Luister weer: Eduard Greyling – In Beweging


Donderdag 1 Maart 2018

Eduard Greyling, die eertydse dansmaat van Phyllis Spira, het op 15 Februarie sy 70ste verjaardag gevier. Hy was in die buiteland op verskeie verhoë te sien. In Suid-Afrika is hy ’n ballet-ikoon, bekend vir sy bydrae as danser en resensent. ‘n Dokumentêre program saamgestel deur Johan van Lill.

 

Die inwoners van Germiston kan met trots sê dat hulle Suid-Afrika van een van sy mees invloedryke dansers voorsien het. In die buiteland was Eduard Greyling op verskeie verhoë te sien. In Suid-Afrika is hy ’n ballet-ikoon – bekend vir sy bydrae as danser en resensent. Op die 15de Februarie 2018 het hy sy 70ste verjaardag gevier.

Hy het sy loopbaan in 1967 by die Cape Town City Ballet Company begin. In Februarie 1974 sluit hy as solis by die Nederlandse Nasionale Ballet aan. Hierdie is ’n prominente tydperk in sy internasionale loopbaan en hy het, onder andere, ook by die Old Vic in Londen en die Los Angeles Klassieke Ballet gedans. Hy het verskeie toekennings ontvang, soos die Naomi Press Scenaria-toekenning in 1988 en die Nederburg-toekenning vir Ballet in 1977 en 1983.

Alhoewel Eduard Greyling seker die bekendste is as die jarelange dansmaat van Phyllis Spira, was een van sy eerste dansmaats, Elizabeth Triegaardt, wat vir die hoof van die Universiteit van Kaapstad se balletskool was,’n taai klap van sy dansmaat Elizabeth Triegaardt gekry toe hy haar nie reg neergesit het nie!

Eduard Greyling se motto in die lewe was nog altyd, as jy ’n doel voor oë het, moet jy bereid wees om jouself ten volle in te span. “Elke mylpaal is die begin van ’n volgende strewe en alles word outomaties ’n proses. Jy moet ook genot put uit die proses terwyl ’n groot mate van selfdissipline en geloof in jou agterkop hoort rond te dwaal.

Hy wil nie noodwendig die groter oomblikke bo die ander uitsonder nie. Daar was gelukkig baie. Ek was geïnspireer deur al die mense, regisseurs, choreograwe, onderwysers en dansers met wie ek gewerk het. Elke vertoning was vir my iets besonders omdat dit uniek was”.

Hy was ook dikwels bewus van die droefheid wat die kortstondigheid van elke vertoning kan bring. Op sewentig geniet hy dit nog steeds om nuwe projekte aan te pak. Die omstudering na ’n Benesh choreoloog in Londen en nagraadse studie by Universiteit Kaapstad waar hy ’n M.Mus. (Dans) en D.Mus. verwerf het, was groot oomblikke, maar toe ontdek hy ’n krat vol ou foto’s wat gelei het tot die stigting van ‘n dansargief waaraan hy nog steeds deesdae baie tyd spandeer.

Daar was natuurlik ook kostelike oomblikke gedurende vertonings. Terwyl ons op toer was met Swanemeer het ek die een of ander maagkiem opgedoen en gedurende die vertoning gebraak op Elizabeth Triegaardt se tutu!”