Luister weer: Breyten Breytenbach – ‘n Ander skakering


Ter viering van die bekende Suid-Afrikaner, Breyten Breytenbach, het Johan Rademan ‘n spesiale program saamgestel wat die fokus verplaas van sy skrywerskap, waarvoor hy alom bekend is in Suid-Afrika, na sy skilderkuns, drama en musikaliteit.

In ‘n eksklusiewe onderhoud met Breyten brei hy uit oor sy ondergewaardeerde sy in Suid-Afrika, en hoe dit eintlik ‘n onontbeerlike komponent vorm van sy kunstenaarskap. Renaissance-kunstenaars het dikwels as filosowe, digters, beeldhouers, skilders en skrywers alle genres oorskry. Breytenbach is een van die enkele Suid-Afrikaners wat so ‘n Renaissance-kunstenaar is.

Luister na die kunsinnige sagte Breyten en die geharde rebel en heethoof, saamgesmelt in een program wat toegelig word met vriende en kenners, wat die genres saam met hom verken het.

Agtergrond inligting oor Breyton Breytenbach

Breyten Breytenbach in Matjiesfontein agter die klavier.

Breyten en Yolandé, sy vrou uit Saigon, Viëtnam

Breyten is op 16 September 1939 in Bonnievale in die Wes-Kaap gebore. Sy ouers Hans en Kitty Breytenbach figureer dikwels in sy werke as Oubaas en Ounooi.

Sy oudste broer Jan (stigter van die Spesmagte in S.A.) word deur hom as ‘n uitstekende skrywer beskou. Cloete word ‘n oorlogkorrespondent en briljante fotograaf, wat kort voor sy dood vanjaar nog in Portugal ‘n uitstalling gehou het. Sebastiaan, ook oorlede, was die pedagoog en het ook geskryf en gepubliseer, terwyl Rachel die enigste dogter in die gesin was.

Breyten was 5 toe hulle Riversdal toe trek en 9 toe hulle kort daarna Wellington toe is waar sy pa ‘n winkel gekoop het en toe Grevilleas, ‘n losieshuis wat sy ouers tot 1970 bedryf het. Vandag is dit die Breytenbachsentrum.

Op skool teken hy graag prentjies deur na die radio te luister. Sy broer Jan se sketse het hom ook beïndruk. Ná hy die Hugenote Hoërskool as matrikulant en hoofseun verlaat, gaan studeer hy aan die Universiteit van Kaapstad waar hy naby die Michaeliskunskool kon wees. Hy studeer BA en sy dosente was o.a. Boerneef en DJ Opperman.

Breyten as vryheidsvegter…soos ‘n jong Ché Guevera. Die ‘huursoldaat’ foto is Breyten in Swaziland op Van Zyl Slabbert se skoonouers se plaas tydens ‘n jagtrip. Sy broer Cloete, wat vanjaar oorlede is, was die fotograaf.

Anne-Ghret Erasmus (Coetzee), kurator van die Breytenbach kunsgallery, Breyten Breytenbach by sy Bôrdienghuis, Yolandé sy vrou, en Ampie Cotzee, sy jarelange vriend en mede-uitgewer van Taurus, saam in Wellington.

As 21-jarige vertrek hy per boot met ‘n vierdeklaskaartjie na Lissabon en gaan met 20 pond in sy sak aan wal. Hy verken die Middelandse see en reis rond in Portugal, Spanje, Frankryk en Engeland en gee ook 6 maande Engels in Noorweë. In Junie 1961 gaan hy terug na Parys om in alle erns weer te begin skilder. Hy’t  o.a. in ‘n nagklub in Nice, Frankryk, portrettekeninge maak om geld te in om te kan eet en bly.

Hy ontmoet Yolande (Hong Lie Ngo, wat Goue Lotus beteken) en trou in 1962 met haar. Sy was ‘n Franse burger, hoewel haar familie uit Saigon in Vietnam kom. Sy vrou is vlot in Frans, Viëtnamees, Spaans en Engels en behaal ’n BA-graad aan die Sorbonne. Sy studeer verder in die regte en volkekunde waar Breyten ook in 1963 studeer. Sy word toestemming geweier om Suid-Afrika binne te kom a.g.v. die destydse binnelandse beleid en wetgewing en Breyten raak betrokke by anti-apartheids organisasies in die buiteland.

