‘n Tsitsikamma bos-belewenis met Heiney Jacobs


Heiney Jacobs. (FOTO: Heilie Combrinck)

Net soos Daleen Matthee die Knysnabosse vir ons oopgeskryf het, só praat Heiney Jacobs, natuurgids van die Tsitsikamma, die bos vir ons oop. Mariska Spoormaker het op die dorpie Stormsrivier saam met Heiney gery om die Tsitsikammabos te verken.  As kind was die Tsitsikammabos Heiney se speelplek, as grootmens is hy opgelei oor al die dinge van die bos en deesdae deel hy sy kennis én sy passie met besoekers.

Luister Donderdagaand om 20:00 na die dokumentêr, saamgestel deur Mariska Spoormaker.

Luister na ‘n uittreksel uit die program:

Luister hier na die volle dokumentêr:

Om die Tsitsikamma-bos met Heiney te beleef

Mariska Spoormaker skryf:

Heiney Jacobs by die boom met (waarlik!) die gesig van n mens. Dit is ‘n Kaapse Hardepeer (Olinia Ventosa) wat nagenoeg 450 jaar oud is. “Die neus, oë en mond is letselweefsel. Die boom moes vroeër jare op die plekke seergekry en dié dikker bas daarom uitgestoot het om die te seël sodat fungi of ander pes nie kon inkom nie.”
FOTO: Heilie Combrinck

Net soos Daleen Matthee  die Knysnabosse vir ons oopgeskryf het, só praat Heiney Jacobs, natuurgids van die Tsitsikamma, die bos vir ons oop.

Só passievol deel hy die Tsitsikammabos en alles wat daarin leef en beef, dat ‘n mens voel jy wil daar jou tentpenne inslaan en nooit weer terugkeer na die stad nie.

Kortweg kan die Tsitsikamma as die plek van baie water en baie boom opgesom word, maar agter dít is daar soveel feite en verhale rondom plant, dier en mens, dat die besoeker se ore kan tuit van oorvertelde kennis.

Maar Heiney neem jou mee op ‘n onvergeetlike bosreis, hy slaan nie dood met ‘n klomp onverteerbare feite nie.

Voortaan sal enige inheemse woud vir my nooit weer “net” ‘n klomp bome bymekaar wees nie. Ek sal wonder oor die ineengeweefde worteltapyt onder my voete, hoe die bome mekaar nie net geanker hou nie, maar ook mekaar waarsku teen blaarvreters. Ek sal wonder watter bome nou alweer knoppies op sy blare uitstoot sodat die insek, wat eiers wou kom lê, sal dink daar is reeds eiers gelê en dan aanbeweeg.Hoe die Willie en Loerie maat roep en waar die bosbok skuil.

Heiney is n natuurgids in diens van Stormsriver Adventures wat dié bosbesoeke in die Tsitsikamma se Plaat- en Gousabos aanbied. Dit word die Woodcutters Journey genoem.

Om die meeste van dié ervaring te maak, het ons eers met Heiney deur Plaatbos op n besigtigingsvragmotor gery. Die roete loop op Thomas Baines (1884) se Stormsrivierpas – ‘n pas wat amper 90% op of langs die ou olifant voetslaanpad deur bos, teen steil krans en oor rivier, gebou is.

Private voertuie word nie op die pas toegelaat nie, maar wel fietsryers, voetslaners en Stormsriver se voertuie.

Een van die vele hoogtepunte op dié roete is die boom met (waarlik!) die gesig van n mens. ‘n Bietjie hartseer uitdrukking, maar tog.

Dit is ‘n Kaapse Hardepeer (Olinia Ventosa) wat nagenoeg 450 jaar oud is, sê Heiney. “Die neus, oë en mond is letselweefsel. Die boom moes vroeër jare op die plekke seergekry en dié dikker bas daarom uitgestoot het om die te seël sodat fungi of ander pes nie kon inkom nie.”

Mariska gesels met Heynie.

Ons vertoef nie te lank by die “menseboom” nie, want vir Heiney is die kuswoud ‘n skatkis vol van inheemse juwele wat hy met die besoeker wil deel. Selfs toe ons al klaar piekniek op die verste punt van hierdie roete gehou en teruggekeer het Stormsrivier toe, het hy sy ryk boskennis bly deel.

Vir dié wat wil voetslaan deur Plaatbos met sy kabbelende stroompies, varing, fynbos en boomreuse, is daar uitgemerkte staproetes van onderskeidelik 8,09km, 7.78km en 5,09km.

Tweede op ons program met Heiney was die Gousa-voetslaanpad (2km) – ook deur inheemse kuswoud. Dis hier waar ‘n mens besef het dat bewaarde inheemse kuswoude soos n graadkursus sonder eindeksamen is, want nóóit sal een men alles kan weet nie.

Die water in die bos is helder en vars. Foto: Heilie Combrinck.

Wat ons wel by Heiney gehoor en nooit sal vergeet nie, is dat die Swarthasselaar (Black Witch Hazel), wat die grootste deel van die onderbos uitmaak, sorg dat die inheemse woud sy grond- en lug vogtigheid behou.

Dít danksy ‘n sponsagtigheid aan die onderkant van die blaar wat waterdamp opvang en die digte bokant van die blaar wat keer dat dit  uit die bos verdamp tydens warmer dagtemperature, verduidelik Heiney.

“Dis hoekom die inheemse bos nie brand nie – danksy die hasselaar wat help keer dat die vogtigheid uit die bos uit verdamp en sorg vir klammigheid in die grond.”

En toe…só suutjies dat ons dit amper gemis het, skuifel die dwergverkleurmannetjie voetjie vir voetjie teen ‘n boomstam uit… die uitroepteken agter ‘n magiese bos-ervaring.

Mariska en Heynie. Foto: Heilie Combrinck.

*Die inheemse kuswoude aan die Suid-Kaap  bied die grootste strook van natuurlike, geslote blaredak bosse in die Suider-Afrika streek. Op die hoogste punte meet die blaredak nagenoeg 27 meter van die grond (met n paar boom-uitskieters tussenin). Altesaam 87 boomsoorte, waaronder die stinkhout, geelhout, witpeer en kersiehout. – Bron: Sanparke

*Woodcutter’s Journey met Heiney Jacobs en die Menseboom, asook kabelgly onder die blaredak van inheemse bome (Canopy Tours): 042 281 1836 www.stormsriver.com

Mariska en Heynie. Foto: Heilie Combrinck