Gedig: Die beste van my is weg


‘n Gedig. ‘n Geliefde met demensie.

Die beste van my is weg

Moenie my vra om te onthou nie
Ek probeer, maar my gedagtes is ‘n digte mis
Ek vra vrae, oor en oor, hoopvol,
desperaat dat die lig weer deurbreek
Maar ek kan niks opdiep uit die voue van my brein nie
Dis ewig ontwykend

Het my geheue, my onthou van my lewe wat was,
weggevlieg soos swaels wat wyk voor die koue wat kom?
Of is alles net baie diep begrawe
in die middel ’n doolhof sonder begin en einde?

Ek kan ook nie meer prentjies in my kop skep
oor my kinderjare-huis nie
Of die plaas of my man nie, of my dorp of my vriende nie,
nie eens meer my kinders of my ma of pa nie
Ek kan my hulle nie meer verbeel nie
Ek onthou nie meer hul gesigte nie, hulle manier van praat en beduie nie
My woonplek op die padkaart kan ek nie meer eien nie
Waar is ek dan nou? Hoe vind ek my pad huis toe?
Waar is my huis? Waar bly ek?

Ek kry tyd en ruimte nie meer klein nie.
Ek hoor jy praat van plekke en mense
Maar ek kan my nie orienteer nie.

Ek is deurmekaarder as wat jy ooit kan verstaan,
Ek voel hartseer en verlore.

Moenie kwaad of ongeduldig word met met my nie
Ek kan nie help vir hoe ek nou optree nie
al probeer ek hoe hard
Die beste van my is weg

Al wat ek werklik weet is dat ek jou nodig het
Om by my te wees elke dag elke minuut wat jy kan
Moenie my verlaat soos my gedagtes wat noordwaarts trek nie

Bly lief vir my tot ek die swaels volg
Lê my dan saggies neer.
Waar duiwe soet in hoë sipresse koer
en die dae helder is soos my gedagtes eens was

Gebaseer op ‘n gedig deur Owen Darnell, aangepas deur Marí Hudson