Sy eerste kunsuitstalling is in 1964 in Amsterdam en sy eerste digbundel, Die Ysterkoei moet sweet, en prosabundel, Katastrofes, verskyn ook in 1965 in Suid-Afrika met die aanmoediging van Chris Barnard wat hom in Parys besoek het en aanbeveel het by uitgewer Bartho Smit. Hy ontvang die APB-prys in 1966 in Montparnasse in Frankryk. Die uitgewers het aanvanklik vir Breyten en Yolande genooi om die prys in Suid-Afrika in ontvangs te neem, maar omdat Yolande van Viëtnamese afkoms is, weier die Suid-Afrikaanse regering om ’n visum aan haar toe te staan weens, onder andere, die Wet op Gemengde Huwelike van 1949. Breyten beskou dit as die begin van sy politieke bewustheid.

Twee karpêrre: Breyten Breytenbach en Ampie Coetzee word albei 80 om September 2019. Hulle is op die trap na die Breytenbach gallery op Wellington.

Breyten se skildery van een van sy gunsteling sangers, Leonard Cohen.

Die Breytenbach-egpaar ontmoet sy ouers in 1967 in Swaziland, nadat hulle deur Mosambiek gereis het om mekaar te ontmoet.

Hy slaag om in 1972 uiteindelik daarin om ’n visum vir Yolande te bekom en hulle woon in Februarie 1973 die Sestiger-Somerskool aan die Universiteit van Kaapstad by.

In 1971 word Breyten aangewys as ere-ondervoorsitter van die Suid-Afrikaanse studente-organisasie Nusas en as erepresident in Junie 1974. Breyten word in Frankryk ’n stigterslid van Okhela(om aan die brand te steek). Dié groep, wat uit vyf lede bestaan, beskou hulle as die blanke vleuel van die ANC. Hulle aktiwiteite was daarop gemik om die ANC te help met hulle strewe na ’n omwenteling in Suid-Afrika, en indien nodig selfs met geweld.

1 Augustus 1975 land Breyten op die Jan Smuts-lughawe (vandag OR Tambo) in Johannesburg waar hy gearresteer word met ’n vals paspoort onder die naam Christian Galaska. Op 10 November 1975 verskyn Breyten in die hof ingevolge die Wet op Terrorisme. Op 27 November word hy gevonnis tot 9 jaar tronkstraf. Hier word Breyten toegelaat om te skryf, maar nie te skilder nie. Op 2 Desember 1982 word Breyten ná 7 jaar onverwags uit die tronk ontslaan.

Die eerste werk wat Breyten ná sy vrylating skryf, word deur Taurus publiseer in 1984: The true confessions of an albino terrorist. Hy vertel aan Johan Rademan dat hy ontslae moes raak van die geweldige trauma in die tronk en dat dit die enigste manier was waarop hy dit kon oorvertel aan sy vrou. Hy het dit met stemopnames op ‘n bandmasjien gedoen wat sy dan oorgeskryf het.

In 1987 speel Breyten, saam met Idasa, ‘n rol in die reël van die gesprekke tussen leiers van die ANC en 50 Suid-Afrikaners in Dakar in Senegal. Europese en Amerikaanse organisasies help om fondse te bemiddel en Frederik Van Zyl Slabbert lei die Suid-Afrikaanse missie nadat Danielle Mitterand, die Franse president se vrou, Breyten help om visums vir die groep te bekom. In dieselfde jaar doen Breyten en Yolande aansoek om ’n visum om Breyten se siek pa te besoek, maar dit word geweier o.a. weens Breyten se houding en gedrag teenoor Suid-Afrika. ‘n Vierdaagse visum word in Julie 1989 aan Breyten en Yolande toegestaan vir ’n besoek aan Breyten se pa, wat later, in Desember 1989, in die ouderdom van 85 jaar oorlede is. Visums word ook vir drie dae aan Breyten en Yolande toegestaan om die roudiens in Grahamstad by te woon. Hulle word ook toegelaat om die seremonie in Hermanus by te woon waar die as van sy pa by sy ma se graf gestrooi is.

