Dokkie: Nooit te oud vir ballet nie!


Louie-Anna Nel (78, regs) het drie jaar gelede selfs met balletklasse begin.Louie-Anna Nel (78) sê: “Ek sal aanhou ballet tot die juffrou my wegjaag!”. Omdat Louie-Anna Nel op 75 eers begin het met ballet, hou sy Annette Pieterse met valkoë dop vir die regte beweging. Annette het as kind ballet geneem en in haar 60’s weer ballet begin doen.

‘n Mens raak skoon uitasem om op die spoor van Louie-Anna Nel, hiperaktiewe ouma van Mosselbaai, te probeer bly.

Hierdie 78-jarige vrou swem nog n uur en n half lank op ‘n slag, sy doen joga, volg n rou vegan dieet én is kliphard besig met haar matriek-wiskunde. Drie jaar gelede, toe Louie-Anna 75 was, het sy selfs met balletklasse begin. Mariska Spoormaker het haar in só ‘n klas, al dansende tussen ander bo 60’s, aangetref:

Luister Donderdagaand om 20:00 na dié dokumentêre program deur Mariska Spoormaker.

Mariska vertel meer:

Natuurlik is ‘n mens se lyf op 60 en daarna nie meer so soepel soos in die jonger jare nie – maar dit beteken nie jy moet nou afsien van jou drome om te kan ballet nie.

Marietjie Viviers (met haar rug na die kamera), balletinstruktrise van Mosselbaai, besig met n senior balletklas

Op Mosselbaai is daar heelwat vroue bo 60 wat nog ballet vir ‘n vale, want hier vind jy Marietjie Viviers wat op ‘n aktiewe 71 begrip het vir die seniors se versugting om te kan aanhou met. Sy neem selfs beginners in – soos Louie-Anna Nel, wat drie jaar gelede, op 75-jarige ouderdom, vir die eerste keer met ballet begin het.

“Ballet is goed vir die liggaam én die gees,” vertel Marietjie, “soveel so, dat dit in lande soos Engeland al as terapie vir mense met Parkinsons aangewend word. Ballet help ook dat mense hul belangstelling in die lewe behou.”

Marietjie se senior- en junior balletklasse (sy bied ook nog vir kinders aan) is só gewild dat sy onlangs die dienste van Phillip Davel, ook ‘n balletinstrukteur, ingeroep het.

“As ek my pienk skoentjies aantrek, dan is ek ‘n ander mens.”- Annette Pieterse (Bo 60-danser)

Vir Phillip is die senior balletklasse, net soos vir Marietjie, n baie interessante uitdaging “want volwasse mense – veral dié wat nooit ballet as kind geneem het nie – wil eers met hul breins verstaan hoekom sekere bewegings op sekere wyse uitgevoer word, en dan volg die lyf.

“Kinders, daarenteen doen die bewegings spontaan,”sê Phillip.

Phillip en Marietjie is dit eens dat ballet – veral vir die senior mens – die beste fisieke én intellektuele oefening is. “Nie net moet jy al die bewegings onthou nie, maar ook al die terme in watter taal ookal.”

Glo die senior mans ook in die goedheid van ballet?

“Ongelukkig nie, sê Marietjie, “die Suid-Afrikaanse kultuur is nog te macho. Nog te veel rugby en bier. En die beskouing is dat ballet net vir sissies is.”

Phillip, is jy dan n sissie?

“Glad nie! Binne ballet vind jy die moeilikste bewegings, jou spiere moet sterk en ontwikkeld wees én jy moet binne sekere style en presies op die maat van musiek beweeg. Dit is ‘n kuns om dit goed te kan doen.”

Marietjie wys daarop dat ballet juis toenemend meer in sekere sportsoorte – selfs rugby – aangewend word ter wille van goeie spierontwikkeling.

Hier op die foto is links voor Marietjie Viviers, balletinstruktrise, en regs agter Phillip de Vos (ook ballet instrukteur) by ‘n paar van die dansende bo 60’s. Links agter is Louie-Anna Nel, langs haar Annette Pieterse en regs voor is Debbie Preston-Harris.

Al hierdie “ballet-wysheid” wat Donderdagaand 28 Maart met die RSG-luisteraars gedeel gaan word, is te danke aan die feit dat ons gaan kuier het by Louie-Anna Nel, die hiperaktiewe ouma van Mosselbaai wat benewens die ballet nog talle ander dinge doen.

Ná die ballet is ons saam na haar huis om oor die res van haar lewe te praat en aan allerlei rou vrugte- en groentedisse te smul, want Louie-Anna volg ook n rou vegan-dieeet. In haar week vol van swem, ballet, joga, ouetehuisbesoeke en matriekwiskunde, het sy net Saterdagmiddae oop om haar disse vir die komende week voor te berei.

Die rou vegan-dieeet volg sy nie weens modegier of filosofie nie – vyf jaar gelede het ‘n korsagtige uitslag om haar mond gevorm en die dokters het gesê chemoterapie is al wat sou werk om dit weg te kry. Sy het by haar dogter, ‘n dieetkundige, om raad aangeklop en dié het haar na n alternatiewe heler verwys. Dié man het onder meer n rou vegan dieeat aanbeveel.

Louie-Anna Nel het op 73-jarige leeftyd ter wille van haar gesondheid na n rou vegan-dieet oorgeslaan

Benewens die kors om haar mond wat weg is, ervaar Louie-Anna ook glad nie meer rumatiekpyne en neem ook nie meer medikasie daarvoor nie.

Luister Donderdagaand 28 Maart om 20:00 om die hele storie te hoor.