Luister weer: Ouma leer skryf


Ouma Joahnna Wewers (64) oefen aanhoudend om tye te kan skryf. Foto: Mariska Spoormaker

Op 64-jarige ouderdom sit ouma Johanna Wewers van Despatch vir die eerste keer in haar lewe in die klas, en dít omdat sy, nes haar kleinkinders, wil kan skryf.  Mariska Spoormaker het by die klas, waar ander vroue ook leer lees en skryf, gaan inloer

Luister na die dokumentêre program deur Mariska Spoormaker om Ouma Johanna se volle storie te hoor.

Agtergrond inligting

Op 64 gaan Ouma Johanna vir die eerste keer skool toe

deur Mariska Spoormaker

Sy buk laag oor haar skryfboek. Spore van jare se harde werk lê op die rugkant van haar hande en in die kromming van haar vingers. Die viltpen tjie-tjie-tjie op die wit bord voor haar, en dan staan daar geskrywe: Hy eet ‘n peer. Ek eet kaas. Die 64-jarige Ouma Johanna Wewers sit terug, kyk tevrede na haar skryfwerk.

“Ek was so gelukkig om vir die eerste keer in my lewe skool toe te kan gaan. Om te weet ek het n juffrou wat vir my gaan leer. Om op 64 vir die eerste keer op n skoolbank te kom sit, wil seker gedoen word…maar dit is nou my kans!”

Ouma Johanna oefen hard om te leer skryf.

Tjie-tjie-tjieeee! skryf Ouma Johanna verder. “Ek is só gelukkig om n juffrou te kon kry wat só geduldig is, veral met iemand soos ek wat aanhou skryf en uitvee en aanhou skryf en uitvee. En netnou weet ek weer nie hoe om hierdie klankie te doen nie…sy is baie geduldig met my.”

Marlene Sachse, hoof van die Voorbereidingskool Despatch, bied die lees- en skryfklasse aan. Foto: Mariska Spoormaker

Dié juffrou, wat Ouma Johanna en ander vroue (waaronder ook ‘n meisie van 16) leer lees en skryf, is Madeléne Sachse, hoof van die Voorbereiding Skool Despatch. Madeléne was 25 jaar lank ‘n graad een onderwyseres by hierdie skool op Despatch voor sy hoof geword het. Skaars in haar pos, het sy werk begin daarvan begin maak om ‘n droom te verwesenlik, naamlik om vroue, wat weens benadelende omstandighede nie kon leer lees of skryf nie, in spesiale klasse by die skool dié vaardighede aan te leer. Dié benadeling, verduidelik Madeléne, kom uit n verlede waaraan sy nie kan verander nie, “maar ek kan help om hulle toekoms te verander.”

Die skool se beheerliggaam ondersteun die projek ten volle, selfs ook die feit dat die “geletterdheids-leerlinge” elke Woensdag met die skoolbussie opgelaai word vir hul klas. Nog lank voor die bussie verby haar huis in Falkstraat, Reservoir Hills kom, staan Ouma Johanna al reg by die hek. Sy glo enige mens wat wíl, kán….die geleentheid moet net daar wees.

Die bure se kinders het die kennisgewing, dat geletterdheidsklasse by die Voorbereiding Skool Despatch tydens skoolure aangebied word, kom gee vir haar, vertel Ouma Johanna. “Ek het dadelik skool toe gegaan en gesê ek wil leer.”

Almal was in die wolke dat Ouma ook skool toe gaan, tog het een ding die buurkinders gepla: “Pouse het Ouma Johanna nie maatjies nie!” Hieroor lag ouma Johanna diep uit haar maag. Maar daar is nie tyd vir speletjies wanneer sy klas loop nie, vertel sy ernstig verder. “Dis belangrik om te kan lees en skryf.”

Ouma Johanna was nooit op skool nie. Sy het op Ruiterbos in die Mosselbaai-distrik grootgeword en in daardie jare moes die kinders so vieruur, vyfuur in die oggend saam met die melkkanlorrie ry om skool te kon loop. “Ek was nog te klein, ek sou verkluim het agter op daai lorrie. Later, toe verhuur my pa my aan ander plaasmense en ek het toe daar gaan bly en werk.”

Verhuur? “Ja, daardie dae was dit so…dit was swaar tye, harde tye. Daai jare moes die ouers ook maar so van plaas tot plaas gaan soos die werk is. As die werk hier nou weer skaars is, dan moet jy nou weer daai kant toe trek.” Toe sy 13, 14 jaar oud was, het haar pa haar op die plaas kom haal, want dié keer is sy dogter verhuur om ‘n bejaarde vrou op Groot Brak op te pas.

Skaars twee jaar later, na die afsterwe van dié vrou, is Ouma Johanna vir die derde keer deur haar ouers uitverhuur – dié keer as huis- en kinderhulp vir ‘n vrou van Port Elizabeth. “Toe hulle vir my sê ek gaan Baai toe, was ek bly, want Mosselbaai was vir my mos die Baai. Maar toe hou die vrou aan met ry, al hoe verder weg van Mosselbaai en toe sê sy vir my ek gaan Port Elizabeth toe…ek het nooit geweet Port Elizaneth is ook die Baai nie.”

Hard aan die werk…links is Marlene Sachse wat die skryf- en leeslesse aanbied, in die middel ouma Johanna Wewers en regs Anthea Swartbooi, nog n student in die klas. Foto: Mariska Spoormaker

Ouma Johanna het by haar nuwe omstandighede aangepas en dit is hiér waar sy haarselfleer lees het. “Die seuntjie het só gesukkel met sy leeswerk, toe vra sy ma ek moet saam met hom sit terwyl hy klank en lees. En dan vra ek hom – wat is hierdie nou, watter letter is dié, hoe klink dit? “Só het ons saam met deur Sus en Daan gewerk en aan die einde van daardie jaar het hy eerste gestaan in sy klas.”

Die eerste vir Ouma Johanna was dat sy uiteindelik kon lees. Maar, sy kon nog nooit skryf nie en het gedink dit is maar seker hoe dit sal wees, toe bring die buurkinders die briefie wat sê die hoof van Voorbereidingskool Despatch gaan geletterheidsklasse by die skool aanbied én hulle sal die “leerlinge” by hul huise kom oplaai. Nou doen Ouma Johanna en haar kleinkind saam huiswerk – die klank van die letters en dan die skryf daarvan. Haar kleinkind is al lánkal klaar, dan doen sy nog huiswerk, sê sy en lag weer lekker.

Sy tel haar viltpen op, skryf die volgende woorde op die wit bordjie neer. Toe sy klaar is, kyk ouma Johanna op, glimlag breed: “My siel en hart is gelukkig want nou kan ek skryf.”

Ivy Bruintjies, wat Engels, Afrikaans en Xhosa praat, is een van die ywerige leerlinge in die geletterdheidsklas.Foto: Mariska Spoormaker