Chinese-fur-farms-breed-raccoon-dogs-tiny-cages-skin-alive-make-luxury-coats-sold-West.html

https://en.wikipedia.org/wiki/Raccoon_dog

http://www.nbcnews.com/id/27284840/ns/world_news-asia_pacific/t/china-raccoon-dogs-die-tainted-feed/#.XqvgIZqxW8o

https://www.bbc.com/news/uk-england-nottinghamshire-48472720)

Hoe word ‘n siekte ‘n pandemie?

Virusse, bakterieë of ander organismes waarteen die menslike spesie nog nie ‘n natuurlike weerstand het nie, omdat Homo Sapiens nog nie aan die nuwe organisme blootgestel was nie, is gewoonlik die begin van ‘n uitbreking. Nuwe virusse kom gewoonlik van diere, of word in diere vermeng tot nuwe stamme wat genoeg van vorige stamme verskil om die mens se immuunstelsel te beproef.

Nuwe virusse wat van die dier na die mens oorgedra word, en dodelik is, en dan (maklik) van mens tot mens oorgedra word, is die resep vir ‘n nuwe uitbreking, wat dan vorder tot ‘n epidemie, wat dan oor die wêreld versprei en dan ‘n pandemie genoem word. Soos wat nou met Covid-19 gebeur het. Soos wat steeds gereeld met Ebola gebeur. Soos wat met SARS, MERS en HIV gebeur het. Dit het voorheen gebeur en kan weer met die Influenza- en voëlgriepvirusse gebeur. En dit kan weer met ‘n ander nuwe Coronavirus gebeur.

Hoe steek die virus aan?

Die virus is redelik aansteeklik en word deur druppelbesmetting van mens tot mens oorgedra (makliker as die griepvirus, maar nie so maklik soos masels nie) en wel op die volgende maniere:

– as ‘n draer met of sonder simptome hoes, nies of bo-oor jou praat dat sy speekseldruppels oor jou gesig sproei, en jy dit deur jou neus, mond of oë kan inkry. Dit blyk dat die virus in druppels oorgedra word wat swaader us a ‘n aerol en binne sowat 2 meter grondwaarts val. Dit is nie soos die TB-bakterie wat lank in aerosol-formaat na ‘n hoes lank in die lug hang en wat dan maklik deur almal binne 10 m van jou af ingeasem word nie.

Keer dié manier van aansteking deur 2 meter van ‘n ander te staan. Dra ‘n masker om te keer dat ander se virusse in jou mond beland en en jou eie virusse na ander versprei.

– As die draer op ‘n oppervlakte hoes, nies, praat, spoeg, of vat, en jy vat binne 72 uur aan dieselfde oppervlakte (as dit nie met seep, jik of alkoholbevattende ontsmettingsmiddel afgevee is nie), en jy vat dan aan jou gesig, mond, oë of neus, kan die virus in jou slymvliese vastrapplek kry.

Keer dié manier van aansteking deur jou hande gereeld met seep te was, oppervlaktes en alles waaraan ander mense kon vat, af te vee en gereeld skoon te maak. Ook in taxis, busse, banke, winkels ens.

Onthou:
– Moenie aan die buitekant van jou masker vat nie.
– Was die lapmasker elke aand in warm water en seep. Of dra ‘n nuwe weggooibare een sodra joune klam word.
– ‘n Masker wat klam geword van jou asem, kan juis ‘n broeiplek van die virus en ander kieme word.
– ‘n Masker onder jou keel of neus help niks.
– Moenie met jou handskoene aan jou gesig vat of aan ander mense nie. Die virus kan nadat jy aan iets gevat het, op die buitekant van jou handskoene sit net soos dit op jou hande kon sit. Dan sprei jy net die virus wat op die buitekant van jou handskoene sit.
– Trek jou handskoene uit deur die binnekant van bo oor buitekant te rol en gooi weg asof daar honderde virusse aan die buitekant sit.

Wat is die simptome en hoe werk die siekte?

Die siekte COVID-19 het basies 3 fases:

Fase #1: Die fase duur sowat 1 tot 3 dae.
Die virus beland in die slymvliese van die neus en keel en gaan die epiteelselle (voeringselle) binne.
Die pasiënt het geen simptome en is onbewus dat hy siek is.
Sy viruslading is laag en enige toets wat die viruslading of teenliggame toets, sal negatief wees.

Hy kan egter die virus oordra in hierdie fase.

