Die liefde se vreemde draaie…


‘n Tweede kans is ‘n splinternuwe liefdesverhaal uit die pen van die radiodramaturg Ronel Mostert met Mari Snyman as die regisseur.

Dit debuteer op Donderdag 12 November om 20:00 in Radioteater op RSG.

Mostert het reeds verskeie radiodramas vir RSG geskryf, soos onder andere die gewilde Bosluisie.

Karen Wessels, Rina Nienaber en Paul Lückhoff vertolk die hoofrolle. Ander spelers is David Louw, Heidi Mollentze, Eloise Cupido en Donovan Pietersen.

Leah begeer ‘n kind van haar eie, en wanneer sy uiteindelik swanger raak, is sy in die wolke. Maar haar vreugde word bederf deur Alex, die kind se pa. Boonop word sy skielik van ‘n diefstal verdink en haar geliefde draai sy rug op haar.

Haar ma, Wilna, is egter ‘n steunpilaar. Dan is daar ook Dewyk, Leah se ginekoloog, wat haar probeer onderskraag wanneer die holderstebolder gaan. Leah steun swaar op hom wanneer die teleurstellings net toeneem.

 

DIE SKRYWER – RONEL MOSTERT

Ronel Mostert

Ronel Mostert het ná 27 jaar die tuig as bemarkings- en menslike hulpbronbestuurder neergelê om voltyds te skryf. Haar debuutroman, Dubbele wonderwerk, is in 2015 deur Kwarts-uitgewers uitgegee. Maar vir RSG skryf sy radiodramas soos Bosluisie, Spieëlbeeld en Erfporsie. Sy het ook al vantevore haar hand gewaag aan kinderboeke en digkuns en is deur die Centurion College vereer vir haar bydrae tot Afrikaans.

Sy is bekend vir haar flitsverhale, wat onder andere in Sarie, Vrouekeur en Huisgenoot verskyn het. Een van hierdie verhale is ook op Vrouekeur se webtuiste aangewys as die wenverhaal.

Alhoewel die spreekwoord lui “van sit en staan, kom niks gedaan”, glo Ronel dat stilsit, veral voor ’n rekenaar, vir ’n skrywer van kardinale belang is. Ronel hou daarvan om by ervare skrywers kers op te steek en deurlopend te leer en te groei. Sy is lief vir skryf en is dankbaar vir elke geleentheid om dit te kan doen.