My DDN-storie: My week#16 en ek voel sterker


Gesondheid op RSG se Marí Hudson deel haar ervarings van die Doen Dit Net (DDN) aksieplan.

Só het my week#16 tot dusver verloop:

Kopplan: Ek besef net weereens hoe belangrik dit is om net te doen, en nie te veel te dink nie. Want sodra ek wou tob, het ek maar net my sweetpak aangetrek, my stapskoene en tot aksie oorgegaan. Anders vind ek te gou verskonings: dis te winderig, te koud, te laat, te warm, te min tyd…maar verskonings tel nie meer nie. Net dood en ernstige siekte.

Oefenplan:
Saterdag en Sondag kon ek telkens 2 km aaneen draf – sonder om tussendeur te stap.

Dinsdag en Donderdag was my oefensessies in die gym het goed verloop en ek kan werklik sê ek voel sterker, en dat ek beslis fikser is.

Ek is nou nie naastenby Wonder Woman, of GI Jane of een of ander ystervrou nie, maar ek kan bietjie langer en harder oefen as in Augustus, ek kan nou 2 km aaneen draf, teenoor 100m toe ek begin het.

Vandag het ek ‘n laaang ent gaan stap met my honde.

Eetplan:
Ek het die afgelope week gesond geëet, maar my rooimandjie-porsie van kaaskoek was dubbeld as wat gesond is. Maar nou ja. Dit was tot my dubbele ‘Sondag’ waarop ek iets uit my rooi mandjie kon eet, al moes die porsies minder gewees het.

Ná byna 16 weke (waarvan 3 weke oefeningloos weens griep) en sowat 48 oefensessies:

is ek steeds byna 7 kg ligter en my middellyfmate is 7 cm minder.

Skryf aan my by gesond@rsg.co.za en laat weet hoe jy vorder en wat jou laat vasdraai.