Mense kan in hierdie fase bly en herstel sonder om na fase #2 of Fase #3 te beweeg.
Die meeste jonger mense bly in die groep. Maar nie alle jonger mense nie.

Daarom moet alle mense maskers dra en hande was en afstand hou, omdat enige een in Fase 1 kan wees.

Fase #2: Die fase duur ‘n paar dae of selfs meer as ‘n week.
Die virus beweeg af in die lugweë na die longe en dring die selle binne. Die pasiënt se lugweë raak rooi en geswel van die inflammasie, hy hoes (meestal ‘n droë hoes of kug) weens irritasie in die lugweë, en voel kortasem, maar die pasiënt het nog nie longontsteking nie.
Die pasiënt se immuunstelsel reageer, en begin teen sowat dag 5 tot 7 om teenliggame teen die virus te produseer. Hy ontwikkel ook koors.
Hy kan ook lyfseer ontwikkel, hoofpyn, en narerig voel.

Diegene sal positief toets vir COVID-19.

Sowat 82% van mense bly in Fase 1 of 2 en herstel sonder om na Fase 3 te beweeg. Die meeste is mense jonger as 60 en nie in die risikogroep nie. Maar sommige jonger en lae-risiko mense beweeg wel na Fase 3.
Diegene in fase 2 moet tuis bly, hulself isoleer deur hulself in self-kwarantyn te plaas.

Maar dokters moet bewus wees van hierdie mense en gereeld die suurstofvlakke in hul bloed neem, want in enkele gevalle kan mense selfs sonder dat hulle kortasem voel of hul koors te hoog raak, longskade opdoen. Covid-19 longontsteking is anders as enige ander soort longontsteking: Dit blyk dat mense selfs voordat hulle erg siek voel, of kortasem voel, reeds longskade kan hê en dat die suurstofvlakke in hul bloed reeds so laag kan wees dat dit op ernstige longonsteking dui sonder dat hulle baie siek voel.

Fase #3: Die fase kan tot 14 dae duur of selfs langer.
Sowat 18% van mense beweeg na Fase 3.
Fase 3 beteken volskaalse longontsteking en hospitaalbehandeling.
Die virus val nou die alveoli (lugsakkies in die long waar suurstofruiling plaasvind) aan, en verhoed dat die stof surfactant (wat die alveoli elasties maak om suurstofruiling moontlik te maak) geproduseer word. Die alveoli word styf en min suurstofruiling vind plaas. Die suurstofvlakke in die bloed word laag en moet met ‘n pols oksimeter gemonitor word.
Die pasiënt voel kortasem. Hy het vanweë die immuunrespons en inflammatoriese reaksies ook ‘n effens verhoogde koors. Lyfseer. Hoofpyn. Baie is deurmekaar.
Indien die pasiënt se suurstofvlakke in sy bloed te laag daal, moet suurstof aan hom toegedien word.
Vir die meeste pasiënte in fase 3, is suurstoftoediening voldoende om sy lewe te red.

Maar in ‘n gedeelte van die hospitaalgevalle stimuleer die immuunstelsel nou ook die witbloedselle om nog inflammatoriese stowwe te vervaardig wat die swelling en inflammasie verder verhoog. Slym enn vog kan in die longe ophoop en suurstofruiling nog verder benadeel. Dan is koppeling aan ‘n respirator/ventilator nodig wat die funksie van die longe oorneem en suurstof onder druk die longe inpomp. Met alveoli wat styf en onelasties is, bestaan die risiko dat die alveoli onder die druk kan bars. Dan doen die pasiënt blywende longskade op en kan sterf.
Die pasiënt kan ook sterf as die ventilator ondanks die hoë druk, nie tot voldoende suurstofruiling in die longe kan lei nie.

In sommige pasiënte kan die immuunrespons so uitgesproke wees dat dit ‘n sitokinase storm genoem word. Tydens dié immuun-oorreaksie veg die liggaam so hard teen die virus, dat hy stowwe afskei wat selfs vir normale selle toksies is, en dié inflammatoriese oorreaksie kan jou brein kan aantas en tot neurologiese en psigiatriese (tydelike of blywende) gevolge lei soos angs, depressies, pisgoses, geheueprobleme ens.

