Donderdagaand: Lank lewe langarm


Bobby Hendricks

Die dansvorm langarm was reeds in die koloniale tydperk in die Kaap as ʼn vorm van ontspanning en vermaak bekend. Langarm het mettertyd gewilder binne die bruin gemeenskap geword en is beïnvloed deur ʼn verskeidenheid dansstyle en musiek, insluitend Engelse kontradans (oftewel ‘Country dancing’), Kadriel-danse, militêre dansgroepe en Kaap-Maleise Kadrieldans-groepe.

Haidee Muller het gaan kers opsteek vir ‘n paar groot langarm-geeste in Worcester en Grabouw, waar langarm uiters gewild was. Sy het ook met ‘n paar ander langarm-liefhebbers gesels oor hoekom hierdie dansvorm hulle so na aan die hart lê.

In dié dokumentêr kyk Haidee Muller na die Geskiedenis van bruinmense se langarm-danse. Hoe het dit ontstaan, wie is daar nog oor? Watter musiek is gespeel en wie was die gewilde dansgroepe wat die musiek gemaak het. Sy bring ook staaltjies uit die dae van ouds.

Uiteraard is daar min van die bands se stigters oor, maar hul kinders bly nog oor om die stories te vertel. Sy het by Nerina Brass se Appolis Familie in Worcester uitgekom en ook Bobby Hendricks, die Koning van Langarm, se familie – ook van Worcester. Sy het ook kinders van die langarm orkesfamilies in Distrik Ses gaan opsoek.

En dan is daar Joey Moses wat nog woon op Uitenhage, hy is al een, sover sy weet, wat nog oor is van die immergewilde Invaders.

“Ons speel van die  snitte en die hoofsaak – ons gesels met die mense,” sê Haidee.

Luister Donderdagaand om 20:00 na Lank lewe Langarm!

Worcester se groot langarm geeste. Van Links: Hennie Issel, Ronnie Apollis, Patsy Lyners, Oom Lool Apollis en Edmund Grove.

‘n Plaatomslag van die Elginaires.

Luister na die vrolike klanke van die langarm dans bands:

Klik hier om te luister na die gewilde snit Mahala.