Luister weer: Felicia Lesch – meer as net musiek


Felicia Lesch in aksie as dirigent

Die naam Felicia Lesch is sinoniem met die ontwikkeling van musiek en talent. In die dokumentêr Felicia Lesch – meer as net musiek leer ken ons hierdie besondere vrou, wat deur al haar studente as ’n ma-figuur gesien word, van naderby. Vir haar gaan dit oor meer as net musiek – dit gaan oor die mens.

Luister Donderdagaand 6 September om 20:00 na dié dokumentêr deur Johan van Lill.

Luister na ‘n klankgreep uit die program:

Luister weer:

Die drie video’s gee meer insig or Felicia Lesch, die vrou agter die US Jazz orkes:


Dié dinamiese vrou was nog altyd betrokke by gemeenskapsinteraksie en sedert 1999 onderrig sy by die Wes-Kaap Musiekonderwysprojek wat gelei is deur Ronnie Samaai en nou deur haar bestuur word. Dit staan deesdae bekend as die Ronnie Samaai Music Education Project. Saterdagoggende word vir meer as 100 leerders wat nie musieklesse kan bekostig nie, klasgegee.

Felicia Lesch

Sedert 2003 bestuur Felicia Lesch by die Universiteit van Stellenbosch die Sertifikaatprogram, een van die grootste uitreikaktiwiteite van die US Musiekdepartement. Een van die inisiatiewe van hierdie program is die US Jazz band wat al met vele pryse en toekennings beloon is – die mees onlangse, ’n KYKNET Fiesta-toekenning vir hulle optrede saam met Judith Sephuma by die Woordfees op Stellenbosch in 2017.

Haar opleidingsjare

Felicia en Ronnie Samaai (voor, tweede van links) by musiekstudente en kollegas.

Felicia Lesch matrikuleer aan Hoërskool Livingstone en verwerf die grade BMus (Ed) aan die Universiteit van Kaapstad en MMus aan die Universiteit van Stellenbosch.

Haar onderwysloopbaan strek vanaf primêre skool tot onderwysopleidingskollege en sluit ’n lang skof by Heathfield Hoërskool in waar sy ’n sterk musiekdepartement vestig. Terwyl sy hierdie posisie beklee, is sy verantwoordelik vir die organisasie van talle uitreikaktiwiteite, onder andere toere en geleenthede vir musiekleerders regoor Suid-Afrika en Namibië.

In 2000, op uitnodiging van die Indonesiese regering, reis sy na Java om die kuns van die onderrig en spel van die angklung, ’n tradisionele Indonesiese instrument, te bestudeer. Hierbenewens is sy ook aangestel as hoofeksaminator vir die Wes-Kaap Onderwysdepartement se standaardgraad geskrewe eksamen (harmonie en teorie) vanaf 2000-2003.

Felicia aan die stuur

Gemeenskapsprojekte

Felicia was nog altyd betrokke by gemeenskapsinteraksie en sedert 1999 onderrig sy by die Wes-Kaap Musiekonderwysprojek wat gelei is deur Ronnie Samaai en nou deur haar bestuur word.

In 2003 word sy by die Universiteit van Stellenbosch aangestel en is tans die hoof van die Sertifikaatprogram, die grootste uitreikaktiwiteit van die US Musiekdepartement.

Onder haar leiding het die Sertifikaatprogram gegroei en sluit nou satellietkampusse soos die kampus by die Weermagbasis in Youngsfield, Wynberg in. Verskeie betekenisvolle gemeenskapsvennootskappe is ook gevestig, onder meer die Elgin Learning Foundation, Mitchells Plain Akademie vir Musiek en Kuns en die Athlone Musiekakademie.

En al daai Jazz

Felicia is ook passievol oor jazzonderrig en neem sedert 1999 studente na die Nasionale Jeugjazzfees. Haar betrokkenheid by die fees het gegroei tot onderrig en nou is sy ook lid van die keuringspaneel van die Nasionale Skole Big Band, waarvoor sy in 2009 as dirigent gekies is.

Haar aanstelling as lektor in Gemeenskapsmusiek gee erkenning aan die betekenisvolle bydrae daarvan tot ons musikale landskap en sein nuwe rigtings in navorsing en onderrig aan die US Musiekdepartement.

Hoogtepunte

Hoogtepunte van haar loopbaan aan die US sluit in die Rektorstoekenning vir Uitnemendheid wat sy in 2010 en 2014 ontvang en die stigting van die US Jazzorkes (kategorie- en algehele wenner van die Nasionale Ensemblekompetisie 2012), waarvan sy die dirigent is. Sy is ook direksielid van die Kaapse Filharmoniese Orkes en het as beoordelaar by verskeie eisteddfodau en kultuurfeeste gedien, onder andere die Unisa Graad 8 Beurskompetisie, Tygerbergse Internasionale en Kaapse Afrikaanse eisteddfodau, Kaapse Maleierkoorkompetisie, Samro Oorsese Beurskompetisie en die Samro Hubert van der Spuy Nasionale Musiekkompetisie.

Sy is passievol oor musiek as werktuig vir sosiale verandering en bly ten volle toegewy aan daardie ideale.