Dit beteken nie, dat weereens soos in whatsapps beweer word, patofisiologies verkeerde gediagnoseer is en die virus nie longontsteking veroorsaak nie, maar net werk deur die inflammatoriese reaksie en net bloedstolsels veroorsaak nie. Die virus kan nie, soos in die whatsapp beweer word, deur ‘n tuismengsel van aspirien, suurlemoensap en heuning genees word nie. Ook nie deur antibiotika nie.

https://www.rsgplus.org/top-stories/covid-19-siekte-kom-in-3-fases/

Risikogroep: Sommige mense is meer vatbaar vir dié immuun-oorreaksie as ander.
Dit is mense wat aan hooikoors lei, asma, rumatoiede artritis, lupus, tiroiedprobleme, COPD, chroniese brongitis, en ook mense met diabetes, hoë bloeddruk, oorgewig en obese mense, mense met bestaande hartprobleme, TB, HIV+, kankerpasiënte, rokers en alkohol- en dwelmgebruikers. Mense bo 60 word hierby ingesluit.

https://www.rsgplus.org/covid-19/chroniese-siektes-covid-19-risiko-vir-sieker-word/

 

Wanneer is ‘n draer aansteeklik?

Draers is aansteeklik van sowat 2 dae voordat hulle die eerste simptome ontwikkel, terwyl hulle simptome het en dalk selfs die eerste paar dae nadat hulle gesond geword het.
Moenie dink omdat iemand nie koors het of siekerig voel nie, die mens nie reeds die virus het nie. Ook nie dat as jy gesond voel, jy nie reeds die virus het nie.

Tree op asof jy reeds die virus het en niemand wil aansteek nie.

Tree ook op asof elke vyfde mens wat jy teëkom, reeds die virus dra al is hy/sy gesond.
Enigeen wat jy teëkom, kan nommer 5 wees.

Wat van behandeling of ‘n vaksien?

Vier verskillende vaksien is in die eerste fase van toetsing. Indien die wêreld teen Junie 2021 ‘n doeltreffende en veilige vaksien het wat wyd beskikbaar is, sal dit ‘n wêreldrekord wees.

Hoewel daar verskeie middels getoets word, onder andere die malariamiddel chlorokwien (wat baie newe-effekte het en ook lewerskade kan veroorsaak met onoordeelkundige gebruik), die TB-vaksien BCG, antivirale middels teen die influenza griepvirusse, is daar nie ‘n middel wat tot dusver enige kritiese evaluering deurstaan het nie. Die nikotienplakker-teorie is grype na strooihalms. Trump se aanbeveling oor die malariamiddels was onverantwoordelik en sy aanbevelings dat mense Jik en ontsmettingsmiddels moet drink of UV-bestraling moet kry, is gewoon dom en ‘n duidelike teken van totale onbegrip.

Die gebruik van die middel Surfactant is getoets maar nie doeltreffend nie.

Antibiotika is nie effektief deur virusse nie, en net deur sekondêre bakteriële infeksies.

Die FDA in die VSA het die eksperimentele gebruik van die algemene antivirale middel Remdesivir goedgekeur, nadat dit belofte getoon het dat mense op dié middels 3 dae gouer gesond word en nie so siek soos ander nie.
Lees meer hieroor:
https://www.sciencemag.org/news/2020/04/large-trial-yields-strongest-evidence-yet-antiviral-drug-can-help-covid-19-patients

https://www.health.harvard.edu/diseases-and-conditions/treatments-for-covid-19

Antistolmiddels word gebruik in diegene wat bloedstolsels ontwikkel. Aspiriene is nie eens doeltreffend om doodgewoon stolselvorming te voorkom om in die algemeen beroerte of hartaanvalle te voorkom nie, en dit is te betwyfel of aspirien ‘n beduidende rol kan speel as antistolmiddel in die behandeling van COVID-19 of die voorkoming van stolselvorming met of sonder COVID-19. Hoë doserings aspirien kan tot onomkeerbare lewerskade lei, terwyl die virus ook die lewer kan aantas en kan eintlik die las op die lewer vererger, soos ook die geval met malariamiddels.

Die gebruik van aspirien as anti-inflammatoriese middel word ook nie aanbeveel nie. Parasetamol word beskou as ‘n veiliger opsie.

Die gebruik van kortisoon vir pasiënte met die ernstige immuunrespons is ‘n opsie. Kortisoon kan slegs deur ‘n dokter voorgeskryf word.

‘n Mengsel van heuning, suurlemoensap en aspirien sal net so min COVID-19 genees as wat dit griep genees. Die Meksikaanse gesin wat dié geneesmengsel op whatsapp predik, is van die meer as 80% van mense wat die siekte (of griep of verkoue) ligweg onder lede gehad het.

