Donderdagaand: Martin Vuurtoring


Ons nuwe dokumentêre seisoen het in Januarie afgeskop. Hier is ‘n voorsmakie van wat in Januarie op jou wag:

24 Januarie 20h00: Martin Vuurtoring

Martin Peterson by die Groot Vispunt se lens

Ontmoet Martin Peterson, een van Suid-Afrika se laaste vier vuurtoringwagters

Suid-Afrika se vuurtoringwagters is besig om te verdwyn. Die tegnologie het hulle taak oorgeneem. Martin Peterson, vuurtoringwagter van die Groot Vispunt Vuurtoring, is een van die laaste vier wat nog dié beroep beoefen.

Mariska Spoormaker het by hom gaan kuier.

Martin Peterson is 51 jaar oud en, 51 jaar lank, sê hy, is hy by n vuurtoring.

Hy glimlag. “Ek kan dit sê, want n vuurtoring is iets wat in jou gene is, dit kom klou in jou bloed.”

Maar daar is ook iets hartseers rondom hierdie vriendelike vuurtoringwagter van die Groot Vispuntvuurtoring – hy is een van Suid-Afrika se laaste vier vuurtoringwagters.

“Dis die tegnologie,”

Martin Peterson

sug hy, “ons sit nie meer self die lig aan nie, ons lees ook nie meer die weer nie.”

Martin se kantoor langs die wit en swart gestreepte Vispuntvuurtoring kyk uit oor wye strande, onstuimige see en inheemse kuswoud. Hy kan jou vertel hoe die suidooste-, ooste- en westewind die sandpatrone op die duine verander.

“Kyk daar!” en Martin beduie na ‘n plek in die see, “sien jy daar? Daar speel die walvisse.”

Sowaar.

“En daar was ook baie dolfyne gewees.”

Hy gaan sit langs die groot, oop venster.  “Alles gaan oor respek. Respek vir die vaarders se veiligheid op die oop see en, respek vir die natuur.”

Seker die twee hoofelemente in n vuurtoringwagter se karakter, want die vuurtoring se skynsel is húlle verantwoordelikheid, en jy moet mal wees oor die ongerepte natuur , want dit is meestal waar n vuurtoring staan.

Ook vér weg van mense, dié dat hy eerder vuurtoring as vrou gekies het, sê Martin met n skaterlag.

Sy pa was n vuurtoringwerker, hy het sy loopbaan by die Kaap Columbine-vuurtoring naby Paternoster aan die Weskus begin, vertel Martin.

“Toe word hy na die Kaap St Francis-vuurtoring in die Oos-Kaap verplaas. Daar het hy toe my ma ontmoet en daar is ek toe gebore – 51 jaar terug.

As kind en later as jongman het Martin graag saamgewerk by die Kaap St Francis vuurtoring en is later by dié toring as algemene werker in diens geneem.

‘n Noodlottige gebeurtenis het Martin se rigting in dié van vuurtoringwagter gestuur.

“Dit was in 1992. Die vuurtoringwagter moes dorp toe gaan en hy sê vir my : Martin, die helikopter gaan kom om n beseerde beamnningslid van een van die skepe te haal. Kyk uit daarvoor.

Die uitsig vanuit die Vispunt vuurtoring

“Ek het gaan sit, later gesien hier kom die helikopter en….daar val dit in die see!”

Martin het dadelik die hawekaptein in Port Elizabeth gebel om hom van die helikopter te vertel.

“Hy het gesê nee, dit kan nie wees nie, maar gelukkig het berigte van ander bote toe ook begin inkom.”

Maande later het die hawekaptein na die Kaap St. Frances-vuurtoring gegaan en daar vir Martin, hard aan die vee, aangetref.

Martin vou sy arms oor sy maag. “Hy het my toe gevra- wil jy hierdie werk doen vir die res van jou lewe of wil jy verdere opleiding vir n vuurtoringwagter ontvang? Ek is toe Kaap toe vir verdere opleiding en hier is ek nou n vuurtoringwagter.”

Die Vispunt vuurtoring se trappies

Hy het by verskeie vuurtorings regoor die land diens gedoen tot hy by die Groot Vispuntvuurtoring aan die buitewyke van Port Alfred  beland het – sy eie stukkie natuurhemel waar hy ook  “professor” in visvang geword het, skerts hy.

“Elke keer wanneer ek kom visvang, groet ek die see, en as ek iets uitgetrek het, sê ek dankie vir die see. Soos ek gesê het – alles gaan oor respek.”

Hy het ook nog steeds groot respek vir sy taak, al skakel sy Groot Vispuntvuurtoring ook al outomaties aan en af. In die na-nag of vroegoggend loer hy nog steeds of die vuurtoring skyn, want die tegnologie kan jou in die steek laat, verduidelik Martin.

Voor die tegnologie só ontwikkel het dat die meeste vuurtorings outomaties aan- en af skakel, was die taak van vuurtoringwagter wat die lig se skyn beheer het,  baie belangrik. Hulle het selfs uniforms, in voorkoms soortgelyk aan dié van die vloot, gedra.

Deesdae dra hulle ‘n donkerblou klere met n lemmetjiegroen reflektorbaadjie oor die bolyf.