Johan Rademan maak gereed om met Breyten Breytenbach te gesels by ‘n skildery van hom uit 1962. Sy eerste solo kuns uitstalling in 1962 in Amsterdam.

Hoewel Breyten se kunswerke veral in Europa baie bekend is en hy lank reeds uitstallings daar hou, word sy eerste kunsuitstalling eers in 1993 in Suid-Afrika in Kaapstad aangebied. Die titel is Painting the eye.

In November 1993 verkies die Internasionale Parlement van Skrywers ’n Wêreldraad met ’n president. Die Wêreldraad, bestaan uit Adonis, Pierre Bourdieu, Breyten Breytenbach, Jacques Derrida, Carlos Fuentes, Edouard Glissant en Toni Morrison. 60 Skrywers wat vergader het, wys ook Salman Rushdie vir ‘n termyn van 2 jaar as president aan.

Breyten se skryfwerk as dramaturg word hervat, nadat hy Titus Andronicus van Shakespeare in 1970 vir KRUIK vertaal het, met Boklied (wat terloops ook in Katelaans en Portugees vertaal en opgevoer is), The life and times of Johnny Cockroach, in 2000 en Die Toneelstuk in 2001. Al drie word geregisseer deur Marthinus Basson.  Al drie werke word as uitdagend, omstrede en grensverskuiwend beskou.

Ook aan die begin van die millenieum slaan sy ouerhuis se musikaliteit deur en pak hy opwindende musiekprojekte saam met Albert du Plessis aan wat ‘n nuwe terrein vir Breytenbach fasiliteer met “Om te Breyten”, “Mondmusiek” en “Lady One”Tien jaar gelede, in 2009, ter viering van Breyten se 70ste verjaardag, het die dorpie Hengelo in die noordooste van Nederland hulde aan hom gebring. Hy ontvang erkenning vir sy multi-aanwending van kunsgenres.

Albert du Plessis, musiek projekleier van Breyton Breytenbach by van die CDs.

14 nuwe Afrikaanse sonnette van Breyten word op stadsmure en in stads­tuine aangebring. Twee publikasies word bekendgestel en gedruk: Wandeling, ’n tabletgrootte-koerant, 10 000 eksemplare, met die Afrikaanse, handgeskrewe sonnette naas die Nederlandse vertaling. Sy kunswerk word ook in drie galerye uitgestal en al dié werk is in hardeband byeengebring in Breyten Breytenbach – Raakruimtes.

Johan Rademan in gesprek met regisseur Marthinus Basson. Basson het aldrie Breyten se toneelstukke gereggiseer.

Breyten, met Yolande se invloed en bekendstelling, glo in die Oosterse manier van kyk na betekenis.

Die afgelope dekade verdiep sy werk en reik hy uit en tree in gesprek met kunstenaars, filosowe en skrywers van oor die planeet, dikwels en meestal persoonlike kennisse.

Joost Borslap, kurator van Breyten Breytenbach se laaste uitstalling ‘The 81 ways of letting go a late self’, saam met Johan Rademan in die Stevenson gallery in Woodstock, Kaapstad.

Sy 80ste lewensjaar word aan Breyten Breytenbach gewy in Wellington by die Breytenbach-sentrum waar verskeie nuwe vrystellings, optredes en Breyten as openbare figuur self sal optree.

Die multi-kulturele en veelvlakkige kunsbelewenisse om taal, politiek en kultuur ineen te laat vloei bly steeds kenmerkende van die projekte by die Breytenbachsentrum, maar ook die terugslaan op Die dansende digters en die Goree-eilandervarings, Deense en Senegalese en New York inslag wat Breyten saam met die onderskraagende bewussynswereld van Yolande en die Oosterse leefwyse laat vervloei in sy Suid-Afrikanerskap maak Breyten een van die grootstes wat die kuns-en-letterkundewereld as Renaissance-kunstenaar vir SA opgelewer het.