My DDN-storie: my weke 16+


My skoene dra my gewig goed

Gesondheid op RSG se Marí Hudson deel haar ervarings van die Doen Dit Net (DDN) aksieplan.

Hierdie nota is die laaste in die reeks vir die Doen dit net aksieplan.

Ek het oor en oor besef en ervaar dat ek werklik nie myself kans moet gee om te veel te tob of te dink of te wag tot ek lus is om oefening te doen nie. Die lus kom selde aangestap. Ek moet net in my roetine bly en oefening doen. Volgens ‘n vaste struktuur/roetine/afspraak.

En ek kon dit nie op my eie doen nie, maar die vaste afsprake twee maal per week met die fiksheidsinstrukteur by die gym het my baie gehelp. Die orige 5 dae van die week, het ek probeer om minstens 2 keer per week te draf, en nog een keer te stap. Dit het nie altyd so uitgewerk nie, maar ek kon dit regkry om die afgelope 17 weke (buiten die 3 weke wat ek siek was) minstens 2 keer per week oefening te doen, soms selfs 5 keer per week, maar gemiddeld 3 keer per week.

Dit het my langer gevat om fiks te word as 10 jaar gelede en nog langer as 20 jaar gelede. Byvvoorbeeld 20 jaar gelede het ek met die wegspringslag meer as 2 km aaneen te draf. Nou moes ek 11 weke lank oefen om uiteindelik 2 km aaneen te kon draf. Maar ek het dit reggekry.

Bismarck

Ek draf of stap liefs as dit koeler is, en beslis nie in die middel van ‘n warm dag nie. Soggens vroegerig of vroegaand as dit al koeler is, werk beter vir my.

My aanspoorders
My honde is my grootste aanspoorders tuis, want sodra ek net na die kas met my drafskoene beweeg en aan enige oefenklere raak, raak hulle so opgewonde dat ek beswaarlik kan weier om te gaan stap. Hulle draai en tol en spring rond van opgewondenheid.

Hulle het ook gou agtergekom dat ek eers met aldrie stap, hulle terugbring huis toe en dan met een gaan draf. Sodra ons op die stoep kom, draai aldrie om wag met oopbekke en swaaiende sterte vir die tweede stappie. En as Tracy, die

Lily

optel Jack Russell agterbly, huil sy tot my verleentheid soos ‘n baba.

Bismarck draf die gedissiplineerdste saam, Lily al hoe beter, maar Tracy trek my letterlik van opgewondenheid. Sy mag wel ‘n optelhond wees en ons is nie seker van haar genetika nie, maar haar persoonlikheid is 110% Jack Russell. Haar naam is Tracy na aanleiding van die wit T op haar voorkop.

As ons gestap het, was Gogga die kat, gou by en as ons te vinnig gestap het, het hy vinnig gemaau sodat ons vir hom moes wag.

Maak seker jy het ook aanspoorders: jou honde, vriende, vriendinne, ‘n oefenklub… watookal vir jou help om gereeld te oefen.

Nuwe klere
Ek het vir my uiteindelik ‘n nuwe oefenbroek en -hemp gekoop want die sweetpakbroeke en t-hemde het te warm geword.

Ek eet oor die algemeen gesonder: net een keer per week koekies of tert of tjokolade, meer vrugte, groente en slaaie, minder wit brood, maar ek kan nóg gesonder eet.

Tracy, die optel Jack Russell

Na 17 weke is ek is 7 kg ligter en is my middellyfmate 7 cm minder. Ek sit beslis my nuwe roetine voort.

Gradeplegtigheid
Maar daar is ‘n ander groot geleentheid in my lewe en dit is die gesamentlike gradeplegtigheid van twee van my broer se kinders: Nico het klaar medies geswot en Ina is nou dieetkundige. Hulle kry albei Dinsdagoggend graad. Ek is baie trots op hulle.

Seënwense
Sterkte vir jou oefening die vakansie en dwardeur 2018. Ek wens julle ook ‘n geseënde feesgety.

Van Marí, Bismarck, Lily, Tracy en Gogga.

Gogga