Die Laingsburg-vloed: 40 jaar later
Foto: Op 25 Januarie 1981 breek die walle van die Buffelsrivier en oorstroom die dorp Laingsburg. Nagenoeg 100 mense sterf, 184 huise word verwoes en 72 mense se liggame word nooit weer gevind nie. Dié vloed het gevolg nadat sowat 425 mm reën op 24 en 25 Januarie geval het. Foto deur Kraal-uitgewers.
Die fratsvloed het in Laingsburg se eeufeesjaar plaasgevind en het binne minute ’n groot deel van die dorp weggespoel. Altesame 185 huise, die ouetehuis, skoolkoshuise, vier rondawels en 23 sakepersele is verwoes. Die regering het hulp aan die dorp voorsien en Die Burger het deur sy lesers sowat R3 miljoen ingesamel.
Inwoners het die vloed as Swart Sondag beskryf – die dag toe die “bruin watermassa” die dorp verswelg het.