Martin se  reflektorbaadjie bol in die wind toe ons na die vuurtoring stap. Net voor hy oopsluit, sê hy laggend:  “Ek het al gesê hulle moet hierdie Groot Vispuntvuurtoring eerder die Windgatvuurtoring noem!”

In die vuurtoring, amptelik geopen in 1898, klink dit pure spook:  Wheoei-wheoei-wheoei!

“Dis die wind. Daarbo baklei die vuurtoring en die wind met mekaar….al langer as n honderd jaar en seker nog vir die volgende honderde jare.”

Trappie vir trappie (daar is 54) neem hy my deur die geskiedenis van die vuurtoring, verduidelik en wys hoe hard die ou vuurtoringwagters nog met paraffien moes werk, hoe daar elke vier ure weer gestook moet word, hoekom die koper so blink en hoe die reuse-lens werk- sê maar in n soort van morsekode.

“Elke vuurtoring se kode is uniek, net soos die voorkoms van elke vuurtoring uniek is – dit is sodat die seevaarders presies kan weet met watter vuurtoring hulle te doen het.”

Die wind wip ons amper van die vuurtoring toe ons deur die deurtjie na buite op die nou balkon gaan. Martin ken al die dril: “Kom net hier om die draai, dan is ons uit die wind.”

En daar staan ons uit die wind met die ewigheid as ons uitsig. Onder, tussen duin en kusplantegroei, staan twee groot huise. Vroeër was dit die vuurtoringwagter en ander vuurtoringpersoneel se huise, nou is dit selfsorg vakansieeenhede.

Met die outomatisering van die vuurtorings, en die gevolglike  vermindering  van vuurtoringpersoneel, het Transnet vuurtoeringtoerisme ontwikkel.

Martin is ook n opgeleide toergids – iets wat 100% in sy kraal pas, want nou kan hy sy vuurtoringpassie met al wat leef en beef deel.

En eendag, as hy van die ouderdom is dat hy moet aftree, sal hy teruggaan na Kaap St. Francis, sê hy. “Maar nie te ver van n vuurtoring nie – ek sal nog elke dag by die vuurtoring moet kan uitkom. My lewe kan nie sonder n vuurtoring nie.”

Dit wil darem voorkom asof Martin, juis vanweë sy heropleiding as toergids , nie gou sy geliefde vuurtoring sal hoef te groet nie, want vuurtoringtoerisme in Suid-Afrika is baie groot.

“Ons verkies om van die vuurtorings nie net vir toerisme te beman nie, maar ook as beskerming teen diefstal en vandalisme. Om aan internasionale vuurtoringstandaarde te voldoen, moet die lig bly skyn,” verduidelik Chris Deysel, operasionale toesighouer – vuurtoringdienste by Transnet.

Daar is 45 werkende vuurtorings aan die Suid-Afrikaanse kuslyn – ongeveer 3 000 km vanaf Port Nolloth aan die Weskus tot Sodwana aan die Ooskus.

Die vuurtoring op Donkin Hill in Port Elizabeth, wat op 1 Junie 1861 in werking gestel is, het 112 jaar getrou geskyn en toe, op 31 Oktober 1973, is dit afgeskakel.

“Die rede is omdat dit mettertyd heeltemal omring is deur stadsliggies en dus nie meer sigbaar genoeg was vir skepe nie. Dit dien tans as ‘n museum vir uitstallings van oudhede en huisves ook die Nelson Mandelabaai Toerisme inligtingsentrum,” sê Deysel.

Slegs 11 van Suid-Afrika se werkende vuurtorings word nog beman:

Port Nolloth, Kaap Columbine, Slangkop Punt, Danger Point, Robbeneiland, Kaap Agulhas, Groot Vispunt, Hood Point, Mbashe, Groenpunt in Kwazulu-Natal en Kaap St. Lucia.

En uit dié 11 bemande vuurtorings is daar nog net vier amptelike vuurtoringwagters oor:

Japie Greeff – Kaap Columbine- Weskus, Raymond Wyness –  Groenpunt in KwazuluNatal, Joseph Kannemeyer – Hood Point – Oos-Londen en dan Martin Peterson by die Groot Vispuntvuurtoring.

“Dit is nie n lekker gevoel nie,”sê hy, “maar soos die maatskappy en die tegnologie verander, so moet jy maar ook saam met dit verander.”

Die positiewe verandering is dat enigiemand van die besoek as toeris by sommige van die Suid-Afrikaanse vuurtorings kan gaan inloer.

Vir meer inligting, bel die Vuurtoringdienste se afdeling toerisme by 021 449 2400 of stuur n e-pos na: lighthouse.tourism@transnet.net

31 Januarie 20h00: Nageboorte naelstring
Die Sweedse navorser Annemarie Widstrom het navorsing gedoen oor die vel tot vel kontak tussen ‘n pas-gebore baba en mamma.Kyk na inligting oor die 9 stadiums op ons webtuiste . Jacqui January gesels met kundiges oor borsvoeding.  En wil dit voorkom of al daai “ouvrou-stories”  beproefde oorlewingsfeite is!Tongknope kom baie algemeen by pas gebore babas voor en kan voeding uiters bemoeilik. Jacqui January is die samesteller.