En dan is daar die sogenaamde kruiemiddel bekend as die Madagaskar-geneesmiddel. Madagaskar se staatshoof bemark die kruiemiddel Artemisia nou as die geneesmiddel teen COVID-19, nadat voldoende studies – volgens hom – bewys het dat die plantmiddel COVID-19 genees. Baie Afrikalande voer nou die artemisia-tee in groot hoeveelhede in as kuur teen COVID-19. Maar volgens die WGO is geen studies gedoen wat bewys dat die artemisia-kruietee, Baptised Covid-Organics of COVID Organics CVO Tisane Bio, enigsins doeltreffend is teen COVID-19 nie.

Lees meer: https://www.aljazeera.com/news/2020/05/madagascars-herbal-tonic-covid-19-cure-200504081212753.html

Een van die behandelings wat getoets word, is die gebruik van herstelde pasiënte se bloedplasma wat teenliggame teen die virus bevat. Dit word in sommige stede vir ernstige siek pasiënte gebruik, en die doeltreffendheid van die behandeling is nog nie bekend nie.

Is die streng inperking werklik nodig?

Die Vlak 5 inperking is ingestel om die vinnige toename in siekes tydelik te beperk om gesondheidsdienste kans te gee om gereed te maak vir die ware golf van siekes.

Ons is nou in steeds streng vlak 4 inperkings, maar al meer vrae word deur wetenskaplikes en aktuarisse gevra of die streng inperkings werklik nodig is.

Ook maak die lang rye van mense vir kospakkies, Sassa-en ander uitbetalings, samedromming in winkelsentrums, maskers onder die neus en keel, en die onmoontlikheid van fisieke afstand in digbevolkte woongebiede, ‘n klug van vlak 5 en 4 inperkings.

Stelling: Die toename was nooit eksponensieel nie: https://unherd.com/thepost/nobel-prize-winning-scientist-the-covid-19-epidemic-was-never-exponential/

Stelling: die voorspellingsmodelle was foutief: https://www.businesslive.co.za/fm/features/2020-04-24-sas-covid-19-models-were-flawed-says-former-nicd-expert/

Stelling: In New York word Covid nou op elke doodsertifikaat aangedui vir meer fondse:
https://www.armstrongeconomics.com/international-news/disease/fraud-in-new-york-overstating-covid-deaths-to-get-more-money/

 

SLOTSOM

– Enige een kan die virus kry. Na raming dra reeds meer as een uit 5 mense in Suid-Afrika die virus.
– Kan jy met sekerheid voorspel by watter groep jy pas?
Groep A: 80% van diegene gaan skaars siek word of net ligweg siek word.
Van die groep met min simptome, is daar wel jonger mense wat skielik ‘n bloedstolsel in die brein (‘n beroerte) ontwikkel of skielik ander orgaanskade van die niere, lewer or hart opdoen.
Groep B: 20% gaan moontlik in die hospitaal beland. (As jy aan die risikogroep behoort, is jy dalk een van die 20 uit ‘n 100)
Groep B1: As jy in die hospitaal beland, kan suurstof waarskynlik voldoende wees.
Groepe B2: Indien nie, kan jy aan ‘n ventilator gekoppel word (as daar een beskikbaar is).
Groep B3: Indien jy aan ‘n respirator gekoppel word, is die kans op oorlewing (met of sonder tydelike of permanente long- en/of breinskade) 50/50.
– as die wêreld ‘n pandemie moes kies, is hierdie virus eintlik baie baie matig. Die sterftesyfer is eintlik baie laag en die risikogroep is meestal mense wat reeds ander siektes het of oud is, en jong mense (en dus die wêreld se toekoms) kom meestal lig daarvan af. Die ergste scenario sou wees dat ‘n virus wat dodelik is vir die meeste mense (wat SARS-CoV2 nie is nie), tegelykertyd aan massas mense per aerosol oorgedra word (wat SARS-CoV-2 nie doen nie) en wat meestal jong, gesonde mense doodmaak (wat SARS-CoV-2 nie doen nie), die wêreld kon tref, en nie SARS-CoV-2 nie.
– as jy weet of jy ‘n risiko het om ernstiger siek te word as ander, is dit nie jou eie verantwoordelikheid om na jou eie gesondheid om te sien nie?
– as jy verantwoordelik is, is dit nie jou eie verantwoordelikheid om te verhoed dat jy ander aansteek as jy dalk reeds die virus het, maar sonder simptome is nie?

Bly veilig.

Mari Hudson